Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Voeding en beenprobleme by groeiende perde

deur Dr Francois van Niekerk (PhD)(Agric)(Pr Sci Nat)

Die ontwikkeling van die skelet by die perd begin reeds in die fetale stadium en hou aan tot ongeveer driejarige ouderdom, wanneer alle epifisiale groeiplate geossifiseer is en geen verdere beengroei meer plaasvind nie.

Ortopediese ontwikkelingsiekte, of DOD soos dit algemeen bekend staan, het 'n multifaktoriale oorsprong wat genetiese faktore, voedingswanbalanse, geïnduseerde trauma van die kraakbeen, konformasiedefekte en omgewingstoestande insluit.

Tydens die perd se vroeë ontwikkeling is daar sogenaamde vensterperiodes waar diere meer vatbaar is vir die siekte. Hierdie fases vind plaas tydens:

Die fetale stadium (laaste trimester van dragtigheid).
Vullens (geboorte tot vyf maande ouderdom).
Speenvullens (ses tot 12 maande).
Jaar-oud perde (13 tot 20 maande).
Jong perde in afrigting (21 tot 30 maande).

Die totale rantsoen van die dragtige merrie, merries met vullens, voeding van lakterende merries, speenvullens asook jaar-oud vullens moet deurgaans gebalanseerd wees ten opsigte van minerale, proteïene en energie-inhoud om optimale beengroei en mineralisasie te verseker.

Tipes ortopediese ontwikkelingsiekte

Epifisitis en metafiseale vergrotings

Word gekenmerk deur 'n vergroting rondom die groeiplate van die distale radius en distale metakarpus.
Osteochondritis dissecans (OKD)

In hierdie geval splinter klein fraksies van die artikulêre kraakbeen af en bly in die gewigskapsule rondbeweeg. Hierdie kraakbeen verbeen en gee later aanleiding tot inflammasie van die sinoviale membraan met gepaardgaande vloeistofvulling van die gewrig.

Subkondrale beensiste

Subkondrale siste kom voor in die dybeen en distale metakarpus in die kootgewrig. Dit kan by jong en ouer perde voorkom.

Osteokondrose (OKD)

Osteokondrose is 'n probleem by groeiende perde waar kraakbeen nie korrek ossifiseer om been te vorm nie. Verharding van kraakbeen vind by die groeiplate in die been plaas. Dele wat algemeen geraak word, is die hakke en kootgewrigte. Die knie-, skouer-, elmboog- en heupgewrigte word nie maklik beïnvloed nie.

Kontraksie van tendons

Baie vullens word met verslapte tendons gebore. Dit vind gewoonlik sekondêr tot osteokondrose of fisites plaas.

Geboë ledemaat-afwykings

Die meeste vullens word koeihakkig of met kapknieë gebore. Terwyl die vul groei, normaliseer hierdie bouvormafwykings en vertoon gewoonlik binne ses weke redelik normaal. Oefening help om hierdie probleme op te los.

Biomeganika: 'n Nuwe perspektief

Meganiese stres veroorsaak heel dikwels kliniese tekens van OKD. Daar word aanvaar dat dit die oorsaak van kraakbeenfragmente in die gewrig is. Trauma en fisieke stres kan aanleiding gee tot die OKD-area. Spesifieke gewrigte het sogenaamde vensterperiodes van sensitiwiteit, waartydens die kraakbeen besonder vatbaar vir beserings is.

Gewoonlik is daar op hierdie punt van ontwikkeling nie genoeg onderliggende been om die gewig en fisieke impak op die gewrig te ondersteun nie. Byvoorbeeld, die agterbene en veral die hakke is die meeste blootgestel tussen die ouderdom van ses tot nege maande.

Vullens met 'n genetiese potensiaal vir vinnige skeletgroei en spierontwikkeling, kan soveel spier ontwikkel dat die skelet dit net nie kan ondersteun nie. Ander vullens raak weer oorgewig wat maak dat die gewrig met massa oorlaai en getraumatiseer word. Op hierdie punt sal konformasiedefekte soos kapknieë, aanleiding gee tot probleme met meganies geïnduseerde epifiseale letsels.

Voeding en DOD

Die totale rantsoen van die dragtige merrie, merries met vullens, voeding van lakterende merries, speenvullens asook jaar-oud vullens, moet deurgaans gebalanseerd wees ten opsigte van die minerale, proteïen en energie om optimale beengroei en mineralisasie te verseker. Die volgende faktore is die grootste bydraende faktore in DOD:
Ongunstige Ca:P-verhouding in rantsoen.

Oormaat Ca-inname.
Oormaat P-inname.
Tekorte aan koper, sink en mangaan.
Oormatige proteïeninname.
Oormatige energie-inname.

Mineraalwanbalanse

Die minerale wat die meeste probleme veroorsaak is 'n oormaat kalsium en fosfaat, lae koperinname en 'n oormaat sink. Oormatige kalsiuminname het 'n antagonistiese invloed op veral die absorpsie van koper en sink vanuit die dermkanaal. Oormatige kalsium word verkry waar diere groot hoeveelhede lusern gevoer word met kalsiumaanvullings. Die Ca:P-verhouding moet altyd so na as moontlik aan 2:1 wees terwyl die minimum voorgestelde innames van die minerale voorsien word.

Van die spoorelemente is lae koperinname van die belangrikste bydraende oorsake van kliniese tekens van DOD. In die meeste gevalle kom 'n swelling van die knie- en kootgewrigte voor. Oormatige sinkinname het tot osteokondrose by vullens aanleiding gegee. Die oormaat sink het 'n baie sterk antagonistiese effek op koper en veroorsaak 'n sistemiese kopertekort. Meer koper in die rantsoen is nie 'n oplossing nie, maar die oormaat sink moet verminder word.

Die melk van merries is laag in meeste van die spoorelemente. Dit word ten sterkste aanbeveel om merries 'n rantsoen met voldoende minerale tydens laat-dragtigheid te voer. Dit het tot gevolg dat die meeste minerale oor die plasenta beweeg en sodoende die lewerreserwes van die fetus opbou. By geboorte hoef die vul nie dadelik aanvulling te kry nie, aangesien hy sy lewerreserwes nou kan benut. Ander minerale soos mangaan, swael en magnesium is ook betrokke by beenvorming en maturasie van kraakbeen.

Oor voeding

Voeding van merries op weiding kan nie maklik beheer word nie. Gedurende die lente styg die proteïeninhoud van die meeste grassoorte tot so hoog as 25%. Dit het tot gevolg dat merries tot 60% en meer bo hulle behoefte aan proteïen kan inneem. Dit stimuleer melkproduksie en gevolglik vulgroei. Hierdie hoë proteïeninname beïnvloed die kalsiummetabolisme en kan aanleiding gee tot kalsiumtekorte by die vul en kan DOD tot gevolg hê.

Diëte wat te veel op graan steun, stimuleer vulgroei as gevolg van die koolhidrate. In baie gevalle is dit die vinnig-groeiende vullens wat DOD ontwikkel. In meeste gevalle het die speenvul of jaar-oud perd 'n fase van vinnige groei deurgemaak. Dit vind veral plaas nadat ongunstige weerstoestande opklaar, soos in die lente. Tydens die koue wintermaande verloor die perd baie energie om homself warm te hou. Met die aanbreek van die lente en warmer weer, word hierdie energie nou in groei geplaas.

Oefening bly belangrik vir jong perde en kan help om van oortollige energie en gewig ontslae te raak. Wanneer 'n jong perd se oefenruimte beperk word as deel van die bestuur van mankheid, moet die graankonsentraat verminder word. Verskaf gedurende hierdie tyd 'n mineraalaanvulling, sodat die perd voldoende minerale inneem.

Een teorie van OCD-ontwikkeling is die sensitiwiteit van kraakbeen vir insulien. Daarom word aanbeveel dat groeiende perde meer dikwels gedurende die dag gevoer word en dat die graanporsies kleiner gemaak word en verdun word met goeie gehalte hooi, bykomende vette, en indien nodig, bykomende chroomaanvullings. Dit verlaag die risiko van beenprobleme dramaties.

Omgewingsinvloed

Omgewingstoestande soos harde grond in kampe, kan die groeiplate aan fisiese en meganiese trauma blootstel. Dit is belangrik om die oefening van geaffekteerde vullens te beperk vir kort periodes. Dit word nie aanbeveel dat vullens vir lang periodes op stal gehou word onder hierdie omstandighede nie, aangesien dit beensterkte sal benadeel. Sorg dat vullens 'n gebalanseerde dieet met genoeg minerale tydens hierdie periode inkry.

Opsomming

Genetiese en verworwe ortopediese afwykings kom redelik algemeen voor by vullens en groeiende perde. Ortopediese ontwikkelingsiekte is die belangrikste oorsaak van konformasie, kosmetiese en funksionele abnormaliteite in jong groeiende perde. Voorkoming deur vroeë diagnose en daadwerklike ingryping om die oorsake van die toestand uit te skakel, kan probleme met DOD suksesvol beheer. Gebalanseerde voerinnames met voldoende minerale is sekerlik die belangrikste voorkomende maatreël teen DOD in die voedingsprogram van die perde-eienaar.

Die skrywer, dr Francois van Niekerk, kan by francois@nubalance.co.za gekontak word.
Besoek ook www.nubalance.co.za vir meer inligting.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.