Petrus en Patches - Die eerste linie
deur Izak Hofmeyr
Petrus Mlhapo is nou 73. Vir die afgelope agt jaar al kom hy en sy werkgewer, Mike Nicolau, ooreen dat hy aan die einde van die jaar sal aftree. Maar elke jaar, as die kalwers begin aankom, dan sê Petrus hulle moet asseblief die aftrede met 'n jaar uitstel, want hy wil darem net eers sien wat hierdie jaar se kalwer-oes maak.
Petrus is 'n veewagter, en hy spandeer seker 'n goeie ses ure per dag op 'n perd se rug terwyl hy tussen die beestroppe deurry om seker te maak alles is wel. En op pad tussen die verskillende troppe, ry hy sommer al die grensheinings ook langs, om te kyk dat daar nie dalk stukkende drade is wat reggemaak moet word nie.
Sy troue vennoot is 'n 13.2 hand hoë bont ponie genaamd Patches. Patches is self al lank in die tand, seker so middel twintig, skat Petrus, maar van werk afskaal is daar nog geen teken nie.
 |
Petrus Mlhapo, professionele veewagter |
Petrus het drie veeperde, so Patches werk nie te hard nie. Dis egter vir haar wat hy opsaal as daar mense plaas toe kom, soos nou die ander dag tydens Mike se besigtigingsdag vóór sy produksieveiling.
Petrus werk nou al die afgelope 25 jaar op die plaas Brakvlei in die Vrede-omgewing, waar Mike en sy vrou Elma, die bekende Elmic Beefmasterstoet bedryf.
Die harde werkers
Mike kan homself nie indink dat hy sy boerdery sou kon bedryf sonder perde nie. In dié opsig is hy nie uniek nie. Daar is baie veeplase waar perde nog 'n integrale deel van die boerdery uitmaak. Wat sy storie egter spesiaal maak, is dat hy, soos die meeste lesers van
SA Horseman, ietwat van 'n perdefanatikus is, en dit is vir hom 'n bron van groot kommer hoeveel veeperde op plase gebruik word sonder dat daar enigsins ag geslaan word op hierdie harde werkers se welsyn.
 |
Sy aan sy – Petrus en Mike sorteer jong
bulle geoormerk vir die
produksieveiling
|
"Dis ongelukkig so dat die vlak van perdebestuur op jou gemiddelde veeplaas in die land maar beroerd is. Boere is baie besig en stel nie noodwendig in perde belang nie. Hulle laat maklik die bestuur van die veeperde in die hande van die veewagters. En baie min veewagters het enigsins opleiding in hoe om perde doeltreffend te bestuur.
"Wat so maklik gebeur, is dat 'n veewagter twee of drie perde kry om mee te werk, maar die een is baie makliker, of ry lekkerder, as die ander. So wat gebeur? Daardie een word dag na dag gery, sonder om ooit ordentlik kans te kry om te herstel. Hy word al maer-der en swakker, terwyl die ander twee in die span nooit werk nie en lekker vet bly."
Dit is eintlik baie jammer, want perde kan 'n baie groot rol speel in die doeltreffende bestuur van 'n veeboerdery, mits daar 'n paar basiese bestuurstrategieë geïmplementeer word.
Bestuurstrategieë
"Daar is doodgewoon nie 'n meer doeltreffende manier om tussen jou vee te kom, as op 'n perd se rug nie. Jy is hoog genoeg bo die gras sodat jy 'n baie goeie uitsig het. Verder beweeg die perd stadig genoeg vir jou om regtig kans te kry om dinge in die veld waar te neem.
"As die vee aan 'n perd gewoond is, is dit 'n baie doeltreffende manier om regtig tussen die beeste in te beweeg en hulle deeglik waar te neem. Op dié manier kan jy diere wat tekens begin toon dat hulle 'n siekte onder lede het, baie gou raaksien en stappe neem voor die siekte momentum kry. Ons spaar so duisende rande aan veeartsenykostes."
Om egter die perd 'n billike kans te gee om sy werk ordentlik te kan doen, sê Mike, is daar 'n paar aspekte waaraan die boer aandag moet gee.
Drie kategorieë
"Jy kan die bestuur van 'n veeperd basies in drie kategorieë indeel, naamlik kos, rus en toerusting. Kos en water is uit die aard van die saak die heel eerste op die lysie, want jy kan tog nie van 'n perd verwag om sy werk te doen as jy darem nie aan sy basiese energie-behoeftes voldoen nie. Dit beteken dat jy darem die een of ander vorm van konsentraat aan die werksperde moet voorsien.
"Dan is dit ook krities dat die perd gereeld ruskans kry. Ek stel aan boere voor om 'n maklike roteringstelsel te gebruik wat ook maklik gemoniteer kan word. As elke veewagter byvoorbeeld drie perde het, merk elke perd met 'n 1, 2 of 3, en reël dat al die perde wat met 'n 1 gemerk is, dieselfde week werk. Volgende week werk al die 2-perde en die week daarna al die 3-perde. 'n Perd is dus een week aan diens en twee weke af, en die boer kan onmiddellik bepaal of die regte perde die regte week werk. Dit maak bestuur baie maklik."
Voedingsaspekte
"Die meeste boere sal gedurende die somer nie hooi aan hulle perde voorsien nie, maar staatmaak op natuurlike weiding. In die winter verander die prentjie heeltemal, want dan moet die perde onbeperkte toegang tot goeie kwaliteit hooi kry, afgesien van die addisionele konsentraat om hulle energievlakke aan te vul.
"Omdat die perd se spysverteringstelsel sensitief is vir veranderinge in hulle rantsoen, is dit beter om altyd maar 'n klein bietjie konsentraat te voer, al is die perd in sy rustydperk. Vermeerder die konsentraat dan geleidelik wanneer hy op diens is."
Hierdie stelsel, sê Mike, hoef nie slaafs gevolg te word nie. Hoe beter die bestuur op 'n plaas, hoe meer kan dit aangepas word, maar dit bied 'n basiese struktuur waarbinne die boer seker kan wees dat geen van sy perde oorwerk word nie.
Toerusting
Die derde kategorie waaraan aandag gegee moet word, is toerusting, en dit sluit spesifiek die saal en stang in waarmee die perde gery word.
"Daar is ongelukkig 'n klomp baie swak saals beskikbaar wat perde seermaak, en wat ook nie lank hou nie. Die basiese vereiste van 'n werksaal is dat dit die ruiter se gewig eweredig oor die perd se rug moet versprei, sonder om drukpunte te veroorsaak.
"Ek vind dat baie van die kommersiële saals wat jy tipies in die koöperasie koop, te smal is oor die perd se kambeen. Dit knyp die blaaie en veroorsaak drukpunte waar die bladbene beweeg. Die gevolg is mank perde en saalsere wat die perd vir lang tye op die krukkelys plaas."
Daar is saalmakers, sê hy, wat spesifiek daarop fokus om goeie, goedkoop veewagtersaals te maak wat juis hierdie probleme aanspreek. Sy boodskap is dus om nie maar sommer net enige saal in die koöperasie te koop nie omdat dit goedkoop is nie, maar eerder met 'n erkende saalmaker kontak te maak en iets te koop wat oor die langtermyn doeltreffend sal wees.
Opleiding
Mike bied opleidingskursusse vir veewagters aan in die doeltreffende bestuur en gebruik van veeperde. Om 'n nuwe veeperd op te lei, verduidelik hy, neem tyd en 'n mate van kundigheid wat nie noodwendig op jou gemiddelde veeplaas beskikbaar is nie. As jy dus 'n span veeperde het, maak dit sin om hulle so goed moontlik op te pas sodat hulle vir baie jare gebruik kan word. Daarmee saam kan die waarde van 'n goeie veewagter nie onderskat word nie.
"Dis die veewagter wat daagliks met die vee in aanraking kom. Dis hy wat hulle gedrag ken, en enige afwyking eerste sal optel. Hoe beter jou veewagter dus opgelei en jou veeperd perd bestuur word, hoe meer doeltreffend kan jy jou boerdery bestuur en hoe minder is jou produksieverliese as gevolg van siektes en beserings."
Akkreditasie
"Dr Danie Odendaal, voorsitter van die Veegesondheids- en Produksiegroep van die SA Veterinêre Vereniging, bied in samewerking met Afrivet 'n Agri SETA-geakkrediteerde veewagter-opleidingskursus aan waar hulle geleer word om siek diere vroeg te identifiseer, sodat stappe betyds geneem kan word.
"Die kursus duur 'n dag en word in die taal van die spesifieke streek aangebied. Wat ons nou wil doen is om ons veeperd-opleidingskursus hiermee te kombineer, sodat die veewagter oor twee dae opleiding in siekte-identifisering asook perdebestuur kry."
Die eerste linie
Dit is 'n groot jammerte, sê Mike, dat veewagters op plase nie 'n hoër status het nie. Hulle is per slot van rekening die boer se eerste linie van verdediging teen produksieverliese. Hulle behoort eintlik die hoogste status op 'n plaas te hê. En saam met hulle, ook hulle veeperde.
Terwyl ek saam met Petrus tussen 'n troppie koeie inry, vra ek hom wat sy planne nou is met sy aftrede. Hy kyk dié kant toe na waar 'n spesifieke koei skielik sy oog vang. Patches kry 'n onsigbare boodskap en draai in die rigting van die koei. Petrus kyk sy kyk en kom dan weer in my rigting aangery.
"Nee," sê hy gewigtig, "as Patches gaan, dan dink ek gaan ek saam met haar."
Skakel Mike Nicolau op 082 789 2803 en dr Danie Odendaal op 082 454 0532 vir meer inligting omtrent die veewagter- en veeperd-opleidingskursus.
|