Dis heerlike lente! deur Paul van Dam
D is weer lente, en vir enige perdemens die mooiste tyd van die jaar. Die vullens waarna 'n mens so lank uitgesien het, word uiteindelik gebore! En daarmee saam is dit natuurlik ook tyd om die planne wat jy gemaak het oor watter hings om by jou beste merries gebruik, uit te voer.
Onnodige inmenging
Dis belangrik om die geboorteproses so natuurlik as moontlik te laat gebeur. Moenie inmeng as dit nie absoluut noodsaaklik is nie. Hou haar gerus dop en kyk veral na hoe gereeld sy aktief druk. As dit lyk of sy moeg word, kan jy help deur die vul saggies te trek, maar dit sal bykans nooit nodig wees nie, omdat merries bykans altyd self die vul uitgedruk kry.
Hoewel daar nog baie vrae is oor waarom sommige merries hul vullens weggooi, is daar tog aanduidings dat inmenging deur mense tydens geboorte 'n bydraende faktor kan wees. Dis 'n uitdaging om vullens met 'n bottel groot te maak (veral die opstaan elke twee ure deur die nag is nie lekker nie!) en 'n mens wil graag hê die merrie moet dit self doen!
Navorsing het bepaal dat vullens wat kort ná geboorte deur mense hanteer word, en veral dié wat deur mense gehelp word om die merrie se uier te vind, meer geneig is om later, wanneer 'n mens begin met afrigting, moeilik is. Daarom is dit belangrik dat 'n mens die vul sovêr moontlik los om self die spene te vind. Die meeste kry dit goed reg. En die merries help! Een van my merries het so ver gegaan om haar agterbeen dwars op te tel om dit vir die vul makliker te maak.
Pynlike uiers
Soms is die merrie se uier te vol en is dit vir haar ongemaklik en seer as die vul suip. In so 'n geval kan jy jou veearts vra om die merrie 'n ligte kalmering te gee, wat dit vir haar meer draaglik sal maak. Jy kan ook die merrie vashou om te voorkom dat sy die vul byt of wegstamp. As dit nie help nie, kan jy probeer om van die melk uit te melk, om so die drukking in die uier wat die pyn veroorsaak, minder te maak.
Dit is dan belangrik dat jy die melk in 'n bottel gegooi word en dat die vul dit drink. 'n Gewone bababottel, met een van die platterige spene wat glo ontwerp is om te keer dat die baba te veel winde sluk, werk baie goed. Die eerste melk, of biesmelk, bevat teenliggame teen verskeie siektes en dis belangrik dat die vul dit inkry om weerstand teen siektes te kry.
Indien jou merrie al oud is en jy graag nog 'n vul van haar wil teel, is dit beter om haar weer by die hings te sit wanneer sy die eerste keer op hitte kom. Dis gewoonlik ongeveer 'n week ná die vul se geboorte (die sogenaamde 'vul-hitte'). Hoe langer 'n mens wag, hoe groter is die kans dat sy nie weer gaan vat nie. Ander merries word gedek op die volgende hitte ná die vul-hitte (ongeveer 'n maand ná die vul se geboorte).
Hitte en dektyd
Moenie die merrie te veel keer deur die hings laat dek nie. Elke keer wanneer die hings dek, dra hy bakterieë in die merrie se geslagstelsel in, en is daar 'n risiko dat sy 'n baarmoederinfeksie gaan opdoen. Die ideaal is om die merrie deur 'n veearts te laat ondersoek (met ultraklank) om te bepaal wanneer die ideale tyd is om haar te laat dek. Indien dit nie moontlik is nie, dek haar op die derde dag van haar hitte, en weer twee dae later as sy steeds op hitte is.
Mag vir jou die mooiste vul, net reg vir die doel waarvoor jy hom/haar wil gebruik, vanjaar gebore word!
|