Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Fritz se Karoorit

deur Albert Vorster

'n Week op die langpad is voorwaar verrykend. Ek sou dit vir elke beginner aanbeveel, eerder as om sy tyd te mors om 30 of 60 km te ry, want daardeur leer jy eintlik niks van die langpad nie. 'n Dag in die saal saam met ou hande, is baie werd as jy bereid is om te kyk en te luister.

Tydens Fauresmith 2010 vra ek vir Fritz Breytenbach wanneer hy vir ons 'n rit gaan reël. Toe hy my hier rondom Augustus bel en vertel hy wil van Montagu tot by Prins Albert ry, was ek nie so seker van myself nie. Maar toe wil die mense mos weet te vertel dat ons dit nie sal maak nie. Sê wie?

Laat in November saal ek, Fritz Breytenbach, Jacques Augustyn, sy seun Berto (Ceres tot Kuruman met twee perde), Boetie Adendorf (op Fritz se hings), Sakkie Joubert met sy twee wit perde, Stennes van Geems en Nico Nel agt perde op in die straat voor Tim Alston se huis in Montagu en ry deur die dorp asof ons dit pas verower het.

Pa en seun: Jacques Augustyn op Naseeba
Farees en Berto op Hamdan

Die volgende dag sluit nog twee ruiters by ons aan – Fritz se dogter, Hester Smit, en Terry Vorster met hul bakkiebestuurder, Tanja Linstroom. Onder aanvoering van tannie Louise Breytenbach vertrek die bakkies met die horseboxes (Leteli Nel sê dit is 'sleepstalle' in Afrikaans). Dan volg Lisbé Joubert, Anandi van Rooyen, Wilma Augustyn en laastens baas-kok en storieverteller van die Weskus, Wynand Fourie.

Die roete

Die eerste been was tot net voor Ouberg waar ons brunch. En toe volg 'n paar kwaai opdraandes. Wat weet 'n Noord-Kapenaar nou van berge te perd? So een-uur die middag bereik ons ons oornag-staanplek op die plaas, Bylshoek. Dit was 'n kort skof, so 36 km, maar 'n moeilike een.

Die volgende oggend stop ons vir innerlike versterking waar die pad vurk na Barrydale. My perd, Frans, trap met sy linker-vooryster in die jakkalsproefdraad waar ek hom vasgemaak het. Frits fluit saggies en Frans wag dat sy yster losgehaak word. Tien uit tien, my perd! Was dit 'n dorpsperd, was die yster af en die hoef happe uitgeskeur.

Die skof is omtrent 44 km lank en ons kom die middag so teen twee-uur op die geskiedkundige plaas, Sewefontein, aan. Dis hier waar Gideon Scheepers, bevelvoerder van generaal De Wet se verkennerskorps, deur simpatieke Kolonialers verpleeg en weggesteek is gedurende Jan Smuts se inval in die Kaapkolonie. Die gewonde Scheepers het later in die Britte se hande geval en is op Matjiesfontein verhoor en tereggestel.

My ander maat, Frans

Fritz het gereël dat ek die rit op een van sy deelsgeteelde perde sal ry. Frans is 75% Arabier en 25% Saalperd. Hy is vernoem na ons oorlede vriend, Frans de Jager. Ses jaar oud en 'n lekker perd met sy hele toekoms voor hom.
Die middag voor ons vertrek maak ek met Frans kennis toe Fritz my teen die berg op neem. Ek het gou agter gekom dat Frans nog net 'n volger is; geneig om as hy agter raak, die teuels uit jou hande te ruk deur sy kop te laat sak en dan te draf om op te vang. Uit sy kinderlike onkunde.

Sy fondasie is egter goed gelê en die opdraandes het hom sterk gemaak. Ons het gou gekliek en ek het presies geweet op watter stan-daard hy is en wat ek kon verwag. Algaande het Frans ingestem om my simpatieke hande en bene sal luister en dat ek sy leermeester is.

Die oggend van die tweede dag het ek vir Fritz gevra of hy sal omgee as ek die vet trens kan vervang met 'n rubber-Pelham en dubbelteuels, sodat ek 'n meer doeltreffende halfhalt kan uitoefen, sy weerstand kan omsit in 'n bate en ons nie heeltyd hoef te veg nie. Wonderlik! Binne 'n halfuur ry hy met 'n lekker nat bek. Hy vra voor en ek gee. Dan sak die kop, die treë word algaande langer. Ek is in die wolke en Frans is verbaas dat ek hom sy sin gee.
Ons doen laterale buiging, wissel die diagonale en kry 'n lekker suiwer vorentoe-beweging. Frans leer mooi en ná 320 km is hy die vinnigste stapper in die groep. Reguit, suiwer, met 'n gemaklike, soepel, vrye beweging. Sy gallop is nog lank, maar gemaklik. Soos die cowboys van ouds sou sê: "A mile-eating canter".

Op die pad tussen Laingsburg en Ladismith is daar dooie kolle waar geen windjie trek nie. Bitter warm, maar dis 'n redelike maklike been. Ons oornag by die Buffelspoort Natuurreservaat. Pragtig.

'n Lang skof

Dinsdag, 28 November. Ons gee elke 10 km water. Middagete na 40 km. Toe vat ons kortpad en ry so 15 km deur die veld. Kry 'n padpredikant met drie arms wat wys 'Huis toe', 'Poort toe' en 'Moer toe'. Ons vat laasgenoemde, so 'n sandsloot vir 'n paadjie.

By Wagendrift word ons verras met 'n luukse lodge. Swembad. Weelde van 'n bed en eie badkamer. Veilige krale vir ons perde en 'n aanvulling van eerstegraadse Karoolusern!

Die Buffelsrivier is te gevaarlik by die Ou Drif. Ons ry 'n stukkie teerpad en draai weer in die rigting van Jeremia en Johanna Crafford se plaas, waar ons met boeregasvryheid bedien word. Jeremia begelei ons borsdiepte deur die eerste 500 meter of so van die rivier om die deurgaanplekke te wys. Die perde loop plek-plek pensdiepte deur die sterk stroom. Ons moes die rivier omtrent elf keer deurkruis om ryplek te kry. Ons slaap die nag op die plaas, Kareefontein.

Hekkies en bulte

Die volgende dag is bult op en bult af, al met die stofpad aan vir so 42 km. Baie hekke, tot op die plaas Staanleegte van Bertus en Christa Mans. Parallel met die Swartberge aan ons suidekant, ons sien Gamkapoort waar die Gamka ('groot leeumannetjie') deur die berge vloei. Later kruis ons 'n sytak van die Gamka, die Dwyka ('groot leeuwyfie') waar ons perde lekker drink.

Ons saal af op Botterkraal, 'n onbewoonde opstal langs die Prins Albert-teerpad, so 25 km uit die dorp. Een windpomp werk. Die wind waai goed en ons maak ons kanne vol vir volgende dag. Ek slaap onder 'n boom saam met die pofaddersleepsel wat gelukkig, volgens die stokkies se lê, wegbeweeg het van die werf.

Laaste skof

Ons ry so 10 km langs die teerpad. Dis sleg en gevaarlik. Draai af by die plaas Kruidfontein. Plaaspaaie langs, tot by die gasteplaas, Abrahamskraal. Daar is 'n lekker saal met stortgeriewe en 'n yskas. By die eienaar, Johan Fourie, koop ons lekker Karootjops en koedoewors vir ons laaste aand saam.

Nico Nel lei die aandgodsdiens. Ons lees die vlamme en almal wag vir my om namens hulle vir Fritz dankie te sê. Na 320 km saam op 'n perd se rug, het ons vas aanmekaar gegroei. Met 72 winters agter die rug, is Frits so taai soos 'n ratel. 'n Horseman in murg en been. Ons salueer jou vir wat jy vir ons jonger ruiters doen en beteken. Gaan voort en bestuif ander met die liefde vir die langpad, my vriend.

Die ruiters (vlnr): Terry Vorster, Hester Smit, Sakkie Joubert, Jacques Augustyn, Albert Vorster, Fritz Breytenbach, Nico Nel, Anandi van Rooyen. Voor sit Berto Augustyn en Boetie Adendorf

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.