Fauresmith 2011
deur Paul van Dam (Alle foto's deur Leana Erasmus)
SIEN FOTO'S ONDER AAND ARTIKEL
In Julie 2011 het die uithouritgemeenskap se aandag weer gefokus op die jaarlikse Nasionale Uithouritkampioenskappe op Fauresmith. Dit is en bly een van die grootste gebeurtenisse op die uithouritkalender. Niemand praat meer van die 'nasionale kampioenskappe' nie; nee, almal hulle praat net van 'Fauresmith'.
Voorrit-ondersoeke
Ook die uithouritveeartse sien uit na Fauresmith en wil graag soontoe gaan. Dis natuurlik nie moontlik vir alle uithouritveeartse om by Fauresmith te gaan diens doen nie; die span wat daar werk, is gewoonlik tussen 20 en 22 sterk. Vanjaar was daar 21 veeartse betrokke: drie het as behandelingsveeartse diens gedoen, een het permanent op die baan tussen die perde rondbeweeg en die ander sewentien het die onderskeie kontrolepunte beman.
Ongeveer 390 perde is by die voorrit-ondersoek aangebied. Hierdie ondersoek vind plaas die Maandag voordat die rit begin, om seker te maak dat die perde geskik is om die volgende dag met die rit te begin. Perde wat tydens hierdie ondersoek een of ander probleem toon, word na 'n tweede span veeartse gestuur wat 'n meer volledige ondersoek doen saam met 'n hoefsmid en perde-
fisioterapeut om só dubbel seker te maak of die perd kan wegspring of nie.
Vanjaar was die algemene kondisie en voorbereiding van die perde wat vir die voorondersoek aangebied is, beter as ooit. Bitter min perde is vir 'n tweede opinie verwys en uiteindelik het 384 perde die ondersoek geslaag.
Kontrolepunte
Die rit word oor drie dae afgelê. Op die eerste en tweede dag lê ruiter en perde 74,2 km per dag af, verdeel in drie skofte. Op die derde en laaste dag word 52 km, verdeel in twee skofte, afgelê. Ná elke skof is daar 'n kontrolepunt. Hier word ruiters en helpers 'n maksimum van twintig minute gegun om die perde af te koel en voor te berei vir die veeartsondersoek.
Elke perd word by elke kontrolepunt ondersoek. Hier kyk veeartse eers of die perde metabolies nog goed funksioneer. Sou die veearts 'n probleem identifiseer, word 'n tweede veearts ingeroep om ook 'n opinie te gee. Die veeartse besluit dan saam of die perd geskik is om verder te gaan of nie. Die perde word ook voor die veeartse uitgedraf om seker te maak dat daar nie 'n besering is wat dit vir die perd onmoontlik sal maak om aan te gaan nie. Indien die veearts 'n probleem vind, word 'n paneel van drie veeartse geroep wat die perd laat draf. Elkeen stem dan onafhanklik (op 'n stembriefie) of die perd mag aangaan of nie.
Daar om te help
Veeartse word dikwels deur ruiters as 'n struikelblok gesien en soms word hulle daarvoor blameer dat 'n perd nie die rit mag voltooi nie. Die waarheid is egter dat die veeartse graag wou sien dat elke perd wat die rit begin, ook die rit voltooi.
Veeartse is daar om ruiters raad en hulp te gee waar hulle kan. Maar hulle is ook die stem waarmee die perd tydens 'n rit praat . Perde kan nie self vir hul ruiters sê dat hulle pyn het of ongemaklik voel nie. Dit is daarom die veearts se plig om elke perd deeglik te ondersoek om seker te maak dat daar nie 'n klein probleempie is wat dalk later groot word en die perd se lewe in gevaar gaan stel nie.
By elke kontrolepunt is daar 'n behandelingsveearts. Perde wat ongeskik bevind word om verder te gaan, kan dan na hierdie veeartse geneem word vir verdere ondersoek en, indien nodig, behandeling ontvang. Natuurlik is dieselfde veearts ook daar om enige noodgevalle te behandel. Hiervan was daar gelukkig nie baie nie. By die ritbasis op die Fauresmith skougronde is daar 'n goed-toegeruste kliniek waar perde behandel en onder observasie gehou kan word.
Probleemgevalle
Van die perde wat behandel is, was slegs 21 behandel vir metaboliese probleme. Dis verblydend, omdat dit die gevalle is waar die perd se lewe meer in gevaar is. Van hierdie het 'n aantal asoturie gehad. Dis die sogenaamde Maandagmôresiekte wat perde kry wanneer hulle te veel energie opbou deur te veel voeding, en te min oefening. Dit gebeur telkens by groot ritte, waar die oefenprogram van perde afgeskaal word en voeding dikwels toeneem. Sulke gevalle word gewoonlik vroeg (op die eerste skof) gesien.
Slegs drie perde het tekens van uitputting getoon. Wat veral verblydend was, was dat daar slegs een koliekgeval was. Uitputting, wat lei tot dermstilstand, tel as een van die oorsake van koliek. Dis vir ons 'n goeie maatstaf dat die veeartse wat die perde by elke kontrolepunt ondersoek het, hul goed van hul taak gekwyt het en seker gemaak het dat die perde wat uitgeput sou raak, nie toegelaat is om verder te gaan nie.
Met 'n baie nat somer, en laat reëns in die Fauresmith-omge-wing, was die baan vanjaar sagter as gewoonlik. Voorheen was mank-hede gewoonlik die gevolg van konkussie-verwante probleme (met ander woorde, probleme wat veroorsaak is deur die herhaaldelike stamp van die hoewe op die harde oppervlakte van die baan). Dis gewoonlik probleme soos gekneusde sole en beserings aan die balle van die hiel, en dan ook probleme met die kootgewrig.
Vanjaar, met die sagter baan, was daar minder sulke probleme, maar meer probleme met spierpese. Dit stem ooreen met die feit dat die baan sagter was, en op plekke 'n sagte bolaag gehad het waarin perde se hoewe dieper intrap.
Goeie voorbereiding
Die eerste indrukke wat ons tydens die voorritondersoek gevorm het (dat perde goed voorberei was), is tydens die rit bevestig. Samewerking tussen ruiters en veeartse was uitstekend en oor die algemeen het die perde het die rit goed hanteer, en minder perde het uitgeval as in vorige jare. Uiteindelik het 243 van die 384 perde wat weggespring het, of 62%, die rit voltooi. Dis aansienlik beter as die vorige jaar en ons hoop die tendens sal voortduur.
Namens die veeartspaneel 'n woord van geluk aan die kategoriewenners en 'n besondere woord van geluk aan die ruiters wie se perde in elke kategorie die toekenning vir die 'beste voorbereide perd' gewen het. Dis iets om op trots te wees!
(Dr Paul van Dam is hoofveearts van die SA Uithouritvereniging)
Vanjaar se wenners
Kinderafdeling
1. Altus Mostert op Salvan Ibn Aman.
2. Andries Swart op El-Nize Elcarush.
3. Drihan Nell op Benlarich Dakar.
Jongruiterafdeling
1. Dick Kruger op Rommel.
2. Alecia Fourie op Rohan Fire.
3. Anje Jansen van Rensburg op Rocky.
Senior liggewigafdeling
1. Suzanne van Deemter op Gijima.
2. Louise Jordaan op Al Mu'Barak Shaikh.
3. Jackie Joubert op Sanniesguns Magical Dancer.
Senior swaargewigafdeling
1. Lucas Fourie op Shaküra.
2. Johann Nieuwoudt op Vonk.
3. Johann Basson op Janor Sagir.
Senior standaardgewigafdeling
1. Corné Fick op Powerade.
2. Wian Vosloo op Rocket.
3. Simoné Swart op Ramon Nelson.
Die spankompetisie
Jongruiterafdeling
1. ERASA.
2. ERASA Ontwikkelingspan.
3. Oos-Kaap.
Senior liggewig
1. ERASA.
2. Mpumalanga/Gauteng.
3. Noord-Gauteng.
Senior swaargewig
1. ERASA.
2. Vrystaat.
3. Wes-Kaap.
Senior standaardgewig
1. Noord-Kaap.
2. ERASA.
3. Mpumalanga/Gauteng.
Bes-voorbereide perde
• Kinderafdeling: El-Nize Elcarush
(Andries Swart).
• Jongruiterafdeling: Rohan Fire (Alecia Fourie).
• Senior liggewig: Al Mu'Barak Shaikh (Louise Jordaan).
• Senior swaargewig: Tamara Desert Moon (Fanie Bronkhorst).
• Senior standaardgewig: Waterlea Potomac (Viola-Marie Raubenheimer).
• Beste van die bes-voorbereide perd: Al Mu'Barak Shaikh (Louise Jordaan).
Baie geluk aan al vanjaar se wenners en geluk ook aan ieder en elk wat deelgeneem het!

|