Die jong perdemeester (Deel 8)
- Vreemde perdegedrag
deur Elna Wahl, Mooikrans Equus
Was jy al dronkgeslaan deur jou perd se skielike, vreemde gedrag? Adriaan neem al die afgelope vier jaar aan elke denkbare springkompetisie deel met sy perd, Victor, en vaar baie goed. 'n Paar maande gelede weier Victor skielik om oor die eerste pale te gaan en Adriaan word gediskwalifiseer.
Schalk neem deel aan 'n uithouwedren en alles verloop goed. Toe hy die volgende dag op sy perd wil klim, gooi die perd hom af. Gisela se perd, Starlight, weier op 'n dag om gelei te word. Starlight staan doodstil, maar kan wel van agter aangejaag word. Op 'n uithourit gaan alles goed met Francois en sy perd, Flikker, tot so twee-uur die middag. Toe is Flikker onmoontlik!
Op Mooikrans is Zulu almal se witbroodjie en almal wil altyd op hom ry omdat hy so gehoorsaam is. Zulu is afgerig in die cowboy-rystyl en ken 'n klomp toertjies wat hy alte graag voor ons gaste uitvoer. Hy doen sypasse, gaan lê op die grond sodat jy kan opklim, drink Coke uit 'n blikkie, eet sy ruiter se toebroodjies op 'n voldaguitrit en doen enigiets om mense te vermaak. Maar op 'n dag is hy onmoontlik in die arena met 'n beginnerruitertjie wat kom leer perdry. Hy staan botstil en wil-wil sy voorpote lig. Hoekom?
Kyk eerste na die ruiter
'n Goeie perdemeester weet 'n mens moet die fout altyd eerste by die ruiter soek om die vreemde gedrag van sy perd te verklaar. Kom ons kyk eerste na Victor.
Net voordat Adriaan en Victor sou opgaan, het ek gesien dat 'n vreemde persoon aan Victor se toom vat. Agterna het hierdie persoon Victor se kenketting op maksimum styf getrek. Dit het soveel pyn veroorsaak, dat hy geweier het om te spring.
Schalk se perd het gedurende die uitrit 'n rugwerwel verskuif. Die volgende dag was sy rug styf en gevoelig en toe Schalk op hom klim, was dit net een te veel. Die terapeut kon dit gelukkig maklik regstel.
Gisela het Starlight altyd met 'n trens gery. Dit is 'n baie sagte gebit in sagte hande, maar kan baie seer maak as dit verkeerd gebruik word. Wat Gisela nie geweet het nie, is dat Starlight een van die min perde is met 'n baie lae verhemelte. Wanneer Starlight aan die toom gelei word, knyp die trens die verhemelte vas en veroorsaak baie pyn. Die oplossing was om vir Starlight 'n reguit balk in te sit.
Dries se perd, Flikker, het gedurende die rit 'n saalseer ontwikkel weens 'n saal wat sleg op sy rug gepas het. Dit druk gewoonlik op een plek, die hare word afgeskuur en later word die boonste lagie van die vel afgeskuur. Dan kom sweet in hierdie oop wond en die perd is skielik onplesierig.
En Zulu?
Op Mooikrans hanteer ons ons perde volgens die beginsels van perdgerigte ruiterskap, of natural horsemanship. Ons sit druk op die perd sit wanneer ons reaksie verwag en verminder druk wanneer die perd reageer soos ons van hom verwag. Die perde leer gou wat elke beweging beteken. Druk jy met jou kuite teen die perd se ribbes en hou jou toom effens vorentoe, is dit die natuurlike aanduiding dat jy vorentoe wil beweeg. Ons ruitertjie op Zulu het gedink die toom is die vashouplek aan die perd. Wanneer hy vorentoe wil beweeg, stamp hy met sy hakke teen Zulu se ribbes, maar trek terselfdertyd die toom met albei hande so styf vas as wat hy kan. Dit beteken toe vir Zulu stop en ry tegelyk!
Zulu is Mooikrans se grapmaker. Hy is uitstekend geskool en afgerig, maar dink soms die snaaksste grappies uit. Die mooiste om te sien is hoe hy die ander perde namaak. John-John se agterpoot was eenkeer verstuit en Zulu het vir dae agter hom aan gehinkepink. Toe die merries gevul het, het Zulu gemaak of hy ook 'n vulletjie het. Hy het dierbare proesgeluidjies gemaak nes 'n merrie wat haar vulletjie roep. Lees meer oor Zulu op www.mooikrans.co.za.
Daar is ook onverklaarbare redes waarom perde eienaardig optree. Romeo het vir jare op sy gemak verby die windpomp op die plaas gery. Eendag het hy hom so oorhoeks geskrik vir die windpomp, dat ons gedink het hy gaan 'n koliekaanval kry.
Wanneer jou perd vreemde gedrag toon, moet jy eers alles nagaan wat moontlik verkeerd kan wees, voordat jy vir jou perd kwaad word. Onthou dat 'n pak slae nie sal help om stoutigheid by jou perd reg te stel nie.
Skryf aan my en vertel van vreemde gedrag van jou perd.
My e-posadres is elna@mooikrans.co.za
|