Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Beskerming teen die inteelduiwel

deur Izak Hofmeyr

'n Ras is basies 'n groep diere wat volgens dieselfde standaarde geteel word en tot 'n mate geneties aan mekaar verwant is.

In Suid-Afrika, sê Charl Hunlun van SA Stamboek, bestaan daar etlike inheemse rasse wat in wêreldterme 'n baie beperkte bevolking het. Die telersgenootskappe van sodanige rasse het 'n baie groot verantwoordelikheid om die voortbestaan van hierdie rasse te verseker, maar ook om seker te maak dat die vlakke van inteling in die ras nie so hoog raak, dat die ras begin stagneer nie.

"Veral by inheemse rasse is daar 'n delikate balans tussen dit wat oorspronklik tot die totstandkoming van die ras gelei het, en die hedendaagse eise wat die mark aan die ras stel. Die moderne perdemark is feitlik in die geheel op sport ingestel. Telersgenootskappe moet deeglik hiermee rekening hou in die formulering van hulle teelbeleid, maar hulle mag nooit die oorspronklike rasstandaarde, wat die kern van die ras vorm, uit die oog verloor nie."

"Ons moet onthou," verduidelik hy verder, "suiwer teling in 'n ras is in effek inteling, omdat alle diere in 'n ras eintlik aan mekaar verwant is, al is dit dertig geslagte gelede. Alle diere in 'n ras stam tog immers van 'n spesifieke groepie basisdiere af waaruit die ras tot stand gekom het."

Drie evalueringsvlakke

Inteling, verduidelik hy, moet op drie vlakke geëvalueer word, naamlik in rasverband, in kuddeverband of ten opsigte van 'n individuele dier.

"Dit gaan eerder oor die tempo waarteen die vlakke van inteling in 'n ras verhoog. As jy 'n 10% styging in inteling kry oor 'n tydperk van vyftig of 'n honderd jaar, is dit nie 'n groot probleem nie. As jy egter 'n 10% styging in inteling kry binne 'n tydperk van tien jaar, gaan die gevaarligte aan, want dit impliseer 'n styging van 1% per jaar."
Wat individuele diere betref, is inteling maklik om te bestuur. As die dier ongewenste eienskappe dra wat weens inteling in sy genetika vasgelê is, word hy of sy doodgewoon uitgeskot. As hy of sy aan die ander kant baie goeie eienskappe dra, moet die teler net seker maak dat parings met ander diere gedoen word wat so min moontlik aan hom verwant is.

"Op kuddevlak is die probleem ook redelik maklik om te bestuur deur doodgewoon hingste te bekom wat nie na aan jou merriekudde verwant is nie. Noukeurige paringsbeplanning sal hierdie probleem dus grootliks oplos.

Inheemse genetika

"Inteling op rasvlak is egter nie so maklik om op te los nie, veral as die ras ter sprake op 'n spesifieke plek ontstaan het, gebonde is tot daardie plek en nie toegang tot genetika in enige ander land in die wêreld het nie. Die afgeleide term uit die Grieks vir so 'n ras is 'outochtoon' oftewel inheems.

Een van die heel belangrikste maatreëls om die bedreiging van inteling in so 'n ras die hoof te bied, is om onverwante genetika op 'n beheerde manier die ras in te bring en dan streng vir gewenste eienskappe te selekteer, maar net so streng téén ongewenste eienskappe te selekteer.

"Een van die beperkings wat telers van klein inheemse rasse ondervind, is die genetiese variasie om vir spesifieke eienskappe te selekteer wat nie noodwendig algemeen in die ras voorkom nie. Hierdie benadering, om genetika van buite af in te bring, bied ook 'n oplossing vir hierdie beperking."

Die volgende noodsaaklike stap is natuurlik om spesifieke rasse of diere te identifiseer om in so 'n program te gebruik. Met die geïdentifiseerde diere uit hierdie ander ras of rasse word daar dan basisdiere geteel, waarvan die nageslag eers in die hulpstamboek en ten slotte in die hoofstamboek opgeneem kan word. So 'n proses gaan gewoonlik ook met streng keuring gepaard en dra die goedkeuring van die betrokke telersgenootskap.

Korrekte seleksie

"Die gevaar van so 'n opgraderingsprogram is natuurlik dat jy hingste maklik onoordeelkundig kan gebruik," waarsku Charl. "As gewilde hingste byvoorbeeld baie gebruik word, mag hul direkte nageslag dalk reeds baie naby verwant wees aan die ander perde in die ras en die opvolgende geslag sal nóg nader verwant wees, sodat jy in effek maar net die inteling met 'n generasie of twee uitgestel het.

"Dit is daarom noodsaaklik dat die betrokke genootskap 'n baie doelgerigte poging van stapel stuur om 'n groep van onverwante of dan minder verwante voortreflike hingste in die ras te identifiseer en dan alles moontlik doen om die gebruik van hierdie hingste, nie net in die opgraderingsprogram nie, maar ook in die res van die ras, in 'n gestruktureerde stelsel aan te moedig."

Intelingsdepressie

Een van die groot probleme met inteling is dat dit veroorsaak dat 'n spesifieke tipe baie duidelik na vore kom, dat daardie tipe toe- nemend nagejaag word en dat die vlakke van inteling in die ras in die proses verhoog. Ander probleme kom dan toenemend na vore. Die term hiervoor is 'intelingsdepressie' en beskryf die perd se vermoë om te oorleef.

Voorbeelde van intelingsdepressie is gebrekkige gesondheid en konstitusie, onvermoë om as werksdiere aangewend te word, verswakking van beweging, verlies aan grootte en afname in vrugbaarheid.

"Een van die ander kenmerke van inteling is die verhoogde erf-dwang wat dit meebring. So kan dit gebeur dat jy 'n uitsonderlike hings teel wat baie sterk ingeteel is. So 'n hings beskik gewoonlik oor die vermoë om sy stempel baie duidelik op sy nageslag af te druk. As dit die regte eienskappe is, word so 'n hings gou baie gewild. Daardie hings word dan so wyd gebruik, dat jy die vlakke van inteling in die ras baie vinnig verhoog, sodat jy later so min genetiese variasie het, dat jy nie eintlik meer daar uit kan kom nie."

Ligging van telers

Ligging en afstand van ander telers kan ook 'n belangrike rol speel om inteling in 'n spesifieke gebied onaanvaarbaar vinnig te laat styg: "Daar is twee faktore wat hier 'n rol kan speel. Eerstens, in 'n klein ras, is die kanse baie goed dat die perde in 'n gebied in elk geval redelik na aan mekaar verwant is. As daar dan 'n spesifieke hings in die gebied is wat baie gewild is, kan dit baie maklik veroorsaak dat hy in daardie gebied oorgebruik word en die genetiese variasie in die gebied al kleiner raak.

"Veral vir kleiner telers, en in Suid-Afrika is daar regtig baie min groot telers, kan die kostes om nou toegang tot onverwante hingste uit 'n ander gebied te kry, net te hoog raak."

Sikliese paring

Daar is gelukkig baie doeltreffende maniere om inteling die hoof te bied. Die eerste is die inbring van onverwante genetika, soos reeds bespreek. Die tweede is 'n stelsel van sikliese paring. Die bevolking binne 'n ras word volgens 'n sikliese paringstelsel in families ingedeel, op die basis dat die diere binne een familie 'n lae verwantskap toon met die diere binne 'n ander familie. Hoe meer sulke families jy kan kry, hoe beter.

"Hierdie families kan, vir praktiese redes, ook op grond van geografiese oorwegings in plaas van verwantskap ingedeel word. Om sikliese parings toe te pas, sou beteken dat 'n familie slegs voortref-like hingste volgens 'n plan uit 'n spesifieke ander familie gebruik.

"Die rigting van rotasie word dan beplan. So sal, as daar byvoorbeeld vyf families is, merries uit familie A altyd deur hingste uit familie B gedek word, merries uit familie B altyd deur hingste uit familie C, merries uit familie C altyd deur hingste uit familie D, ensovoorts. Op hierdie manier word inteling tot 'n baie groot mate vertraag."

Meer inligting

SA Stamboek lewer 'n paringsbeplanningsdiens aan lede van telersgenootskappe. Telers word genooi om met Charl in verbinding te tree as hulle van hierdie diens gebruik maak. Skakel 051 410 0900.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.