Afgeval,
seergekry, opgeklim,
weer gery
by Vicki Fourie

Hulle sê dat as 'n mens drie keer van 'n perd afgeval het, sal dit nooit weer gebeur nie. Ek is nie heeltemal seker of 'n mens dit moet glo nie. Dit was nog altyd my missie om statistiek – selfs mense en hul eie menings – verkeerd te bewys. Hier is twee voorbeelde: Met ballet kon ek nie die klank hoor nie, maar ek het 'uitstekend' gevaar in die eksamen. Met drama het ek internasionaal teen horendes gekompeteer, al is daar gesê ek sou nie eens kon leer praat nie.
Daar's 'n eerste keer vir alles, en ek glo die status quo is daar om jou in die gesig te staar en te vra: Wat gaan jy doen omtrent jou uitdaging? Dit is nie daar om vir jou te sê wat jy nie kan doen nie. Dit is eintlik daar om jou te motiveer om ander verkeerd te bewys. Verras die wêreld en jy sal besef hoe groot jy eintlik kan droom.
Buite beheer
Die eerste keer toe ek van 'n perd afgeval het, was ek skoon verras. Dit het my heeltemal onkant betrap. My ballet-agtergrond het vir my goeie balans en statuur gegee, maar hierdie keer het dit nie gehelp nie. Toe ek vir my perdryles opdaag, het my afrigter vol selfvertroue aangekondig: "Vandag gaan jy leer hoe om sonder 'n saal op 'n perd te ry!"
Ek het op die bruin Appaloosa se rug geklim en rustig begin stap – sonder die leersaal. Dit het snaaks en vreemd gevoel. Vir die eerste keer het ek 'n fyn gevoel gekry van hoe die perd se rug onder my bene vorentoe beweeg. Alles het heel goed verloop. Ek het begin ontspan, totdat my afrigter vir my gesê het: "Nou gaan jy begin draf!"
Ek het onmiddellik buite beheer gevoel. My balans het te ver vorentoe en agtertoe begin val soos wat die perd 'gehop' het, en ek met my bene geknyp om my balans te hou. Skielik onthou ek die raad wat my pa my eenkeer gegee het: "As jy ooit voel jy gaan afval, spring dadelik af."
Die groot val
En toe … toe val ek af! Ek het op my linkersy geland en dadelik na die kant gerol sodat die perd nie op my kon trap nie. Sommer dadelik – soos 'n regte soldaat – het ek opgespring en vir my afrigter gesê: "Ek makeer niks. Ek het nie seer gekry nie. Kan ek weer probeer?"
Hy het my 'n bietjie agterdogtig aangekyk:
"Is jy seker jy is oraait?" "Ja! Ek gaan dit regkry." "Nou maar goed dan. Probeer maar weer."
Ek het weer opgeklim en met die perd gestap. Ná 'n ruk het ek weer begin draf. Weer het ek afgeval, hierdie keer sommer dadelik. Ek het weer gerol en opgestaan. Dié keer het ek die pyn in my linkersy so effens begin voel.
Vasberade om te leer hoe om 'n perd sonder 'n saal te bemeester, het ek weer opgeklim. Gestap. Gedraf. En weer afgeval.
"My hemel! Dit is nou drie keer ná mekaar wat ek van hierdie perd afgeval het! Wat gaan aan?" het ek vir my afrigter, maar meer vir myself ook gesê. Hoekom kry ek dit nie reg nie?
Die les
'n Paar jaar later kry ek my antwoord, interessant genoeg nie terwyl ek perdry nie. Ek was besig met 'n bruidskou in 'n winkelsentrum in Bloemfontein. Alles het mooi verloop, totdat ek die tweedelaaste wit rok vertoon.
Net toe ek van die verhoog af wil stap, het my voete onder my ingegee en ek het kliphard op my sy geval. Dadelik – alles te danke aan die drie oefenlopies jare vantevore – het ek, sonder om eers te dink, na die kant van die verhoog gerol sodat die skare my nie kon sien val nie.
Dit is wat ek geleer het: Dit is nie genoeg om te weet hoe om te ry nie; jy moet ook weet hoe om te val. Partymaal probeer jy mense verkeerd bewys, maar dan val jy hard op jou sy of boude. Jou trots word seergemaak, en jou drome verpletter. Soms is dit goed om te probeer, maar soms is dit ook goed om 'n les te leer: Staan op; probeer weer!
(Vicki was Mej Dowe Suid-Afrika 2009/2010 en Mej Dowe Internasionaal 2010 Eerste Prinses. Sy het in Julie weer aan Mej Dowe Wêreld deelgeneem.)
|