|
As ma het ek my verlustig in die ongekompliseerde grootword van my kinders op ons pragtige plaas, tussen ons pragtige perde. As ouma het ek die Here gedank vir al hierdie jare se voorbereiding toe ek my eie, dierbare Down-sindroom kleindogtertjie, Elri, vir die eerste keer op my jarelange terapieperdjie, Rofti, getel het.
Perdgefasiliteerde psigoterapie maak -gebruik van die perd as hulpmiddel in die terapeut-kliënt verhouding. Nie noodwendig die ryproses as sulks nie, maar ook die perd self en al die aktiwiteite rondom perde, skep die geleentheid vir 'n optimale terapeut-kliënt verhouding.
Pasiënte wat moeilik in 'n spreekkamersituasie respondeer, is hier meer ontspanne en emosies, gevoelens en gedagtes kom makliker tot uiting. Perdondersteunde terapie skep ook vir die tiener die geleentheid om in 'n -veilige opset (waar hy/sy nie bedreig voel nie) sy -gevoelens van vrees, angstigheid, onbeholpenheid en twyfelmoedigheid te hanteer.
Kinders met emosionele probleme beleef hul wêreld baie negatief en is dikwels negatief ingestel teenoor volwassenes. Die perd met sy mistieke bekoring vir elke kind, is hier 'n -wonderlike hulpmiddel.
Wanneer die tiener aan die perd bekend gestel word, dwing die perd onmiddellik eise op die kind af. Hy kan nie anders as om te antwoord op die gevoel van bekoring, ontsag, bewondering en toegeneentheid wat spontaan in hom opwel nie. Sy selfgesentreerde -gedagtes waarin hy so vasgevang sit, verskuif van -homself en fokus op die perd.
Selftrots
Die bemeestering van vaardighede soos om self jou perd op te saal en te versorg, skep 'n gevoel van selftrots, eiewaarde en verowering van die onbekende. Geen wonder dat elkeen, na 'n paar dae op Mooikrans Equus, soos 'n koning op sy perd sit wanneer hy op die wye velde van die Hoëveld ry nie.
Om 'n wonderlike vakansie vir een persoon by Mooikrans Equus naby Amersfoort te wen, SMS die woord "PERD" tesame met jou naam, posadres en telefoonnommer voor 15 Oktober 2009 na 34995. SMS'e kos R2.
|