|
Elke jaar ry honderde mense uithouritte met een doel voor oë – om vir die wêreld-be-roemde Fauresmith te kan -kwalifiseer. Dit is ’n groot -finansiële uitgawe, maar die liefde tussen ruiter en perd oorskadu enige negatiewe eienskappe.
Hierdie jaar was dit dieselfde rit, dieselfde baan, maar met ’n bietjie skop. 'n Nuwe tydhoustelsel het hierdie jaar in werking getree. Waar ’n ruiter se tyd oor drie dae bymekaar gevoeg is, en ’n wenner daarna bepaal is, is die vinnigste ruiter in elke kategorie soggens eerste laat wegspring met ’n -kenmerkende ligte kleur--bippie. Hierdie stelsel was eers 'n kommer vir veearts en tydhouer, maar op die ou end het dit seepglad -verloop.
Hoofveearts, Henk Basson, was verheug oor die kwaliteit veeartse, hulle gesindheid en samewerking. Hy voel die kameraadskap van veeartse en die goeie weer het baie -bygedra tot die gesindheid van die ruiters.
Hierdie jaar was daar nie een ernstige perdebesering nie. Alhoewel Henk die -leisels aan ’n baie bekwame dr Paul van Dam oorhandig, sal hy steeds betrokke wees. -Miskien nie by die veeartspunt nie, maar by sy seuns se perde en sy gesin.
Wenners ... en wenners
Op die laaste dag was die atmosfeer elektries. Almal het die ooste dopgehou. Wie gaan eerste oor die bult kom? En toe begin die trane loop. Corné Fick en JD Venter het saam hulle verskyning gemaak, maar by die terreinhek het JD skielik tot stilstand gekom – Sweero het eers gehuiwer, maar toe kom hulle huis toe! Alhoewel Corné Fick eerste oor die lyn en die algehele wenner was, was dit JD en Sweero wat die vinnigste tyd -opgestel het.
Die Springbokruiter, Lizelle de Bruin van Louwna, bou al die afgelope ses jaar aan Ridasa Brenda, ’n merrie wat deur die le-gendariese Jacob Hayward geteel is. In hulle opbou tot Fauresmith, het Brenda egter vir Lizelle paar keer laat grond koop. Lizelle was bang dat dit tydens die rit weer gaan -gebeur en dis hoe Corné Fick, 'n vorige wenner van Fauresmith en vriend van die De Bruin--familie, in die prentjie gekom het.
Van die begin af het Brenda mooi kop -gehou. Corné se oordeelkundige ryvermoë en perdekennis het Brenda lag-lag oor die berge huis toe gebring. Die laaste dag was Brenda selfs sterker as die vorige dae, en -nadat sy voltooi het, het dit gelyk of sy nie eers moeg was nie. Juis daarom is sy toe-kennings ingeryg: Algehele wenner, bes-voorbereide perd in al die kategorieë, met ander woorde, die beste van die beste.
En wat sê Lizelle, wat hierdie glorie op Brenda aan Corné oorgegee het? "Ek het dit geweet. Sy was reg. Dit was haar tyd!”
Algeheel vinnigste tyd
Die afgelope jaar het ’n nuwe klub hulle -potensiaal gewys. Die Stella Klub in die Noordwes-provinsie het die toekenning gekry vir die klub wat die beste presteer het, deur die spankompetisie met 26 ure 21 min teen al die spanne in alle kategorieë gewen.
Een spesifieke ruiter van die Stella Klub het vir hope opwinding gesorg. JD Venter met sy nuwelingperd, die nege-jarige Sweero (skaars drie ritte van 80 km voltooi) het ongelooflik gevaar. Die weer, voel JD, het 'n groot rol in sy sukses gespeel. Noordwes is maar warm en plat. Die berge hier by Fauries was 'n uit-daging, maar JD het sy kop gebruik. Teen kwaai steiltes het hy langs Sweero uitgehardloop.
Die laaste oggend het JD en Corné saam weggespring, maar JD kon voel Sweero is effens tammerig. Corné het vir JD en Sweero tot op die einde gemotiveer en bygestaan, iets waaroor JD innig dankbaar is. Vir die toekennings waarmee hy en Sweero weggestap het, naamlik junior wenner, algehele beste tyd, en bes-voorbereide perd in die junior afdeling, is hy sy pa en broer net so dankbaar, vir al die ure wat hulle ingesit het terwyl op skool was.
Sy tyd? Agt ure en ses minute.
|