|
Piet Serdyn se gees en talente is diep gewortel in die eerste helfte van die vorige eeu, toe die trekperd- en muiltradisie nog hoogty gevier het in ons land, maar veral in die Wes- en Suid-Kaap.
Die hoefslae van muile en kar- en waperde, was vir lank deel van ook sý daaglikse omgewing in die Swartlandse graanlandskap.
Dit is hiér, op sy geboorteplaas, Kleinkarnmelksvlei, tussen Moorreesburg en Gouda, dat hierdie formidabele karakter in die plaaslike trekperdwêreld steeds woon en werskaf deur perderytuie te herstel en restoureer, en om imposante replikas van dié erfstukke te bou.
Die meeste van sy werksure gaan in die maak van wawiele in. Dan weer sit hy af dorp toe na sy werkswinkel, waar die een of ander skeppingswerk uit toevoegings van sy eie konsepte besig is om vorm aan te neem. Sekerlik die mees unieke rytuig wat hy nog gebou het, is dié van 'n indrukwekkende kano-landau – 'n koets met wit leerbekleedsel, die mooiste fraiings en twee outentieke lampies vooraan.
"Mense besef nie die hoë koste verbonde aan die restourering of bou van hierdie tipe rytuie nie," sê Piet. "Dit het nie minder nie as 200 uur gekos om hierdie koets te maak. As ek mense vir betaling moet vra volgens die hoeveelheid tyd wat op elke rytuig bestee word, raak dit 'n uiters duur storie."
'n Liefde vir Vlaamperde
Op mooiweer Saterdae, is hierdie landau sekerlik een van die gesogste koetse in die Boland waarmee bruide kerk toe gery word– getrek deur sy gitswart SA Vlaamperde. Dit is hierdie inheemse ras wat hy en sy boesemvriend van destyds – wyle Bertus Smith van Vondeling in die Agter-Paarl – meer as 'n kwarteeu gelede van ondergang help red het.
'n Telersgenootskap ter handhawing en uitbouing van die ras is in 1983 in die lewe geroep – 'n organisasie waarvan hy feitlik deurgaans die voorsitter was. Piet beklemtoon dat die Vlaamperd nie net uit die Friesperd stam nie. Hierdie ras het sy ontstaan gehad deur die kruising van die sogenaamde Hantamperde van destyds, Friesperde uit Nederland en die ingevoerde Oos-Fries/Oldenburgerhings, genaamd Kemp. Ander rasse, soos die Cleveland Bays, het ook 'n rol in sy ontwikkeling gespeel.
Dit was onder Piet se leiding dat die nasionale kampioenskappe van hierdie ras, wat jaarliks op sy tuisdorp gehou word, 'n trotse juweel in die skatkis van die trekperdbedryf in geheel geword het. Hierdie Moorreesburger het in werklikheid so saam met skoue grootgeword, as koetsier en vertoner die hoogste louere behaal, en is steeds 'n bekende beoordelaar van trekperde.
'n Tradisie van muile
Hy gesels met trots oor sy selfgemaakte landau en gesels dan oor sy verlede: "Die beskeie huisie wat so eenkant staan, was waar Pa Frikkie en Ma Miemie destyds gewoon het en waarin ook ek gebore is – 'n jaar of wat nadat die eerste skote in die Tweede Wêreldoorlog begin rammel het."
Pa Frikkie was 'n muilman by uitstek en het sedert 1928 met sy "boere-esels" op jaarlikse boeresportdae in Bridgetown teen die muile van omliggende plase voor 'n wa meegeding. Sy skoumuile het hy van sover as die Vrystaat bekom. Toe sy pa in 1980 van sy laaste muile ontslae geraak het, was Piet lankal reeds selfs 'n meester in die dryfkuns.
Bridgetown sal altyd 'n ereplek in sy lewe beklee, vertel hy: "Dis na die plaasskooltjie hier dat Pa my op my eerste skooldag met 'n paar karperde geneem het. Dit was 'n voorreg wat my egter slegs een dag beskore was. Van toe af moes ek vir etlike jare een van my susters en twee niggies met die eenperdekar skool toe vervoer. Gelukkig was dit 'n Vlaamperdmerrie, Gladys."
Veel later het sy pa vir hom twee afstammelinge van die beroemde hings, Orlando, gekoop – die reuns De Wet en Maritz. Hulle het van toe af die kinders skool toe vervoer en was ook twee top ryperde.
Wamaker-wortels
Op weeksdae, wanneer hy moes wag dat sy suster die hoër standerds se lesse moes neem, het hy gereeld gaan inloer by wyle oom Klaas Louw se wamakery en ook gesien hoe Chrisjan Skilder, soos hierdie werker van oom Klaas genoem is, die perderytuie beskilder. Hierdie was inderdaad die begin van sy liefde vir die nering wat hy tans met oorgawe doen.
Sy eintlike leermeester was egter wyle Faan du Toit wat op Hooikraal geboer en self oor 'n span van agt perde beskik het. "Oom Faan het in 'n stadium omtrent al die skoukarre en muilwaens van die Bolandse boere reggemaak … totdat hy op 'n dag per ongeluk vier van sy vingertoppe afgesaag het. Dis toe dat ek genader is om hom te gaan uithelp", sê Piet.
Mettertyd het die mense al hoe meer Kleinkarnmelksvlei se "wamaker" om hulp genader wanneer hulle perdekarre en waens op die een of ander wyse die gees gegee het.
Volgens hom besef mense nie dat daar nie meer die nodige vakmanvaardigheid in die land bestaan om sekere komponente van rytuie te vervaardig of te vervang nie. In die meeste gevalle moet hy en sy hulp, Maans Boois, maar inspring en ván dit self skep. Boonop het sekere houtsoorte skaars en duur begin word.
Piet sê een van die byna onmoontlikste take wat aan hom opgedra was, was toe hy deur die museum op Calvinia genader is om 'n ou skotskar uit talle losstaande stukke op te bou. "Dis is in nie minder nie as 55 stukke hier by my afgelaai. Dit het omtrent kopkrap gekos om dié 'legkaart' aanmekaar te sit!" vertel hy.
Een van die bekendste take wat in die jongste verlede aan hom opgedra was, was die restourering van Wessel Swart van Bredasdorp se poniewa. Die een wawiel se speke het begin disintegreer en het tydens die plaaslike skou tot groot konsternasie gelei, toe die bus en naaf die gees gee. Hierdie belangrike komponent moes Piet toe uit hout vervaardig.
As daar een ding is waaroor Piet vandag werklik spyt is, is dat hy nooit geleer het om swepe te maak nie. Sy oupa was immers 'n sweepmaker. "Dit was dalk by hom dat ek as kind 'n teësin daarin ontwikkel het. Terwyl hy aan die vleg was, moes ek gereeld al die los riempies uitsorteer wat ondertoe gehang het. Hierdie taak was in daardie stadium net te sieldodend vir my!" erken Piet.
"Tog was hierdie onwilligheid van destyds by my dalk 'n bedekte seën. Die joppie waarmee ek nou byna voltyds besig is, is beslis tydrowend. So saam met die boerdery van destyds en die opofferinge en mededingendheid wat skoue verg, sou vroulief Fienie en die drie kinders se geduld sekerlik lankal opgeraak het indien ek nóg 'n perde-aktiwiteit probeer bemeester het."
|