Die meeste van ons bewonder perde vir hulle natuurlike grasie en edelheid. Dis waarom ons naby hulle wil wees, en met hulle wil werk. Dis egter in hierdie nabywees dat probleme gewoonlik ontstaan, want dis so maklik om die perd in menslike terme te sien, en sy gedrag te beoordeel op grond van hoe mense die wêreld sien.
So, as 'n perd weghardloop, byt of bok, dan is ons interpretasie van daardie gedrag gewoonlik in terme van "die perd is stout" of "die perd hou nie van my nie". Soos jy egter die perd se gedrag begin verstaan, sien jy daardie natuurlike reaksie van perde vir wat dit is – natuurlike reaksies.
Dis egter interessant dat, namate mens meer begin verstaan hoe die perd die wêreld sien, word die perd se "onaanvaarbare" gedrag al minder omdat jy toenemend situasies begin vermy waarin die perd 'n kans het om die onaanvaarbare gedrag te openbaar.
Antropomorfisme – om menslike eienskappe aan 'n dier toe te dig – is seker een van die heel grootste struikelblokke in die pad van 'n gesonde verhouding met jou perd. Die feit is dat perde anders is as mense, en nie soos mense kán dink nie. Dis vir ons om die aanpassing te maak, en te leer hoe om soos 'n perd te dink.
So, wat beteken dit om soos 'n perd te dink?
Die belangrikste is sekerlik dat jy in die proses daardie kleinood wat jou in die eerste plek na perde aantrek – sy gees – sal respekteer en bewaar. Daarmee saam sal dit jou in staat stel om meer doeltreffend met jou perd te kommunikeer in terme wat hy verstaan. Perde is as 'n reël gewillige diere wat graag wil saamwerk. As hulle ontspanne is en verstaan wat van hulle verwag word, is jou kanse op sukses baie beter.
Hoe meer jy binne sy natuurlike verwysingsraamwerk werk, hoe meer ontspanne sal hy wees, en hoe meer sal sy selfvertroue groei. Dit alles maak dit dan ook makliker om jóú doelwitte te bereik. Maar die heel belangrikste vir my, is dat die tyd wat ek het om met my perde besig te wees, kwaliteit tyd sal wees. Vir my beteken dit in die eerste plek harmonie.
Twee mense wat 'n baie groot invloed op my het, het elkeen 'n sêding wat my bybly. Die een is dat die perd sy gees as geskenk in jou hande plaas, en dis in jou mag om daardie gees stukkend te druk of te koester. Die ander een wys daarop dat mens so maklik die perd vir mislukking opstel deur iets van hom te vra wat onredelik is, of deur aan te hou totdat die perd dit verkeerd doen.
Dis waarom ek glo dat die ernstige ruiter en perdeliefhebber se primêre taak is om meer en meer te leer om soos 'n perd te dink. Dis waarop harmonie berus.