|
Fauresmith – jy is seker jy het die naam van die dorp al iewers gehoor. Is dit omdat dit een van drie dorpe in die wêreld is waar die treinspoor in die middel van die hoofstraat loop? Of omdat dit die tweede-oudste dorp in die Vrystaat is, en so ampertjies die hoofstad geword het? Amper klink ook nie na ’n goeie rede nie!
Die enigste rede wat oorbly, is dat dit die plek is waar perdesport se jaarlikse nasionale uithouritkampioenskappe aangebied word! Ruiters en perde spook dit oor drie dae uit om nie net gekroon te word as die nasionale kampioene nie, maar ook om die rit te kan klaarmaak – dis nie verniet dat die uithouritters praat van “to finish is to win” nie!
Die kategorieë
’n Totale afstand van 201 km word afgelê – 74 km elk op dag een en twee, en 52 km op die derde dag. Ruiters neem deel in verskeie kategorieë. Kinders (van 10 tot 13 jaar), juniors (van 14 tot 17 jaar) en seniors (18 jaar oud en ouer). Seniors word verder ook ingedeel volgens die ruiters se gewig: Lig (tot onder 73 kg), standaard (73 tot onder 95 kg) en swaar (95 kg en swaarder). Mens sou kon aflei dat standaard (of “normale”?) mense tussen 73 en 94 kg moet weeg – jammer vir die riempies en dikkes!
Die indiwiduele kompetisie is van groot belang, maar daar is ook ’n spankompetisie in drie verskillende kategorieë. In die senior en junior kategorieë ding inter-uniespanne teen die spanne van die verskillende unies (of streke) mee, terwyl die onderskeie unies ook onderling met swaargewigspanne teen mekaar meeding.
Onder die juniors het die inter-unie (oftewel Erasa) se span geseëvier. Onder die seniors was dit die Noord-Kaapspan (wat die Erasa-span heeltyd in die tweede plek gehou het) en onder die swaargewigte, was dit weer eens die Noord-Kaap wat geseëvier het.
Ander toekennings
Die "Spirit of Endurance" trofee, toegeken aan 'n ruiter wat die kameraderie wat eie is aan die sport versinnebeeld, is toegeken aan Mary-Anne Moorcroft van die Oos-Kaap. Mary-Anne, een van die kleinste en ligste ruiters wat deelgeneem het, het afgeklim om Fritz Breytenbach te help nadat hy afgeval en vir 'n kort tydjie buite weste was.
Ruiterskaptrofees is ook toegeken aan ruiters wat hulle perde uitstekend versorg, self netjies vertoon en as ruiters uitstaan. Vanjaar het SA Horseman hierdie pryse geborg. Wenners van die toekennings was Hendrik van Romburgh (kind), Annerien Pieterse (junior) en Jacques Swart (senior).
Die oudste ruiter wat die rit voltooi het was, vir die vierde agtereenvolgende jaar, oom Ami de Wet (nou 70 jaar oud), en die oudste perd die 17-jarige Appaloosa, Alpha Flintham, gery deur Claire Amm.
In beide die senior en junior kategorie, word 'n ruiter van die jaar aangewys. Vanjaar was dit Stephanus Lombaard (senior) en Lanel van Niewenhuizen (junior) wat hierdie eer te beurt geval het.
Erkenning word ook aan die teler van die jaar gegee, en vanjaar was dit Hannes de Wet van die Jozami Stoet wat met hierdie trofee weggeloop het.
Hier volg die wenners van die ander kategorieë: Kind – Roodt van Zyl op Schakker; Junior – JD Venter op Slimmer; Liggewig – Sascha Burke op Desperado; Swaargewig – Jaques Swart op El Nize Ali; Standaardgewig – Hannelie Fourie op Idaho Prins.
Die uitsonderlike gees wat by hierdie kampioenskappe heers, bly 'n belewenis – geen ruiter kan ooit sê dat hy 'n "uithouritter" is as hy nie Fauresmith se rit aangepak en voltooi het nie!
|