|
Gedragsprobleme of -afwykings is daardie gedrag of gewoontes wat 'n perd toon, wat onaanvaarbaar is vir mense, nadelig vir die perd kan wees of somtyds selfs gevaarlik vir perd en mens kan wees.
Dit is belangrik om na die oorsaak te soek wanneer hierdie probleme aangespreek word. Dit kan fisiologies of psigologies van aard wees. Die meeste gedragsprobleme, indien vanuit die perd se oogpunt beskou, is maniere om hom te help om sy lot in die lewe te hanteer – amper soos oorlewingsmeganismes.
Ongelukkig kan die wortel van baie van hierdie onaanvaarbare en selfs neurotiese gedrag, na die perd se behandeling aan die hande van mense teruggevoer word – die manier en toestande waarin die perd aangehou word, onsimpatieke en onkundige hantering, of wrede en brutale afrigtingsmetodes.
Gelukkig is daar vandag 'n groeiende bewuswording onder perdeliefhebbers dat daar sagter, meer natuurlike en gevolglik meer doeltreffende metodes is om perde af te rig, asook die wete dat dit belangrik is om 'n perd in 'n natuurlike, meer perd-vriendelike en stimulerende omgewing aan te hou. Desnieteenstaande is gedragsprobleme en -afwykings steeds volop en is dit nodig om daaraan aandag te gee, maar dit is ewe belangrik dat daar na die oorsake gesoek word.
Daar is baie tipes gedragsprobleme (of ten minste dit wat mense as probleme beskou, maar wat die perd as doodnatuurlik beskou). Daar is ook 'n baie fyn en redelik onduidelike skeidslyn tussen probleem- of afwykende gedrag en normale, aanvaarbare perdegedrag. So is skop en byt heeltemal natuurlike en normale perdegedrag, maar die situasie sal bepaal of dit deur mense as 'n probleem beskou word.
Neem skop as 'n voorbeeld: Wanneer 'n perd na 'n vlieg skop is dit aanvaarbaar; selfs wanneer hy in die kamp na 'n ander perd skop word dit as normaal beskou. Wanneer hy onder saal na 'n ander perd skop, begin dit 'n probleem raak, en wanneer hy na 'n mens skop, is dit onmiddellik 'n groot probleem.
Daar is sekere gedragsprobleme wat by perde geïdentifiseer is en as sulks beskou word. Hulle kan in twee kategorieë verdeel word, naamlik stalprobleme en probleme onder saal.
In hierdie artikel kyk ons na 'n paar stalprobleme (dit sluit baie klein kampies in). Die oorgrootte meerderheid van hierdie gedragsafwykings, is 'n direkte gevolg van die perd se stalomstandighede en aanhoudingstoestande, en word meestal deur verveling en frustrasie veroorsaak. Dit is 'n direkte gevolg van 'n omgewing wat die perd geensins verstandelik stimuleer nie. Die perd begin afwykende gedrag toon om homself besig te hou en te probeer oorleef.
Kripbyt en windsluk
Hierdie gedrag manifesteer wanneer 'n perd op iets afbyt (kripbyt), soos 'n staldeur of paalheining. Die spiere aan die onderkant van die nek trek saam en sluit die larinks in posisie. Lug trek in die slukderm in, wat die perd dan insluk of toelaat om weer uit te vloei. Dit gaan gepaard met die kenmerkende klank van iemand wat 'n wind opbreek. Hierdie gewoonte kan inmeng met die perd se verteringsproses en kan selfs koliek veroorsaak. Die perd se tande word oor die lang termyn beskadig en kan erg afgeslyt word.
Windsluk is wanneer die perd die nodige spiere saamtrek om lug te sluk, sonder om aan iets vas te byt. Perde met enige van hierdie gedragsafwykings sukkel gewoonlik om gewig op te tel, is kieskeurige en onstabiele eters, en kan geneig wees tot koliek. Die spiere aan die onderkant van die nek is gewoonlik oorontwikkel, wat dit moeilik maak om die perd in 'n behoorlike raam te laat werk. In Duitsland is beide kripbyt en windsluk gedragsafwykings wat volgens wet bekend gemaak moet word wanneer so 'n perd te koop aangebied word.
Navorsing het getoon dat kripbyt en windsluk gewoonlik by die mees intelligente, asook fynbesnaarde perde voorkom wat vir lang tydperke op stal of in baie klein kampies aangehou word sonder genoegsame ruvoer. Perde se verteringstelsels is van so 'n aard, dat die perd veronderstel is om klein hoeveelhede kos, feitlik konstant te eet.
Om 'n perd dit te ontneem en hom in 'n klein kampie of stal toe te sluit sonder enige gras, forseer hom om maniere te vind om die hol kol op sy maag te vul. Met geen fisiese of psigiese stimulasie nie, begin hy om aan enige oppervlak te lek, kou en byt, en vandaar kom hy vinnig agter dat as hy wind sluk, dit hom iets gee om te doen en dit hom laat "vol" voel.
Sommige mense glo selfs dat dit die gevolg is van onnatuurlike voeding, soos suiker. Nadat hy suiker geëet het, mag die perd begin om sy voerbak, die muur van die stal, ensovoorts te lek. Hulle glo dat dit eindelik daartoe kan lei dat die perd sy kakebeen sluit en begin lug sluk.
Dit blyk ook dat die aksie sekere endorfiene (hormone wat pyn verlig en 'n gevoel van welsyn bevorder) in die brein vrystel. Die perd word dan "verslaaf" aan hierdie endorfiene. Daar is ook bevind dat hierdie gedrag "aansteeklik" is. Perde in 'n stal langs 'n kripbyter, mag die gedrag naboots en later self daarmee begin.
Daar is baie maniere om kripbyt te beheer, soos keelbande, muilbande, en selfs om die oppervlaktes waaraan die perd vasbyt met onsmaaklike goed soos teer of aalwynsap (daar is ander kommersiële middele op die mark spesifiek hiervoor) te verf of dit selfs te elektrifiseer. Ongelukkig is geen van hierdie metodes egter 'n permanente oplossing nie. Die oomblik dat dit verwyder word, gaan die perd terug na sy ou gedrag. Wat windsluk betref, is al hierdie metodes in elk geval heeltemal ondoeltreffend.
Die enigste manier om die probleem te verlig, is om die perd minimum geleentheid te gee om hierdie gedrag te beoefen. Hou hom gestimuleer en besig, en hou sy omgewing stresvry. Hou perde vir so kort moontlik op stal; laat hulle in groot kampe wei, verkieslik met ander perde vir geselskap. Geëlektrifiseerde kampheinings is 'n goeie idee, veral in die geval van kripbyters. Maak seker dat die perde altyd gras tot hulle beskikking het (beide in kampe as daar nie weiding is nie en op stal) om hulle besig en hulle pense vol te hou.
Stalmure moet glad wees, sonder enige oppervlaktes vir die perd om aan vas te byt. Voer die perd sy konsentraat in 'n plastiekbak en verwyder dit as hy klaar is. Dit is nie 'n goeie idee om bodeure die hele tyd toe te hou nie, aangesien dit die perd van stimulasie ontneem. 'n Ketting wat oor die deuropening gespan is, pleks van 'n deur, verrig dikwels wondere, aangesien dit nie vir die perd maklik is om daaraan vas te byt nie. Balle en ander speelgoed kan ook help om verveling te verlig.
Die laaste, pemanente kuur is chirurgie. Die spiere in die nek en keel wat gebruik word om wind te sluk, word aan die onderkant van die nek, naby die keel, gesny. Dit mag wel 'n lelike "breek" in die onderlyn van die nek laat. Hierdie is 'n drastiese en duur oplossing, maar is meestal permanent.
Kouers
Hierdie is 'n probleem wanneer perde alles wat hulle sien en mee in kontak kom, stukkend kou en byt. Dit is veral 'n probleem met perde wat in houtstalle gehuisves word, asook in kampe met houtheinings. Ek is seker almal van ons is welbekend met die gesig van gesplinterde en gebreekte houtheinings, staldeure en selfs die mure tussen stalle. Ek het selfs al perde gesien wat baksteenmure vreet! Dit is nie net onooglik en irriterend nie, maar kan mens duur te staan kom.
Hierdie probleem word dikwels geassosieer met jong perde wat tande wissel, maar indien dit nie op daardie ouderdom aangespreek word nie, kan dit 'n permanente gedragsprobleem word.
Die hooffaktor hier is weer eens verveling by veral perde wat langdurig op stal of in klein, kaal kampies aangehou word, sonder geselskap en genoegsame ruvoer. Hierdie vretery sluit ook perde in wat hulle beddegoed, mis of grond vreet. Hulle vreet selfs aan mure en lek vloere. Hierdie gedrag is gewoonlik weens 'n sout- of mineraletekort.
So 'n oormatige gevretery kan slyting op die tande en tandvleise veroorsaak, asook die moontlikheid dat splinters in die lippe, bek of tong kan vassteek of selfs ingesluk word. Geverfde pale kan veroorsaak dat die perd verf inneem, en alhoewel min kommersieel beskikbare verwe vandag lood bevat, is daar steeds gifstowwe in wat skadelik kan wees.
Eerstens, soos met meeste stalprobleme, is dit belangrik dat die perd nie vir lang tydperke ononderbroke op stal gehou word nie. Gun die perd die vryheid van 'n kamp, verkieslik met weiding en ander perde vir geselskap. Indien dit onmoontlik is, maak ten minste seker dat die perd altyd hooi beskikbaar het om hom besig en vol te hou.
Elektriese of metaalheinings sal verseker dat hy dit nie kan vreet nie. Heinings, deure en houtmure kan behandel word met teer, aalwynsap en verskeie ander produkte om dit vir die perd onaangenaam te maak om daaraan te kou, maar dit moet gereeld gedoen word om doeltreffend te wees.
Soms is die oplossing so maklik as om 'n boomtak (maak seker dit is 'n nie-giftige boom) in sy kamp of stal te sit, waaraan hy mag kou om homself besig te hou. Balle en ander speelgoed sal help om hom te stimuleer. Maak seker dat hy 'n sout- en mineraal-lek tot sy beskikking het.
In uiterste gevalle kan die perd gemuilband word, maar dit is drasties en sal weer eens nie die probleem oplos nie. Dit kan lei tot 'n meer gefrustreerde perd wat hom tot ander neurotiese gedrag wend.
Byt na verbygangers
Wanneer 'n mens of selfs 'n ander perd by die staldeur verbyloop, storm die inwoner na die deur met platgetrekte ore en knersende tande, gereed om die verbyganger ernstige leed aan te doen. Hierdie is aggressiewe gedrag en mag dui op opgekropte frustrasie of 'n perd wat sy "ruimte" beskerm. Dit vererger gewoonlik rondom voertyd en kan dui op 'n mate van kosdominansie.
Eerstens, moet nie ander perde te naby, binne reikafstand van die perd se stal verby lei nie. Indien daar 'n spasieprobleem is, hou die perd se bodeur toe wanneer daar ander perde in die omgewing is of tydens voertyd. Probeer om vir hierdie perd 'n stal te gee met min verbygaande verkeer – soos 'n hoek- of 'n puntstal.
Dit mag selfs nodig wees om die perd vas te bind tydens voertyd. Dit is raadsaam om hierdie perd se kos eerste vir hom te gee. Indien nie een van hierdie opsies beskikbaar is nie, mag 'n muilband nodig wees. Plaas 'n teken op sy deur wat mense waarsku dat hy byt. Moet nooit so 'n perd slaan of op hom skree nie, aangesien dit hom meer sal frustreer en sy gedrag sal vererger.
Sulke gedrag kan ook op hiperaktiwiteit en frustrasie dui. Dit kan wees dat die perd te veel kos en te min oefening kry of dat hy nie genoeg vrye tyd het nie – alles faktore wat sy frustrasievlakke gaan lig. Stimuleer so 'n perd en hou hom so min moontlik op stal.
Kombersskeur
Hierdie is 'n groot probleem wat ook 'n redelike duur een kan word. Daar is 'n paar redes waarom 'n perd wat sy kombers aan flarde skeur. Dit kan moontlik wees dat die perd eenvoudig te warm kry, of dat hy nie hou van die beperkinge wat die kombers op hom stel hou nie. Dit kan ook wees dat die kombers nie goed pas nie, ongemaklik is of hom selfs skaaf. Indien hitte die probleem is, probeer 'n dunner kombers, of dink selfs daaraan om die perd te skeer. Dit is 'n goeie idee om meer as een kombers te hê – 'n dunner, ligter een vir die begin van die winter en 'n dikker een vir die koue tye.
Indien daar geen ooglopende probleem is nie, besluit of dit werklik nodig is vir 'n kombers. In die geval van skouperde, waar mens nie lang onooglike hare wil hê nie, of perde wat geskeer is, is daar ongelukkig nie 'n ander keuse nie. Maar ontspan – daar is stappe wat mens kan neem om hierdie probleem op te los en jou kombers in een stuk te hou.
Party mense smeer onsmaaklike goed soos aalwynsap aan die kombers, maar dit raak 'n smerige gemors. Daar is ook verskeie tipes muilbande beskikbaar wat dit vir die perd moontlik maak om te eet en te drink, maar nie sy tande om iets te kan slaan nie. Nog 'n moontlikheid is 'n clothing bib – dit is soos 'n muilband, maar slegs aan die onderlip, wat hom in staat stel om enigiets te byt, behalwe dit wat aan sy eie liggaam vas is.
Sommige mense gebruik selfs 'n "Egiptiese halsband". Dit bestaan uit 'n halsband om die keel en nog een laer af om die nek, met vertikale pype wat die twee verbind (dit word gewoonlik van plastiekpype gemaak). Dit verhoed dat die perd sy nek draai en so by sy eie lyf uitkom om die kombers te gryp.
Nog 'n alternatief is 'n komberspyp of -paal, wat van die halter aan 'n buikgord vasgemaak word. Ongelukkig laat dit nog minder beweging as die Egiptiese halsband toe en is dit nie 'n ideale oplossing nie. Die laaste twee metodes is werklik drasties, en is nie sommer aan te bevele nie.
In die volgende uitgawe van SA Horseman kyk ons na stalprobleme, waaronder stalloop, perde wat op en af teen die heining loop, perde wat dans in hulle stalle en perde wat met hulle voete kap en hulle stalle skop.
Dit is interessant om op te let hoe baie afwykende en neurotiese gedrag veroorsaak word weens perde wat te min stimulasie kry en te veel op stal gehou word. Hoe meer ons die perd se lewe onnatuurlik beinvloed, hoe groter sy kanse op "probleemgedrag". Laat mens nogal dink ...
|