Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

‘n Vurige spesialiseringsdebat
deur Hennie Basson

Die Friesperd word vanweë sy veelsydigheid reeds oor baie geslagte met sukses vir verskeie gebruike aangewend. Buiten werk- en plesierdoeleindes, dien dié ras in die jongste jare in talle lande veral ook as ‘n uitstekende sportperd.

Dalk meer nog as in Suid-Afrika, het die ­gebruiksdoel van hierdie ras in sy ­“stamland”, Nederland, deur verskeie fases geloop. ­Sedert die stigting van die ­Koninklijke Vereniging Het Friesch Paarden-Stamboek (KFPS) ­sowat 125 jaar gelede, is die Fries aanvanklik veral as koetsperd gebruik en tot ongeveer 1970 vir trekdoeleindes in die landbou aangewend. Nou is dit egter ‘n meer sportgerigte tipe perd.

In Nederland en op internasionale gebied, het sy benutting geleidelik vanaf tuigperd verskuif na een vir rydoeleindes (veral in die dresseersport). Nogtans het sy raseienskappe onveranderd gebly.

Volgens die KFPS is dit samevattend as volg: “Het edele hoofd, het karakteristieke front door een vertikaal geplaatste, mooi ­gebogen hals, de zwarte kleur, het royale behang en de verheven bewegingsvorm.”

Dit is KFPS-beleid dat wanneer teel vir ­raseienskappe of vir funksionaliteit teen ­mekaar opgeweeg moet word, raseienskappe deurgaans voorkeur moet geniet.

Noudat hierdie ras al meer as ryperd en vir die dresseersport gebruik word, begin die rooi ligte egter flikker vir die teel en benutting van hierdie perde vir inspan- en tuigdoeleindes. Laasgenoemde word al hoe minder gewild en in die jongste jare het dit onder Hollanders en in die geledere van die KFPS, reeds ‘n hewige debat ontketen.

Die vraag wat nou al hoe meer met reg ­gestel word, is: ”Moet teling nie as gevolg ­hiervan meer gespesialiseerd toegepas word en dit geskei word tussen teling vir rydoeleindes spesifiek (wat dressering insluit) en dié vir ­uitsluitlik tuigperde nie?”

Ofskoon hierdie debat, wat met mening gevoer word, duisende kilometers vanaf Suid-Afrika woed, is dit ook vir ons plaaslike ­bedryf van die grootste belang. Die ras word hier ­immers deurentyd gevoed deur invoere vanuit veral Nederland en sal mettertyd ook op teling hier ‘n invloed moet hê.

Selfs in Suid-Afrika ding Friesperde al hoe meer op skoue in ope ryklasse mee en ­begin hulle selfs hul kleim afsteek in dresseer­kompetisies.

Om rigting aan hierdie moeilike ­kwessie te gee, het kenners in Nederland gaan kers opsteek by die Koninklijke Vereniging ­Warmbloed Paarden-Stamboek Nederland (KWPN) waar keuring vir ry- en tuigperde reeds volledig geskei is. Dit het tot gevolg dat daar duidelike verskille is in die uiterlike voorkoms van dié twee tipes perde.

Boonop is die teling van ryperde by dié organisasie ook nog verdeel in ‘n spring- en dressuurrigting. Hingste wat in hoofsaak uit springperde stam, sal dus nooit vir ­benuttting in die dressuurrigting gekeur word nie, en ­andersom.

Ander as by die KWPN waar ook rasse vanuit ander oorde vir teling gebruik word, is die suiwer Friesperdbevolking geslote en geen vreemde bloed word van buite ­toegelaat nie.

Hierdie beleidstandpunt pas in die kraam van die teenstanders van spesialisering in die Friesperdbedryf, wat meen dat die getalle van hulle ras nog veels te klein is om só ‘n nuwe teelbeleid te regverdig.

Hulle meen ook dat die genetiese verskille vir ry- en tuigaanleg buitendien uiters gering is. Uit beoordelingsresultate van die ABFP-toets, blyk dit dat die gene wat verantwoordelik is vir geskiktheid as tuigperd, ongeveer 91% ooreenkom met die gene wat ­ryperd-­voortreflikheid bepaal.

Die KFPS se teelraad het tot die ­gevolg-­trekking gekom dat hulle geen rede sien ter regverdiging van so ‘n splitsing in die ­stamboek se amptelike teelbeleid nie.

Die raad gee egter toe dat daar ­nogtans in ‘n sekere mate sin in skeiding is, dit wil sê spesialisering “in slegs ‘n ­geringe mate”. ­Indiwiduele hingste het immers spesifiek meer aanleg in ‘n sekere rigting en vir ­dresseer- en tuigaanleg word hulle ­afsonderlik beoordeel.

Die hoeveelheid vullens van die ­bekende hings Tsjalke 397 wat in die tuigrigting ­uitmunt, is byvoorbeeld meer as dié onder saal.

Eweneens is die afstammelinge van ­Ielke 82 egter méér geskik vir rydoeleindes. ­Volgens die amptelike tydskrif van die KFPS, Phryso, kan hingste wat in ­hingstekeuring ­uiters geskik is in een van hierdie twee rigtings, dus aanbeveel word vir sodanige gebruik in teelprogramme.

“Sneller genetiese vooruitgang per ­­­dis-sipline kan wel realiseer indien meer klem gelê word op die spesifieke verskille tussen hingste. Dit kan gedoen word deur ­stambome konsekwent op te bou uit spesialisering in een van die twee rigtings.”

Dat hierdie sensitiewe debat egter in ­Friesperd-geledere in Nederland voortwoed, is gewis. In dieselfde uitgawe van Phryso word die bekende teler, Bertus Toonen van ­Maren-Kessel, en Dick Brummel, ­voorsitter van die ­telersvereniging Midden-­Nederland, ­aangehaal, waarin hulle hul sterk teen ­spesialisering uitspreek.

Brummel sê in die laaste twee dekades word buitendien hoofsaaklik in die dressuurrigting geteel. Daarom word ongeveer 80% van die ras vir hierdie doel benut. Verdere skeiding in teling hiervoor is onnodig, want die Fries is ‘n gemaklike perd wat aanpasbaar is.

Net so glo die 82-jarige Eelke ­Dijkstra, wat sedert twee dekades gelede as dié pionier op die gebied van die Fries vir ­rydoeleindes beskou word, dat rastipe uiters belangrik is.

Met spesialisering word gebruiksdoel voorop gestel en kan die betrokkenes hulle goedsmoeds in ‘n situasie bevind dat hulle op die lange duur oor “ ’n ander ras beskik.”

Daarenteen sê Tjitze Bouma, voorsitter van die telersvereniging, It Fryske Hynder in Blauwhuis, dat 70% van sy organisasie se lede op ‘n vergadering dit eens was dat skeiding in teelbeleid noodsaaklik geword het.

Ook Esther Liano van Wirdum, bekend veral in dressuurkringe, is dit eens dat splitsing in teelbeleid nodig is, maar dat kenmerke vir rastipe nie daaronder moet ly nie.

Sy meen daar is duidelike verskille tussen perde wat geskik is vir ry- en tuigperddissiplines. In die tuigperdsport is slegs die draf belangrik, maar vir dressering is drie gange nodig.

Esther sê weens die beleid van ­geslotenheid in teling, word die tuigperd absoluut ­bedreig. Slegs ‘n handjievol neem nog aan ­dryfkunskompetisies deel.

Uit hierdie menings is dit dus duidelik dat, ondanks die teelraad van die KFPS se beleid, die “hef aan” in hierdie langdurige debat in Nederland nog voorlê! SAH

Jolanda Schreuder en Kobus Strydom met onderskeidelik Friso van S en Dana Yvette

Baie van die voorstanders van spesialisering in die teelbeleid vir Friesperde in Nederland, is bekommerd oor die uitfas­ering van gespesialiseerde tuigperde in daardie land. Hier is ‘n tuigperd voor ‘n sjees, wat daar ‘n tradisionele item is

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.