|
Ami de Wet (Snr) is een van die legendes van die uithourit-sport, en ’n naam wat almal wat aan die sport deelneem, al gehoor het. En dis nie bloot omdat hy groot hoogtes in die sport bereik het nie. Nee, Ami de Wet is ’n voorbeeld vir ieder en elk in sy benadering tot die sport.
Toe hy in 1975 op 34-jarige ouderdom besluit het om sy rugbystewels op te hang, het uithouritte sy lewe oorgeneem. Hy het sy eerste ryperd aangeskaf, ’n reun genoem Zhivago, stalle aan die buitewyke van Johannesburg, sowat 15 km van sy huis af, gehuur en gereeld naweke begin perdry.
Hy is bekendgestel aan die uithouritsport deur Len Cilliers en na hy oom Dirk de Vos van Halfweghuis, een van die stigterslede van die Uithouritvereniging, ontmoet het, was dit ’n uitgemaakte saak dat hy sy volle gewig by die sport sou ingooi.
’n Blik op sy uithouritloopbaan
In 1975 is hy tot die Raad van die Uithouritvereniging verkies en het in 2005, na 30 jaar ononderbroke diens uitgetree. Hy het aan talle uithouritte deelgeneem, en al meer as 19 000 kompeterende kilometers voltooi.
Sedert 1975 het hy elke jaar aan die Nasionale Uithouritkampioenskappe by Fauresmith deelgeneem. Uit die 33 waaraan hy deelgeneem het, het hy 26 suksesvol voltooi. In 1978 was Ami tweede in die Nasionale Kampioenskappe met sy merrie, Eibna Nasletta, in ’n tyd van 9 uur 56 minute.
In 1990 het Ami sy Springbokkleure verwerf en die span se kapteinskap by sy seun Tjaart oorgeneem.
Ami het ook aan almal bewys dat uithouritte ’n ware familiesport is. Sy drie seuns het van jongs af saam gaan oefen, elk op hul eie perd, en ook saam met hulle pa aan voorritte deelgeneem die oomblik toe hulle oud genoeg was. Hy het sy oudste kleinseun en naamgenoot op sy eerste Nasionale Kampioenskap by Fauresmith as sy junior saamgeneem en tans neem vier van sy ses kleinkinders saam met hom deel.
In die beginjare het hy self die perde beslaan, afgerig en geteel. Sedertdien het sy seun Hannes die teling oorgeneem, Tjaart die oefenprogram en Ami Jnr die hoefbeslag. Tans help Ami vir Tjaart met die bedryf van die SA Endurance Training Centre waar hulle ander ruiters se perde vir hulle stal, versorg en volgens ’n oefenprogram afrig.
Hulle het ook die Croc River Horse Trails waar hulle persone uitneem op plesierritte van 5-30 km, afhangende van hulle ervaring. Hierdie ritte word afgelê in ’n privaat wildreservaat langs die Krokodilrivier en oor die Zwartkopsberg te Muldersdrift. Baie buitelandse besoekers sowel as plaaslike inwoners het al hierdie ritte met hulle meegemaak.
Ami beywer hom nog steeds om nuwe ruiters vir die sport te werf en neem hulle dikwels onder sy vlerk tydens voorritte. Altyd gewillig, het ons hom nog nooit gehoor “nee” sê as iemand kom vra of hulle maar saam met hom kan ry nie. Die aantal ruiters wat van Ami geleer het, hetsy deur saam met hom te ry of deur net met hom te gesels, is legio. Deur sy toewyding en kennis van die sport het hy bygedra tot die toekenning van Springbokkleure of nasionale kleure aan agt ruiters.
Ami het al verskeie toekennings ontvang, wat wissel van die skilpadtrofee, swaarste ruiter, veteraanruiter, bes-voorbereide perd, sportman van die jaar, Springbokkleure, Springbokkapteinstrofee, Uithouritvereniging-erekleure asook die Uithouritvereniging se Presidentstoekenning.
Die Mogale uithouritklub het, ter erken-ning van Ami se geweldige bydrae tot die uithouritsport, hulle rit na hom vernoem. Dit staan bekend as die “Ami de Wet Challenge” en ’n spesiale medalje ter ere van hom word aan elke suksesvolle ruiter toegeken.
Erelidmaatskap is ook aan Ami toegeken deur die Uithouritvereniging, Alma-klub, Randklub en Mogale-klub.
Voorwaar ’n voorbeeld om na te streef!
|