Iemand het dit onlangs op die besprekingsforum van www.horsejunction.co.za gesê. Die bespreking het gegaan oor ongemanierde perde – perde wat geen respek vir hulle hanteerder het as met hulle van die grond af gewerk word nie.
Die feit is, het die persoon gesê, dat as jy in 'n bespreking met ses perdemense betrokke is, jy waarskynlik sewe menings oor enige onderwerp sal kry. Mense het doodgewoon verskillende benaderings tot hoe hulle met hulle perde wil werk, en dit is baie moeilik om iemand van sy oortuigings te laat afsien.
Die punt is nog verder by my tuisgebring in die afgelope maand of twee, toe ek, binne die bestek van 'n week, 'n artikel gaan doen het met drie tradisionele SA Boerperdtelers en ook 'n 100-myl uithourit bygewoon het. Jy sal beswaarlik twee meer uiteenlopende benaderings tot perdry kry.
Die feit is dat die maniere waarop verskillende mense met hulle perde omgaan, en waarvoor perde aangewend word, ongelooflik divers is. Wat vir die een die toppunt van opwinding is, is vir die ander totaal vervelig en sonder pit. Wat die een as brutaal en wreed beskou, is vir die ander nie so erg nie.
Wie is reg? Op grond waarvan maak mens so 'n oordeel? Ek verwys hier spesifiek na die brief in hierdie uitgawe van iemand wat baie kras reageer op 'n artikel in die Julie-uitgawe van 'n Vlaamperd-afrigter wat kettingkies om van sy perde se pote gebruik, en 'n ketting deur die halter vleg om beter beheer oor sy hingste uit te oefen. Vir baie mense is hierdie praktyke totaal onaanvaarbaar, maar ander vind dit heel normaal.
Mens sou kon sê dat die beoordelingskriterium vir so iets tog sekerlik daarop berus of die perd leed aangedoen word of nie. Maar juis hierin lê die dilemma. Om my punt te staaf wil ek die voorbeeld van die reining-ruiter teenoor die dressuurruiter gebruik. In reining word 'n groot stang in die perd se bek gebruik, terwyl die dressuurruiter op die hoër vlakke van 'n dubbelstang gebruik maak. Wie is die sagste op die perd?
Ek glo nie die antwoord is eenvoudig nie, want dit hang tog sekerlik van die hande aan die ander end van die teuels af, en tot watter mate die perd voorberei is om die stang te aanvaar. Weet hy wat om met hierdie ding in sy bek te maak? Nou kan ek hoor hoe die ouens wat propageer dat mens eerder sonder enige stang in die bek moet ry, hulle standpunt stel: albei die voorbeelde is onaanvaarbaar, is hulle mening.
Die grondslag van suksesvolle mens-perd interaksie is tog sekerlik doeltreffende kommunikasie. En net so belangrik is die ewige strewe na ligtheid en sagte gehoorsaamheid. Hoe jy daar kom, is 'n kwessie van persoonlike keuse. Solank die perd oor 'n tydperk voorberei is om die tekens wat aan hom gegee word te verstaan, en sy welsyn altyd voorop gestel word.