Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Die Porterville Express
deur Hennie Basson

Deur ‘n perd en rytuig en ‘n omgewing met toerismemoontlikhede te kombineer en dit tot ‘n besigheidsonderneming te vergestalt, kan ‘n wenresep wees. Dit word op ‘n relatief klein dorp in die Bolandse graanwêreld bewys.

Piet en Belia Lourens was die breinkrag agter dié idee. En vandat hulle besoekers vanoor die hele land met perd en kar na Porterville begin lok het, word hierdie gemeenskap met sy 5000 ­inwoners, ‘n al hoe gewilder ­toerismebestemming.

Piet Perd, soos hy alom bekend is, het in ‘n eweneens klein gemeenskap opgegroei. Dit was egter in die oostekant van die eerste groot bergreeks wat die Kaapstadse hinterland in twee verdeel.

Op Napier – midde-in die perde- en ­poniewêreld van die Bloms, Klopperse en Humans – het hy van jongs af ‘n liefde vir die perd gehad het, min wetende dat hy met sy verhuising na Porterville agt jaar gelede hierdie passie mettertyd byna ten volle sou kon uitleef.

Dis op hierdie dorp, oos van Piketberg en net sowat ’n uur-en-‘n-half se ry per motor vanaf die Moederstad, dat hy sommer gou as dié perdeman van die dorp bekend geword het. Nie net omdat hy dié regterhand van die perde-afdeling op die jaarlikse skou hier is nie, maar veral ook omdat hy en sy sangeres-vrou, Belia, die moontlikhede van die benutting van perde in ‘n groeiende toerisme-opset begin besef het.

Met Piet aan die leisels en twee wit ­boerperde vooraan ‘n waentjie wat ­gewoonlik vol toeriste gepak is, het besoekers gou ­ontdek dat dit ‘n gawe manier is om die dorp te verken. Ook van oorsee kom toeriste in al hoe groter getalle om plattelandse gasvryheid op hierdie manier te geniet.

Belia sê hy het maar altyd so graag ­perdekar gery – elke Saterdag as sy hom soek, moes sy maar daarmee vrede maak dat hy alweer met die perde en rytuig onderweg velde toe is. Van toe af het die besigheidspotensiaal van hierdie manier van ontspanning egter inslag begin vind.

Hier het die spreekwoordelike ­vierperde-wa ‘n naam gekry, nl die Porterville Express, en dis met hierdie tien-sitplekwaentjie dat die dorp en omgewing se besienswaardighede op Saterdae besigtig kan word. Mense waai ­oudergewoonte van hulle stoepe vir die ­besoekers en motors hou stil om dié vervoermiddel van weleer voorkeur te gee.

Nie net is daar die imposante 80-jaar oue Nederduits Gereformeerde Kerk nie, maar ook die Jan Danckaert-museum en die dorpsplein waar perdekarre dekades gelede uitgespan is. Die haakplekke is nog hier te sien waar die boere oor naweke hulle perde vasgemaak het.

Terwyl die gidse van die plaaslike toerismeburo só interessant oor hulle dorp gesels, word die rit byna te kort. ‘n Draai word gemaak by interessante besoekpunte soos Steve Botha se kruietuin waar alle plaaslike soort kruie ­gekweek word en die plaas Waterval, waar nie minder as 22 watervalle is nie.

Dis die Boland op sy mooiste. En ­aangesien hierdie wyndistrik is, is ’n besoek aan die ­Porterville Wynkelder ‘n gegewe.

Wanneer daar oor Boerperde soos Piet se Barkley en Promises gesels word, is Piet self aan die woord. Dan vertel hy graag van die roem van hierdie inheemse perde ‘n eeu en meer gelede op die land se slagvelde en van hierdie diere se veelsydigheid.

“Hierdie twee van my ooreis ek nie. Hulle kan maar stadig stap met die wa. Hulle weet egter met hulle doen ek byna alles wat van Boerperde verwag word. Skoutyd skou ek met hulle en wanneer die kinders ‘n ryperd soek, is hul maar al te gewillig om opgesaal te word.”

Boonop was hierdie tweestuks ook van die grootste aantrekkingskragte op die Nasionale Trekperdfees wat onlangs in die Agter-Paarl gehou is. Trou aan tradisie het Piet en broer Quinty hier aan die groot aantal mense gewys hoe daar vroeër dae in die wingerde met perde geploeg is.

Net om nog ‘n verdere dimensie aan ‘n besoek aan Porterville te beleef, is daar ook langer ritte as net dagritte waartydens Belia vir die besoekers konsert hou. As sangeres is sy reeds landwyd gewild. G’n wonder dus dat sy as Porterville se eie Sarah Brightman bekend is nie.

Vir ‘n rit met die Porterville Express, kan Piet by 083 778 8096 gekontak word. SAH

Só het Piet en Quinty Lourens onlangs op die Nasionale Trekperdfees in die Agter-Paarl, met hierdie twee boerperde ‘n ouer geslag na wingerdploegtyd op die plaas laat terugverlang

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.