Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Perdegefasiliteerde terapie
deur Elna Wahl, Mooikrans Equus

In verskeie groot stede in ons land – ­Johannesburg, Pretoria, Kaapstad en ook in kleiner dorpe soos Barberton – maak fisioterapeute en arbeidsterapeute met groot sukses gebruik van die perd as terapeutiese hulpmiddel. ­Hierdie vorm van hulpverlening word by die dag meer bekend en gewild.

Fisioterapeute benut die perd se unieke drie-dimensionele bewegings om, via die vestibulêre kanaaltjies in die middeloor, die sentrale senuweestelsel te stimuleer om die korrekte spiertonus in die spierstelsel van ‘n pasiënt te bewerkstellig.

Gevallestudies

Jackie* (6 jaar) kon na ‘n breinbesering tydens ‘n motorongeluk geen ledemaat beweeg nie, weens ‘n abnormale hoë spiertonus. Sy was feitlik agteroor gestrek. Na twaalf maande se intensiewe oefening, wat twee perdrysessies per dag ingesluit het, kon sy soos ‘n normale ruiter op ‘n perd sit.

Manie* (9 jaar) moes altyd die spot van sy maats verduur omdat hy nie ‘n bal kon vang nie. Perdgefasiliteerde arbeidsterapie het sy ­ruimtelike oriëntasie en sy oog-hand ­koördinasie só verbeter, dat hy na ‘n paar maande met ­selfvertroue aan sport kon deelneem.

Shaun* (8 jaar) het net op die ­linkerkantste helfte van sy bladsy geskryf, tot groot ­erger-nis van sy onderwyseres. Dit het ook sy ­skoolprestasie nadelig beïnvloed. Shaun het ‘n onvermoë gehad om sy liggaamsmiddellyn te kruis. ‘n Paar oefeninge op die bewegende perd het hierdie probleem volkome herstel, sonder dat Shaun ooit bewus was dat hy om terapeutiese redes begin perdry het.

Maritza* (15 jaar) was lomp en het oor alles geval, of sommer net haar balans ­verloor. ­Tieners het dikwels ‘n probleem met ­selfvertroue en voel maklik verwerp deur hulle portuurgroep. Hierdie probleem het haar ­selfvertroue nog meer ondermyn. ‘n Paar maande nadat sy begin perdry het, het sy met dansklasse begin en baie goed gevaar. Vir haar selfvertroue het dit die wêreld beteken.

Hierdie gevallestudies lê almal op die terrein van die fisio- en arbeidsterapie. Maar wat sê dit vir ons in die psigoterapie (sielkunde)?

Die gebruik van die perd in sielkundige ­terapie (perdgefasiliteerde psigoterapie) is eeue oud. Hippokrates het in sy leeftyd al die waarde van die perd in die herstelproses van die mens (liggaamlik en geestelik) besef en aanbeveel dat die gewonde soldate op perde gesit moet word om hulle herstel te bespoedig.

In die VSA is equusterapie (ET) baie gewild en doen die Equine Facilitated ­Mental Health Assosiation, ‘n afdeling van Nahra (North American Horse Riding Association), ­baanbrekerswerk. Feitlike enige sielkundige probleem kan met ET aangespreek word.

Op Mooikrans Equus, waar ­plaasvakansies vir kinders vanaf ouderdomme 9-18 jaar aangebied word, word die terapeutiese ­uitwerking van gesonde samesyn met perde optimaal ­benut. Dit het gou vir ons duidelik geword dat die jong kind in die hedendaagse samelewing ­ontneem word van geleenthede waar hy andersins ­emosioneel, kognitief en soms selfs fisiologies, sou ontwikkel. Kinders kan nie meer soggens met fietse skool toe ry, vanmiddag in die straat krieket speel en vanaand gaan vrugte gaps by die kwaai ­buurman nie.

Op die plaas word die besoekertjies bloot-gestel aan vaardighede wat hulle kan ­baasraak: van eiers uithaal tot die knoop van ‘n touhalter. ­Uitdagings word met groot sorg stapsgewys ­gestel, sodat sukses behaal en die vreugde ­daarvan ­gesmaak kan word. Om sukses te behaal en goed te voel oor jouself, is ‘n baie belangrike bousteen in die ontwikkeling van selfvertroue en emosionele intelligensie. In hierdie hele proses speel die 32 perde op die plaas die sleutelrol.

Waarom werk dit?

Indien die kind of tiener emosies ervaar terwyl hy of sy met ‘n perd werk, verskaf die perd aan hom onmiddellike terugvoer oor hoe daardie emosies ander affekteer. Indien hy op ‘n ­negatiewe wyse optree, sal die perd senuweeagtig raak en onttrek. Indien hy op ‘n positiewe wyse optree, sal die perd kalm bly en naby aan die kind wil wees.

Die tiener het nou die geleentheid om te kies of hy sy gedrag wil beheer of aanpas. Die perd leer die kind omtrent wisselwerking – indien hy kwaad is vir ander mense, sal hy kwade gevoelens terugkry; indien hy ander met eerlikheid en respek hanteer, sal hy self met eerlikheid en respek behandel word. Nou weet die kind dat hy oor die vermoë beskik om sy lewe te verander deur bloot sy gedrag aan te pas. Dit bevorder ook sy selfbeeld.

Spieëlbeeld

“Wat jy in jou perd insit, gaan jy terugkry.” ­Hierdie beginsel word ook gebruik by die keuse van ‘n geskikte perd vir elke besoeker. Kennis van elke perd se unieke persoonlikheid is baie belangrik, omdat die perd as fasiliteerder gebruik word in die noodwendige proses van persoonlikheidsontwikkeling wat oor die paar dae op die plaas sal plaasvind.

‘n Vinnige opname van die besoekers se verskillende persoonlikhede word gemaak deur hulle twee-twee in te deel met die opdrag om elkeen die een kant van ‘n perd te roskam en af te borsel. So kan lukraak vasgestel word waar lê die outjie se waagmoed, entoesiasme, konsentrasievlakke, deursettingsvermoë, fisiese en sosiale vaardighede, selfvertroue, vermoë tot samewerking, en dies meer.

Indien die besoeker angstig en senuweeagtig is, word die angstige en senuweeagtige perd aan hom toegesê. Hy moet dus sy ­angstigheid en wilde handgeswaai beheer, want die perd skrik daarvoor. ‘n Boelie kry ‘n perd wat hom sal terugboelie. Die trae, ­energielose tiener kry ‘n perd waaronder jy gedurig moet vuurmaak.

Die outjie wat sukkel met konsentrasie, of ­aandagafleibare sindroom (ADHD) het, kry ‘n perd wat ­volgehoue, duidelike opdragte vereis. As sy aandag dwaal, wil die perd nie loop nie. Opsommend: die perd word gebruik om die ongewenste gedrag van die ruiter te ­verander.

Positiewe versterking

Die noodsaaklikheid om sukses te smaak in die ontwikkeling van die normale ­persoonlikheid, word dikwels onderskat. ­Indien sukses ontbreek, taan die wil om uitdagings aan te pak. Die outjie wat nooit sukses smaak nie, se selfbeeld en die belewing wat hy van homself het, is só negatief dat dit uitkring en elke faset van sy menswees raak.

In ‘n terapeutiese program vir kinders uit ‘n kinderhuis waarby Mooikrans Equus ­betrokke was, is die kinders gevra om met hulle eerste besoek aan ons ‘n prent te teken van hulle ­gesin, met die duidelike opdrag dat hulle ­hulself ook in die prentjie MOES ­insluit. Ses van die kinders het elkeen hom- of haarself as ‘n onbeduidende figuurtjie in die prent ­ingesluit, iewers in ‘n hoekie of aan die ­onderpunt van die bladsy.

Na ses maande se weeklikse, vrolike ­besoeke aan ons plaas, is hulle gevra om weer ‘n soortgelyke prent te teken. Elkeen was sonder uitsondering die prominente figuur in die prent, mooi groot geteken: bo-op ‘n perd of met die perd aan die hand!

Geestesgesondheid

Sielkundiges beklemtoon die ­noodsaaklikheid van endorfiene (die sogenaamde feel-good ­hormoon) in geestesgesondheid. ­Getraumati-seerde persone word as deel van hulle ­terapie aangeraai om ten minste een maal per dag iets te doen wat hulle sal laat goed voel. ­Hierdie beginsel word ook ­ingespan vir normale, voortgesette geestesgesondheid.

Wat kan ‘n perdeliefhebber beter laat voel as om ‘n dag in die veld uit te ry op ‘n ­lieflike perd, met ‘n vrolike klomp ­mederuiters, piekniek te geniet in die veld en deur die son en wind aangeraak te word?

*Name is verander om persone se privaatheid te respekteer.

Oor die outeur

Elna Wahl is die eienaar en bestuurder van Mooikrans Equus. Elna beskik oor ‘n BA-graad in Sielkunde en het ook haar NHOD voltooi. Sy is ‘n lid van die Equine Facilitated Mental Health Assosiation, ‘n afdeling van die North American Horse Riding Assosiation in die VSA. SAH

Elna en die bekende Roftie, wat gebruik word in perdegefasiliteerde psigoterapie op Mooikrans

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.