 |
Die hings, Vuurslag Excelsior, demonstreer hier die ligvoetigheid en opwaartse raam waarvoor streng geselekteer word.
Vinnig en fyn is hy, rats soos 'n reebok, Vas op sy pote langs bergpas en krans; Draf kan hy snel oor die veld soos 'n duiker, Trippel kan hy soos 'n pronkbok wat dans. – Uit “Voorslag” deur AG Visser
|
Daar is al baie geskryf oor die SA Boerperd in die laaste paar uitgawes van die SA Horseman. Dit is veral die onderskeid wat gemaak word tussen die sogenaamde tradisionele en universele tipes binne die ras, wat baie bespreking ontlok.
Diederick Cloete, Lovell Emslie en Lötter Bekker is al drie SA Boerperdtelers wat op die sogenaamde tradisionele tipe konsentreer. Diederick en Lötter is ernstige vyfgangruiters, terwyl Lovell 'n dresseerperd met die uitstaande beweging en balans eie aan die tradisionele SA Boerperd-tipe, wil teel.
Die SA Boerperd, verduidelik hulle, het uit die behoefte vir ‘n top gebruiksperd in veral bergagtige dele van Suid-Afrika ontwikkel. Dit behels 'n perd wat vir homself kan sorg, 'n dag lank onder saal kan funksioneer en nie sy ruiter vermoei nie. Dieselfde perd moes ook by geleentheid as spogperd dien. Daar is vandag nog telers wat dié eienskappe deel maak van hulle seleksieprogramme.
Natuurlike beweging
Die kerneienskap van die tradisionele tipe, verduidelik Diederick, is natuurlike beweging. "Ons soek na 'n lang veerkragtige beweging met 'n agterbeen wat baie diep onder die perd intrap. Hierdie diep agterbeenbeweging veroorsaak dat sy skouers lig word en as 't ware sy voorlyf optel. Wanneer die perd aan die beweeg raak, moet dit lyk asof hy opdraend beweeg."
"Hierdie beskrywing," wys Lötter daarop, "is eintlik niks anders as 'n beskrywing van die klassieke beweging van 'n goeie perd nie. 'n Perd wat 'n ware atleet is, se veerkrag kom vanuit sy agterkwart en het die vermoë om sy voorkwart op te tel en ‘lig’ te maak, wat veroorsaak dat sy voorbene met vryheid na vore en op kan beweeg. Die sleutel lê in agterkwart-aktiwiteit."
‘n Perd met hierdie tipe vermoëns, gekom-bineer met die gewenste temperament, sal in enige dissipline uitstyg wat op skoling (flatwork) gebaseer is. Die perd moet dus die korrekte konformasie hê om hom in staat te stel om sonder oormatige fisiese inspanning aan die funksionele vereistes wat aan ‘n ryped gestel word, te voldoen.
Die wil om te werk
Al drie beklemtoon ook die perd se genetiese wil om te werk en dien. Die perd moet vanuit ‘n temperamentele oogpunt vir sy ruiter/afrigter 100% wil gee. ‘n Perd wat moeilik raak sodra daar inspanning van hom vereis word, is uiters ongewens.
Volgens Lovell kry die temperament van hulle perde deurlopend aandag. Die spesifieke eienskappe waarvoor hulle wil selekteer, is die begeerte om te werk, die vermoë om te leer, sensitiwiteit wat die perd makliker maak om te ry en ‘n sensitiewe mond. Oormatige senuweeagtigheid is ongewens.
Hulle hou van 'n vurige perd wat vol van homself is, maar ongeskik mag hy nooit wees nie. Verder moet die perd in staat wees om sy aandag by die ruiter te hou. Hy moet kan konstentreer op sy werk.
“Universele” probleme
Een van die vrese van ruiters/afrigters uit die “universele” wêreld, sê hulle, is dat perde wat uit vyfganglyne kom nie in die universele dissiplines sal deug nie. Hierdie probleem ontstaan as ‘n perd onder kolleksie na laterale beweging oorslaan. Daar is meriete in die beswaar.
“Hierdie tipe perde is egter ook nie vir ons gewens nie, aangesien hulle probleme met die suiwerheid van gange het, ongeag drie- of vyfgang. Sulke perde voldoen nie aan die ritmiese en gebalanseerde bewegingsvereistes wat hoog op prys gestel word en waarvoor aktief geselekteer word nie. Sulke perde sal dus met verloop van tyd deur teelprogramme uitgeskakel word."
Hy baseer sy afrigting op die klassieke beginsels, verduidelik Lötter. "Op die ou end is daar min verskil tussen dit wat ons van die tradisionele perd vra en wat die dressuurruiter van die dressuurperd vra. Ons gebruik dieselfde skolingsoefeninge. Alles gaan oor ordelike, harmonieuse kolleksie en verlenging (collection and extention) en, baie belangrik, ordentlike, gebalanseerde oorgange."
"Daar is geen onnatuurlike eise wat aan die perd gestel word nie. Ons berei hulle voor in 'n stelselmatige oefenprogram. Ons maak ons perde oor tyd sterk genoeg in die agterkwart en rug sodat hulle lig in die voorkwart kan wees, wat dan ook beteken dat hulle lig in die bek word."
'n Seker teken, volgens die drie, dat 'n perd wel korrek afgerig word, is dat die perd lig op die stang gery word en korrek deur sy rug werk. So 'n perd lig sy skouers in beweging, is lig in die hand en beweeg met groot impulsie. Die perd moet spoor en van soepelheid getuig.
Wat dan nou van die gebruik van kuns-matige metodes om beweging te beïnvloed? Al drie is adamant dat dit nie deel van hulle afrigtingsmetodes vorm nie. Die probleem is dat 'n perd wat só afgerig word, nie 'n akkurate weergawe van sy genetiese vermoëns gee nie.
Die tipe perd wat hulle teel, se hulle, is nie ver verwyder van die sogenaamde paradeperde wat oor die eeue gewild was en in die Barok-tydperk waarskynlik sy hoogtepunt bereik het nie. Die hedendaagse verteenwoordigers van hierdie tipe perd, sluit rasse soos die Andalusiër en die Lusitano in, wat al hoe gewilder raak as Grand Prix dressuurperde.
"Ons as tradisionele SA Boerperdtelers en -ruiters moet besef dat ons ‘n unieke, eie identiteit het wat enig in sy soort in die wereld is. Hierdie uniekheid staan op sy eie bene, sonder verskoning of vergelyking met ander rasse. Ongelukkig is daar wanbegrippe rondom hierdie identiteit wat daartoe bydra dat ons die Boerperd alewig met ander rasse soos die Saalperd, Arabier of Volbloed vergelyk.”
Hoe vergelyk die teelbeginsels met die mees toekomsgerigte opinies oor die teel van sportperde in die wêreld? "Ek het ‘n stuk raakgeloop in die Nederlandse Warmbloedgenootskap (KWPN) wat vir my baie treffend is," sê Lovell. "Die stuk is in Junie vanjaar gepubliseer en dit lui soos volg:
A horse should be light and easy to ride, but is should be healthy, strong and have a good temperament (a horse must want to do its job). This is the opinion of Paul Schockemöhle, three-time European champion and also a top trainer.
Mariëtte Withages, Dressage Chairperson: International Equestrian Organisation, echoes the need for horses that are easy to ride, but states as well that the present national teams compete on very hot warmblood horses from Thoroughbred, Trakehner and even Baroque horse descent.
In a review article on the 2007 Dressage World Cup Final, the Westphalian, Floriano, was specifically praised for "great deal of self-carriage and big strides." He was ridden by Steffen Peters, who achieved an over-all third position.”
As telers van SA Boerperde, glo hulle dat die beginsels waarvolgens hulle hul perde teel, selekteer en afrig, gesond is. Hulle is ook oortuig daarvan dat die tipe perd wat hulle teel toenemend 'n rol in die perdebedryf in die land sal speel.
"Ons besef dat ons op die ou end 'n perd moet teel wat vreugde en plesier aan toekomstige ruiters sal gee. Die produk van ons teelbeleid moet in staat wees om suksesvol mee te ding en om toeskouers by skoue te beïndruk. Slegs dan sal die SA Boerperd soos ons hom teel, die verkose ryperd in die land word." SAH
|