Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Blink uit met goeie vet
deur Paul van Dam

'n Perd wat aan driefase-kompetisies deelneem, sal meer energie uit die vetbronne gebruik tydens die dresseerfase en sodoende meer glikogeen bêre vir die veldhindernisbaan

Almal is deesdae fyngevoelig oor wat hulle eet, en al hoe minder mense geniet biltong wat 'n lekker rand vet aan het. Uit 'n sosiale oogpunt gesien is "vet" 'n taboe-woord, en mag mens dit glad nie noem nie. Hoekom sal ons dan nou gaan kyk na vet as deel van die perd se rantsoen?

Kan perde vet verteer? Perde is van nature herbivore, en daar kan tog seker nie veel vet in plantmateriaal wees nie? Tog is daar vet in hulle natuurlike rantsoen – lusern bevat soveel soos 3% vet. Dit beteken dat perde wel oor die nodige ensieme beskik om vet te verteer, en daar is al bewys dat perde soveel soos 30% van hul rantsoen in die vorm van vet kan ­hanteer. Sulke hoë vlakke word egter nooit in die praktyk gevoer nie.

’n Ideale bron van energie?

Vet word verteer in die dunderm, waar daar min hitte as deel van die verteringsproses ­opgebou word, en is dus 'n bron van "koel energie". Dit is 'n bykomende voordeel (lees gerus die artikel oor hoe mens perde kan koel hou in SA Distance Rider in hierdie uitgawe).

Verder verhoog vet die rantsoen se ­energie-digtheid (dis die hoeveelheid ­energie per ­hoeveelheid rantsoen). Vet word in die ­liggaam gebruik om liggaamsmassa te ­handhaaf, om die vel en haarkleed te verbeter, om koel ­energie te verskaf en om prestasie tydens oefening (beide oor kort en lang afstande) te verbeter.

Vet is minder veelsydig as vorm van ­ener-gie, want dit kan slegs gedurende ­aerobiese werk (soos lang afstande teen relatief stadiger spoed) verbrand word om energie te verskaf. ­Koolhidrate, daarteenoor, word ook gedurende anaerobiese werk (soos kort naellope) gebruik. Dit maak vet 'n ideale bron van energie vir deelnemers aan uithouritte en soortgelyke sporte, maar minder so vir renperde en perde wat aan die Olimpiese perdesportdissiplines deelneem.

Tog is daar 'n positiewe uitwerking vir ­hierdie perde ook. 'n Perd wat aan driefase-­kompetisies ­deelneem, sal meer energie uit die vetbronne ­gebruik tydens die ­dresseerfase en sodoende meer glikogeen bêre vir die ­veldhindernisbaan.

Voordele aan die voer van vet

Eerstens verhoog vet die rantsoen se ­energie-digtheid (dis die hoeveelheid energie per ­hoeveelheid rantsoen), wat 'n groot voordeel inhou. Perde wat hard geoefen word, moet baie energie inneem. Dis nie altyd ­moontlik met tradisionele rantsoene nie, veral ook ­omdat baie perde wat hard werk geneig is om minder te wil eet.

Hierdie perde is geneig om geleidelik ­kondisie te verloor, omdat daar al hoe meer liggaamsreserwes gebruik word om in die ­hoë-energie eise gekoppel aan die ­werkslading, te voldoen. 'n Koppie olie ­bevat net soveel ­energie as 'n driekwart kilogram hawer. Verder kan hoë vlakke graan in die ­rantsoen ook lei tot verteringsprobleme, ­koliek, ­laminitis, ­gedragsafwykings, maagsere en ­ander ­ongewenste newe-effekte.

Vet help ook om die vel en haarkleed te verbeter deurdat dit die olie-inhoud van die vel verhoog. Dit gee die vel 'n blinker en meer ­gesonde voorkoms. Verbetering van ­hoefgehalte is ook waargeneem.

Vorme van energie

Perde wat aangepas is op 'n rantsoen hoog in vet, maak makliker van vetreserwes in die liggaam gebruik. Energie word in twee vorms gestoor. Glikogeen in die spiere (in 'n perd wat 450 kg weeg, word ongeveer 75MJ ­energie so gestoor) is die een, en vet oral in die liggaam (in die gemiddelde perd van 450kg, word ongeveer 640 MJ so ­gestoor) die ­ander. Vet kan uiters doel­treffend ­gebruik word tydens aerobiese werk (wat die ­grootste deel van die uithourit opmaak).

Perde wat aangepas is op hoër vetvlakke, kan vir langer tye aerobies werk (aerobiese werk ­gebruik energie baie meer doeltreffend; tydens anaerobiese werk word energie vinnig beskikbaar gestel, maar nie baie doeltreffend gebruik nie).

Sou mens die vetstoor eerste opgebruik, bly daar genoeg van die kosbare glikogeen oor om te gebruik aan die einde van die rit, tydens die laaste eindpoging om eerste oor die wenstreep te gaan. Onthou, hierdie laaste jaaggallop vind onder anaerobiese omstandighede plaas, waar glikogeen noodsaaklik is.

Minder melksuur

Nog 'n voordeel van die verbrand van vet is dat daar minder melksuur geproduseer word, wat die risiko van azoturie (tying-up) ­verminder. So ook het dit 'n kalmerende uitwerking op perde wat geneig is om onhanteerbaar te word wanneer hulle te veel graan inneem.

Hierdie gedragsafwykings is gewoonlik die gevolg van wisseling in die bloedglukose-vlakke. Die vinnige styg van die glukosevlakke in die bloedstroom net nadat die perd geëet het, gevolg deur die vinnige daling nadat die glukose onder die invloed van insulien deur die liggaam opgeneem is. Vet in die rantsoen laat die maaginhoud stadiger deurgaan na die dunderm, en verminder hierdie wisseling in glukosevlakke.

Hoeveel en watter vet?

Die meeste kommersiële rantsoene bevat nie baie vet nie (vet is 'n duur bestanddeel), en dit is hoofsaaklik die meer spesialisvoere wat wel hoog in vet is. Selfs al voer jy een van hierdie spesialisvoere, kan jy steeds die vet aanvul.

Om werklik sinvolle resultate te sien met betrekking tot energieverbruik, moet jy ­minstens 'n koppie olie per dag by die ­rantsoen voeg. Dit is belangrik om perde by vet in die rantsoen aan te pas. Begin met ­bietjie (byvoorbeeld twee eetlpels per dag), en vermeerder geleidelik todat jy op dag 14 by 'n koppie vol uitkom.

Tot 12% van die perd se rantsoen kan in die vorm van vet gevoer word. Gebruik ­altyd vars produkte, omdat perde nie voer sal vreet as daar galsterige vet in is nie. Die beste bron van vet is plantaardige olies. Canola-olie word goed deur perde ­aanvaar en is een van die beste produkte om te ­gebruik.

Mens kan ook mielie-olie (corn oil), ­gebruik, wat baie smaaklik is. Ander bronne van vet is ryssemels (moeilik om in die hande te kry), sonneblomsaad (heel sade – dit verskaf ook bietjie ekstra vesel aan die perde wat die verteringsproses aanhelp) of volvetsoja.

Daar is ook produkte beskikbaar wat vet in poeiervorm bevat. Hierdie is primêr gemik op die produksiediermark, en nie geregistreer vir gebruik in perde nie. Sou jy daarmee wil eksperimenteer, maak seker dat jy ‘n produk kies wat geformuleer is vir enkelmaagdiere, en nie een wat gemik is op herkouers nie.

Moenie oornag resultate verwag nie, en moenie begin vet voer minder as twee maande voor 'n groot en belangrike ­kompetisie nie. Dit neem die verteringstelsel ongeveer 14 dae om by die hoër vetvlakke aan te pas, en die metabolisme soveel soos 30 dae om van prosesse wat glukose en glikogeen gebruik, oor te ­skakel na prosesse wat vet verbrand om energie te verskaf.

Verder neem dit tussen twee en vier maande vir die spiere om hulle aerobiese vermoë so te ontwikkel, dat hulle optimaal van vet as energiebron gebruik kan maak. SAH

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.