Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Ritme in die saal
deur Izak Hofmeyr

Die Engelse woord is timing. In Afrikaans moet dit iets wees soos ritme. Dit gaan oor sinkronisasie van beweging – wanneer die perd en ruiter in presiese gekoördineerde tydsberekening beweeg. Dit is met hierdie konsep wat Leon Liversage van Belfast in Mpumalanga, die afgelope dekade of wat al spook, en waarop sy reeks uithouritsaals se ontwerp baseer is.

"Ek maak 'n onderskeid tussen 'n stadige saal en 'n vinnige saal. By 'n stadige saal is die balans so dat die ruiter net-net agter die rote­ringspunt van die perd geplaas is. Maar omdat ek 'n gietvorm vir die onderste en boonste deel van die saal gehad het, kon ek die boonste deel, die deel wat met die ruiter in aanraking is, so 'n halfduim vorentoe skuif om die ruiter presies oor die roteringspunt te plaas. In wese is dit die verskil tussen 'n 'stadige' en 'vinnige' saal."

'n Boom wat werk
Leon het oorspronklik met saalbome begin speel wat op die ou McClellan gebaseer was, maar hy het gou besef dat dié boom nie ideaal is nie. Te veel perde het wit kolletjies aan weers­kante van hulle rûe net agter die kambeen ontwikkel, waar die hare wit verkleur het as gevolg van te veel druk. Daarmee saam het hy by uithouritte betrokke geraak, wat sy soeke na die ideale lang­afstandsaal vir beide ruiter en perd, verder stimulus gegee het.

"Al my saals – waarvan 11 uithouritmo­delle is – is op dieselfde filosofie geskoei, naamlik vry skouerbeweging, die plasing van die rui­ter relatief tot die roteringspunt en die doeltreffende ­verspreiding van druk oor die perd se rug.

" 'n Belangrike sleutel tot die korrekte ­plasing van die ruiter op die perd, is dat die buikgord en die stiegrieme in lyn moet wees, en dat die diepste gedeelte van die saal, waar die ruiter met ander woorde sit, die afstand van die bal van jou voet na jou hak toe, agter die lyn van die stiegriem en buikgord moet wees. As jy dus ontspanne op die perd sit, is die lyn van die ­skouer deur die heup tot by die hak, ­outomaties 'n vertikale lyn."

Beweging in die saal
Veral by uithouritte, beklemtoon Leon, is dit belangrik dat die ruiter se bewegings in die saal, so ekonomies as moontlik moet wees: "As jou stiegrieme byvoorbeeld te vêr na vore aan die saal geheg is, moet jy elke keer jou voet eers terugtrek om orent te kom in die saalboomsteek, en dan, as jy terugsit op die volgende diagonaal, dan val jy weer met jou gewig terug in die saal, omdat die stiegriem weer na vore geskop word na waar dit natuurlik hang.

"As die saal die korrekte dimensies het, dan is die op en af beweging van saalboomsteek natuurlik en verg dit min energie van beide perd en ruiter. Kom ons veronderstel 'n perd se treë is een meter lank, en jy gaan sit in die saalboomsteek op elke tweede tree, dan gaan jy oor 'n afstand van 160 km 80 000 keer sit. Hoe sagter en meer in ritme jy dit kan doen, hoe beter is dit uit die aard van die saak vir die perd."

Gewig van die ruiter
'n Konsep waarmee Leon vir baie jare werk, is die vorm wat die saalpanele moet hê wat teen die perd se rug lê.

"Die feit is dat die perd se spiere nie konkaaf is om die konvekse vorm van 'n opgestopte saalkussing te akkommodeer nie. Om die waarheid te sê, as mens regtig die optimale vorm vir 'n saalpaneel wil hê, moet die paneel ­konkaaf wees, want die spiere op die oppervlak is ­konveks, as dit nie plat is nie.

"Dit is een van my grootste besware teen opgestopte saalkussings. Jy verminder noodwendig die gewigverspreidingsvermoë van die saal. Jy veroorsaak noodwendig drukpunte. Dit is waarom my saalpanele plat vlakke het.

"Dis natuurlik belangrik dat hierdie plat vlakke die perd se rug teen die regte hoek raak, en dis op hierdie punt dat ek besef het dat ek doodgewoon sal moet gaan uitvind hoe presies perde se rûe lyk. Dit het veroorsaak dat ek glasvesel afdrukke van perde se rûe begin maak het.

“Die slotsom waartoe ek gekom het, was dat 90% van perde rûe het waarvan die hoek, net agter die kambeen geneem, ongeveer 90 grade is. Van die oorblywende 10% perde, is die meeste breër as 90 grade. Daar is perde waarvan die hoek kleiner is as 90 grade, maar dit is van minder belang omdat mens daarvoor kan kompenseer met dikker saalkleedjies."Oor die sukses van sy saals is daar min ­twyfel. By die afgelope Fauresmith 200 het Leon 'n nie-amptelike opname gedoen wat daarop gedui het dat 90% van die ruiters op Liversage-saals gery het.

Die fleksiepaneel
"Die verandering van 'n perd se rug oor sy leeftyd, slaan my nou nog stom. Hoewel ek glo jy kry jou basiese twee rugvorme, naamlik 'n 90-grade hoek agter die kambeen en 'n breër as 90-grade perd, kan die invul van die spiere direk agter die kambeen geweldig varieer soos die perd sterker en fikser word, en dit kan 'n wesenlike invloed op saalpas hê. Dan is daar die kwessie van vet op 'n perd se rug wat 'n wye rug gee as jy ­begin, maar dan smaller word soos die perd fikser word."

Dis hierdie veranderlikes wat Leon aan die soek gesit het na 'n manier om die gewigsver­spreiding op die perd se rug te vergroot, sonder om die beweging van die rug te affekteer. Dis hoe hy op die fleksiepaneel-konsep gekom het.

"Dis 'n paneel wat kan buig, maar tog ferm genoeg is dat, as dit plat teen die saalboom en die perd se rugspiere lê, dit die dra-oppervlak van die saalboom vergroot. By die bewegende dele van die perd, egter, en spesifiek die ­skapula wat vorentoe en agtertoe beweeg as die perd beweeg, gee dit mee sodat die ­skapula nie drukking het nie, maar vry kan beweeg."

Verskillende modelle
Leon se nagenoeg 20 saalmodelle kan in twee groepe ingedeel word – safarisaals en uithouritsaals. In wese is die verskil dat die een voorsiening maak vir gemak terwyl die perd stadig beweeg, en die ander vir gemak is terwyl die perd vinnig ­beweeg.

"Weer by die konsep van timing – om met die minste steuring dieselfde ritme as die perd te handhaaf in draf of galop. Dis hoe mens die stres op die perd se spiere verminder. Maar omdat ek voortdurend met hierdie beginsel in my kop spook, het ek voortdurend nuwe idees van wat ek wil doen. So 'n nuwe projek word dan, as ek dink die idee werk, 'n nuwe model. Maar ek bly steeds by die basiese beginsels van my boom ten opsigte van die manier ­waarop dit op die perd se rug pas."

Onder die safarisaal is die modelle die ou Trailrider, die Legend en die Lady's Legend en dan die Hacker. 'n Ander model wat gemik is daarop om 'n robuuste werksaal vir alledaagse plaasgebruik deur veewagters te verskaf, is die Bushwacker.

Onder die uithouritsaals is die eerste model die Enduro, wat drie konfigurasies het, naamlik die nouboom, die mediumboom en die breë boom. Dan is daar ook 'n langboom-opsie in die mediumboom-konfigurasie.

Daarna het die 2007-model gevolg, ­tesame met die Sportlite, die nuwe weergawe van die Enduro, die Dubai Racer, die Kentucky, die Dubai en 'n saal wat Sheik Muhammed vir sy eie gebruik bestel het.

Die Kentucky is spesifiek ontwikkel met die oog op die World Equestrian Games wat volgende jaar in Kentucky aangebied word.

"Die Amerikaners se idee van 'n lekker saal sluit baie spesifiek in dat die saal 'n hoë saalboog moet hê. Hoewel die saal op die oog af anders lyk as ons ander modelle, is die boom aan die onderkant maar presies dieselfde as die ander uithouritsaals. Een van die eienskappe van die Kentucky is dat daar verskillende opsies is van waar die ruiter sy stiegrieme wil aanheg – voor, neutraal of agter."

Skakel Leon by 083 792 9344.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.