Diederik Cloete is al met perde deurmekaar vir so lank hy kan onthou. Waar hy in die Noord-Kaap in die Prieska-omgewing grootgeword het, is perde daagliks op die plaas gebruik en het hy sy afrigtingsmetodes hoofsaaklik by sy pa en oupa geleer.
Sowat tien jaar gelede het hy en sy gesin Pretoria toe verhuis waar hy mettertyd vir hom 'n naam gemaak het as iemand wat perde vinnig en doeltreffend op so 'n vlak van afrigting kan bring, dat selfs 'n groentjie die perd kan ry.
Hoewel hy en sy drie dogters baie aktief in die SA Boerperdwêreld aan skoue deelneem, en die nasionale enkeltuigkampioen tans in sy stal staan, is sy fokus wat sy perdeleerdery betref eintlik daarop gemik om 'n betroubare plesierperd af te rig, want, sê hy, dis maar waarna die meeste mense eintlik soek.
Afrigtingsbeginsels
Sy benadering tot afrigting staan op twee basiese bene, sê hy. Die eerste is desensitering en die tweede die opbou van vertroue, wat baie nou saamhang met dissipline.
"Een van die belangrikste beginsels wat ek vir kliënte moet tuisbring, is dat die leer van 'n perd 'n aanhoudende proses is. Elke keer as jy met jou perd werk, is jy besig om hom iets te leer, of jy dit nou so beplan het of nie."
Toe hy die eerste keer Monty Roberts se benadering tot die makmaak van perde lees, sê Diederik, het hy besef dat hulle daar in die Noord-Kaap dieselfde beginsels al vir jare volg. Hulle doen dit heel anders, ja, maar dit is tog gebaseer op dieselfde beginsels.
"Ek is lief daarvoor om 'n nuwe perd in die klein kraaltjie te begin, waar ek maklik invloed op hom kan uitoefen, maar ook maklik fokus of druk kan verlig. Dis hier waar ek die eerste keer 'n gesprek met die perd aanknoop.
"Ek het 'n sweep in my hand sonder 'n voorslag, waarmee ek druk op 'n spesifieke deel van die perd kan uitoefen, en as die perd dan op daardie druk reageer, dan neem ek die druk onmiddellik weg. Op dié manier snap die perd baie gou dat hy ook 'n sê het deurdat, as hy sekere goed doen, die druk weggaan."
Watter kant?
Eerstens begin Diederik die perd in die rondte jaag, en hom van rigting verander. Dis belangrik, waarsku hy, dat jy gou moet identifiseer watter die perd se maklike en sy stywe kant is, omdat die perd verskillend aan die twee kante reageer.
"As jy van die perd goed vra, is dit beter om dit te vra aan sy maklike kant. Die tekens waarna ek soek, terwyl ek die perd domineer deur hom in die klein kraaltjie rond te jaag, is partykeer baie subtiel. Dis egter belangrik dat mens hierdie tekens sien en onmiddellik daarop reageer.
"Die perd se oor sal eerstens in jou rigting begin draai, en nie lank daarna nie sal hy begin kou, en sy tong oor sy lippe lek. Jy sal sien dat hy op jou begin fokus, eerder as om net wild en wakker na 'n uitkomplek te soek. Sy kop sal gaandeweg in jou rigting begin draai eerder as om by die kraal uit te kyk. As jy hierdie tekens sien, moet jy die druk van hom afhaal deur van hom weg te draai en hom tot stilstand te laat kom.
Benader die perd
"Nou staan en wag jy vir hom om na jou te kyk. Stap nader, en as hy sy kop van jou wegdraai, gebruik die sweep om in die rigting van sy agterkwart te swiep. As hy sy agterkwart van jou wegdraai, haal dadelik die druk af. Sommer nou-nou besef hy die plek waar hy die meeste kan ontspan, is as hy in jou rigting kyk."
So gaan Diederik dan al nader totdat die perd stilstaan as hy reg by hom is. As die perd wegbeweeg, dan jaag Diederik hom weer om tot hy die tekens begin gee waarna hy soek. En deurentyd bly Diederik rustig en kalm.
"Ek benader die perd skuins van voor, in die rigting van sy skouer aan sy maklike kant. Die eerste plek waar ek aan hom vat, is juis aan daardie skouer."
Die oomblik as die perd hom langs hom toelaat, begin Diederik met desensitering. Eers is dit net met die hand op die skouer, maar baie gou vryf hy al wyer tot die nek en kop ook ingesluit word.
Bou vertroue
"Ek is baie lief om plastiek inkopiesakke te gebruik omdat hulle daardie geluid maak. Jy kan dit ook lekker klein opfrommel om aanvanklik nie die perd te veel onder druk te plaas nie, en dan later kan jy die sak al verder oopvou.
"So vryf ek dan die perd oraloor met die plastieksak. Ek vind die beste is dat mens die sak aan 'n stok vasmaak, sodat jy in veiligheid die perd se agterkant kan bykom.
"En moenie skaam wees om die perd oraloor te vryf nie – onder die pens en teen die bene ook af. As hy reageer, plaas weer druk op hom en maak hom werk. Soos die perd snap wat aangaan sal die werkperiodes al korter word en sal die perd al moeiliker van jou wil weggaan."
Die ding van druk
Die kwessie van druk word volgende behandel. Sy leuse, sê Diederik, is "so sag as moontlik, maar so ferm as nodig". Dis nie druk wat belangrik is nie, maar die wegneem van die druk op die oomblik as die perd die regte gedrag openbaar. Perde is gewoontediere wat baie vinnig 'n slegte of goeie gewoonte optel. Dis daarom baie belangrik dat die hanteerder daarop sal let dat hy nie die perde aan roetines blootstel wat op die ou end nie weer gebreek kan word nie.
"Die belangrike ding van druk is dat jy moet bly vra tot die perd 'n sweempie van die regte gedrag gee. Onthou, die perd weet nie van reg en verkeerd nie. Hy soek maar antwoorde op die goed wat jy in sy rigting stuur. So, as hy vind dat 'n sekere reaksie van hom die druk verlig, gaan hy dit volgende keer weer probeer. En as dit dan weer werk, word dit baie vinnig 'n gekondisioneerde refleks."
As die perd 'n entjie gevorder het op die pad van desensitering, is dit tyd om na die volgende fase in die afrigtingsprogram te beweeg, naamlik vertroue en dissipline.
Selfbeheersing
"Een van die belangrikste dinge wat ons vir die perd wil leer, is selfbeheersing. 'n Goeie plek om te begin, is om die perd vas te maak dat hy vir, wat hom betref, 'n onbepaalde tyd stil moet staan. Natuurlik doen jy dit so dat as daar 'n krisis ontstaan, jy die perd onmiddellik kan losmaak. Jy moet dus die regte knoop gebruik.
"Maar ek dink 'n perd moet maar vir homself uitwerk dat dit nie help om te spook nie. As hy wil spook, los ek hom maar dat hy dinge vir homself uitwerk. Ek hou egter 'n oog om seker te maak hy maak homself nie seer nie."
Dis ook die tyd wat Diederik gebruik om perde wat skop, kap of byt van hulle kwale te genees.
"Desensitering beteken om 'n ding aan te hou doen tot die perd hom nie meer daaraan steur nie. So as die perd geneig is om te skop, dan raak ek met 'n ding aan sy agterbene totdat hy ophou skop. En nou-nou dan doen ek dit weer.
"En dan gaan ek verder en ek stel 'n nog groter eis aan sy selfbeheersing deur byvoorbeeld 'n motorband onder sy agterbene in te rol totdat hy ook nie meer daarvoor skop nie. As 'n kind nou byvoorbeeld onder die perd se agterpote beland, wil ek hê die perd moet doodgewoon sy poot op 'n ander plek neersit."
Maar, waarsku Diederik, dis onregverdig om byvoorbeeld by die motorband te begin. Begin op die vlak wat die perd kan hanteer en gaan dan algaande moeiliker.
Stuur die perd
"Na tussen twee weke en 'n maand, het ek 'n perd wat verstaan dat die beste plek vir hom by my is, want dis waar daar die minste druk is, wat ook verstaan dat ek nie bedoel om hom seer te maak nie, en wat verstaan dat ek en hy 'n vlak van kommunikasie tussen ons opgebou het deur middel van druk en drukverligting.
"Verder het ek die perd in hierdie paar weke gewoond gemaak aan allerhande goed sodat hy nie meer daarvoor bang is nie en ek het, in die gevalle waar die perd 'n neiging getoon het, hom genees van sy neiging om te skop of te byt, of so iets."
Nou, sê Diederik, is dit tyd om die afrigting verder te neem deur hom te begin wys van stuur en saal-dra: "Die eerste stap is natuurlik om die perd te wys wat ons wil hê met die ding wat ons in sy bek sit. Dit doen ons in die klein kraaltjie op die langteuels. Ons stuur die perd links en regs en leer hom van stop. As hy vertroud is hiermee, is dit tyd om die saal op te sit."
Saal en teuels
Diederik het 'n spesiale saal met vasmaakplek vir allerhande sakke en goed sodat hy die desensiteringsproses verder kan neem met die saal op die perd se rug. Onthou, teen dié tyd is die perd al gewoond aan sakke en goed wat om hom gewaai en geklap word, so die stap na 'n saal op die rug is nie so groot nie.
"Ek sit die saal op en laat die perd net gou die buikgord voel deur hom 'n slag of wat in die rondte te laat draf. Dan begin ek so stuk-stuk die voersakke aan die saal vasmaak, sodat die perd gewoond raak aan al die goed wat saam met hom in die rondte draf. Dis nie lank nie, of die perd steur hom totaal nie meer aan die sakke nie. Een sak maak ek selfs so vas dat die perd dit nou en dan raaktrap sonder dat hy daarop reageer.
"Vir hierdie oefening laat ek die perd weer vry in die klein kraaltjie draf, maar ek gebruik syteuels net lank genoeg dat die perd daarvan bewus is. Nie lank nie, of die perd werk uit dat as hy sy kop knik, dan verdwyn die druk van die trens. Dis 'n groot waarheid dat die ding wat die perd die beste onthou, is die ding wat hy vir homself uitgewerk het. So gee die perd kans om goed vir homself uit te werk."
Ruiter op die rug
Die laaste stadium is om 'n ruiter op die perd se rug te kry. Maar voor hy daar kom, waarsku Diederik, is dit nodig om baie seker te maak die perd is gedesensiteer onder sy pens, tussen sy bene en onder sy stert.
"As mens nou hersiening doen van alles wat die perd geleer het voor jy op die punt kom dat jy 'n ruiter opsit, dan is dit die volgende:
• Hy verstaan die konsep van drukverligting. Dit het nou al ontwikkel in 'n taal tussen jou en die perd.
• Hy is glad nie meer bang vir enige van die goed waaraan hy blootgestel word nie.
• Hy verstaan wat van hom verwag word as die teuels op die trens in sy bek werk.
• Veral belangrik is dat die perd weet wat die stop-teken beteken.
"Omdat die perd reeds aan die saal op sy rug gewoond is, is die opklim van die ruiter regtig nie 'n groot storie nie. Aanvanklik sal ek steeds in die kraaltjie staan en die bevele gee, maar gou-gou neem die ruiter oor en onttrek ek. Onthou net weer eens om die perd stuk-stuk aan die nuwe goed bloot te stel. Gee hom kans om elke nuwe ervaring te verwerk. Moet hom nooit met te veel goed op 'n slag konfronteer nie."
Reg vir die buitewêreld
As die perd vertroue het met die ruiter op sy rug in die klein kraaltjie, is dit tyd om buite rond te ry, en dis altyd 'n goeie plan om 'n ou, rustige perd te laat saamry om die jong perd vertroue te gee. Hoe meer goed die jong perd aan blootgestel word, hoe beter.
"As die perd vir so 'n paar weke elke dag uitgery het en nie meer vir goed langs die pad skrik nie, dink ek dis tyd dat hy sy nuwe eienaar ontmoet. Nou, glo ek, is die perd gereed om sy afrigting, in die spesifieke dissipline wat sy eienaar vir hom in gedagte het, te begin."