Welkom by die laaste uitgawe van 2009. Hierdie, die November/Desember-uitgawe van SA Horseman, is dan ook die laaste uitgawe wat gratis aan jou gepos is. Dit het vir ons doodgewoon onmoontlik geraak om die tydskrif verder gratis te versprei.
As jy dus voortaan steeds die boek wil ontvang, sal jy daarop moet inteken (sien intekenvorm en spesiale aanbod op bl 16). Ons is egter tans ook met verskeie instansies aan die beding om die tydskrif op hulle rakke te koop aan te bied. Ons teiken spesifiek instansies wat in die perdebedryf besigheid doen, soos saalwinkels, voermaatskappye en koöperasies.
Om egter seker te maak die tydskrif is oral in die land beskikbaar, wil ons graag 'n beroep op ons lesers doen om ons te laat weet as die tydskrif nie in jou dorp verkrygbaar is nie, sodat ons die probleem onmiddellik kan aanspreek. Die veiligste bly egter om daarop in te teken.
Die tydskrif sal voortaan teen R20 te koop wees, maar as jy voor die einde van die jaar inteken sal dit jou net R80 kos vir al ses volgende jaar se uitgawes. Moet dus nie tot op die laaste wag nie! Teken dadelik in en pos, faks of e-pos die intekenvorm aan ons terug, tesame met 'n tjek of elektroniese bewys van betaling. Die inskrywingsvorm is ook op ons webwerf, www.sahorseman.co.za, beskikbaar.
Mag die laaste skof na die einde van die jaar voorspoedig wees en mag jy 'n geseënde Kerstyd beleef.
Ry veilig en rus uit.