Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?


’n Legende sonder einde
deur Paul van Dam

Vanaf die eerste dag wat ek by uithouritte betrokke is, onthou ek een ruiter wat altyd onder almal uitgestaan het. Sy het uitgestaan omdat sy altyd netjies aangetrek was, nooit ’n prysuitdeling in haar ryklere bygewoon het nie, en altyd deur ’n ring getrek kon word.

Tannie Elsa Herbst het haar uithouritloopbaan begin in 1979, toe sy ­Nourmahal Victor by oom Dirk de Vos gekoop het, nie net as uithouritperd nie, maar ook as ­stoethings vir die Dansawil Stoet.

Elsa Herbst was altyd mededingend, en het groot hoogtes as ruiter bereik. Verskeie perde was (en is steeds) Elsa se vennote gedurende haar uithouritloopbaan, wat nou al oor bykans 30 jaar strek. Sover het sy die Fauresmith 200 sestien keer suksesvol voltooi. Daarvan was vyf keer onder die top tien, vyf keer onder die top 20 en die res onder die top 30 – voorwaar ’n prestasie om op trots te wees!

Hierdie prestasies het begin met Sudarik ­Linda, waarmee Elsa in 1984 begin ry het. ­Hierdie merrie was ’n topklas atleet, wat ­meestal onder die top drie geëindig het, ook op Fauresmith waar sy twee keer agtereenvolgens ’n derde plek losgery het. Linda was ook een van die eerste perde wat by die SA ­Endurance Horse Registry geregistreer is, en het in 1985 die Arabierperdgenootskap se “Legioen van Meriete vir Uithouritte” ontvang.

’n Loopbaan soos min

In 1989 begin sy met Dansawil Tequila ry, een van Nourmahal Victor se vullens by ’n Appaloosa-merrie. ’n Besondere atleet, en reeds in sy eerste jaar van deelname wys hy dat groot dinge aan die kom is. Hy sou die kortlys vir die SA Nasionale Span (toe nog die Springbokspan) gehaal het, as dit nie was dat hy nog nie ’n Fauresmith suksesvol voltooi het nie.

Gedurende sy loopbaan, wat gestrek het van 1989-1994, was Tequila net by twee voorritte vyfde, en by al die ander onder die top drie! In die proses word Tequila ook male sonder tal as “bes voorbereide perd” aangewys by ritte. In 1990 het Elsa met Tequila die eerste keer die Springbokspan gehaal, en eindig sy agste op Fauresmith.

Tequila word daarna in Amerika se “Appaloosa Hall of Fame” vereer, waar ’n foto van hom en Elsa hang as die eerste Afrika-Appaloosa wat vir ’n nasionale span gekies is.

Twee jaar later word die kombinasie weer vir die Springbokspan gekies, en die keer word Elsa as spankaptein aangewys, en word sy die eerste vrou aan wie hierdie eer te beurt val. In 1993 verskyn Dansawil Tosca op die toneel en net ’n jaar later, in 1994, word Elsa met Tosca weer vir die Springbokspan gekies.

Sy word ook weer aangewys as die span se kaptein, en eindig negende by Fauresmith. Elsa is ook elke jaar, tot 1995, gekies vir die Wes-Transvaalspan by Fauresmith. By elke rit is Elsa getrou bygestaan deur haar wederhelf, Danie (en sal ek altyd onthou hoe oom Danie opgewonde geraak het as tannie Elsa dit waag om ’n minuut langer op ’n bepaalde been by ’n rit te ry as wat hy voorgeskryf het!).

Maar dis nie net as ruiter wat sy haar merk gemaak het nie. Van 1985 tot 1995 was sy sekretaresse van die Zeerust Uithouritklub. In 1989 word sy ook verkies as President van die Wes-Transvaal Unie, ’n posisie wat sy beklee tot in 1995.

Sy en Danie was ook betrokke by die stig van die Potchefstroom, Wolmaransstad, Stella en Sannieshof Uithouritklubs, waar die fondasie gelê is vir die Noordwes Uithourit-unie, wat nou seker beskou kan word as die grootste unie binne die Uithouritvereniging van Suid-Afrika. En die res van die gesin het nie agtergebly nie!

Oom Danie was van 1987 tot 1995 spanbestuurder van die Wes-Transvaal­spanne by Fauresmith. Die enigste kind, klein Willie, het van jongs af self uithourit gery, en was in 2007 die spankaptein van die UVVSA span by Fauresmith – praat van ’n sirkel wat voltooi is!

En die einde is nog nie in sig nie! Nadat Elsa in 1996/97 weens ’n nekoperasie nie kon deelneem nie, en weer in 2006 tydelik die rystewels moes ophang weens voetprobleme, is sy vasbeslote om volgende jaar terug te keer. Hou haar dop!

Copyright © 1998 - 2007, Horse Junction. All rights reserved.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.