Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?


Is daar 'n probleem? (Deel 2)
deur Theresa Odendaal

In die vorige uitgawe van SA Horseman het ons begin met 'n reeks oor probleemperde. Ons het vasgestel dat probleemgedrag daardie gedrag of gewoontes is wat 'n perd toon wat onaanvaarbaar is vir mense, nadelig is vir die perd, of somtyds selfs uiters gevaarlik kan wees vir beide perd en mens.

Dit is belangrik om, wanneer hierdie probleme aangespreek word, na die oorsaak van die gedrag te soek, wat somtyds fisies of sielkundig van aard kan wees. Hierdie afwykings, vanuit die perd se oogpunt beskou, is oorlewingsmeganismes, wat die lewe vir hom meer draaglik maak.

Wat mens nogal laat dink, is die feit dat baie van hierdie afwykende en neurotiese gedrag, direk teruggevoer kan word na die manier waarop die perd deur mense hanteer is, die toestande waarin hy aangehou is en onsimpatieke of selfs wrede / brutale afrigtingsmetodes ...

Gelukkig is daar deesdae 'n groeiende gewaarwording dat daar beter, meer natuurlike en perd-vriendelike metodes is en dat perde daarby baat om in 'n stimulerende omgewing te woon. Ongelukkig is probleemgedrag steeds volop en is dit slegs deur kennis en die wete dat dit net 'n simptoom van 'n dieperliggende probleem is, dat mense enigsins hierdie tipes gedrag kan aanspreek.

In Deel I van hierdie reeks, het ons na die "bekkige" stalprobleme gekyk, naamlik kripbyt, windsluk, hap en byt na verbygangers, vreters en kombersskeurders. In hierdie uitgawe kyk ons na verdere probleem-stalgedrag – dié wat nie spesifiek met die bek verband hou nie.

Stalloop

Ek is seker almal het dit al gesien – die uitgetrapte "baan" in die beddegoed in die stal. Dit word gewoonlik geassosieer met fynbesnaarde, gefrustreerde, senuweeagtige en rustelose perde en is weer eens die gevolg van 'n kombinasie van verveling, te veel hoë-proteïen kos en te min oefening. Dit kan ook die gevolg wees van klaustrofobia (vrees vir ingehokte spasies). Stalloop mag vererger wanneer daar opwinding in die stalblok is en rondom voertyd of as die perd gestres is.

Stalloop as sulks is nie noodwendig skadelik vir die perd nie, Dit mag egter so erg en aanhoudend raak, dat die perd nooit rustig en kalm raak en sy gras vreet nie, wat oor die lang termyn kan veroorsaak dat die perd kondisie verloor. Dit kan ook oor die lang termyn nadelig vir die perd se gewrigte wees om aanhoudend in so 'n klein sirkeltjie te beweeg. Dit het natuurlik ook tot gevolg dat 'n perd sy beddegoed tot poeier vertrap en mens gevolglik deur meer beddegoed as normaalweg gaan.

Lang ononderbroke tydperke op stal is weer eens onderliggend aan die probleem. Hierdie perd het vryheid, vriende en genoeg oefening nodig, gekombineer met ad lib hooi en ruvoer om hom besig te hou. Die bodeur van so 'n perd se stal, moet ten alle tye oop wees, sodat hy kan uitkyk. Dit sal 'n goeie idee wees om so 'n perd in 'n stal met 'n venster en in visuele kontak met die stalle langs hom te sit. Sommige mense beveel selfs aan dat 'n "stalmaat", soos 'n skaap of 'n bok, so 'n perd tot ruste sal bring.

Om so 'n perd in die stal vas te bind gaan niks oplos nie en sal tien teen een slegs veroorsaak dat 'n rustelose en neurotiese perd hom na ander probleemgedrag wend.

Op-en-af teen die heining

Alhoewel hierdie strenggesproke nie 'n "stalprobleem" is nie, het dit direkte betrekking tot die toestande waarin 'n perd aangehou word. Dit is amper, kan mens maar sê, die boetie van stalloop. So 'n perd loop aanhoudend op en af teen die heining, sonder rus en sonder tussenposes om te wei. Dit mag gekoppel wees met aanhoudende of periodiese runnik en sweet, asook ander tekens van stres. Die perd verloor kondisie en in warm weer kan hy selfs dehidreer, wat tot koliek kan lei.

Hierdie gedrag is, nes stalloop, ook waarneembaar by ander diere in hokke, bv in dieretuine by bere, tiers en leeus.

Hierdie op-en-af lopery is meestal weens die perd se vrees om alleen te wees, afgesonder van die trop. Perde is tropdiere en wanneer 'n perd van die trop geskei is, is hy meer kwesbaar vir roofdiere. Die beste manier om hierdie probleem op te los, is om die perd saam met ander perde in 'n kamp te sit.

In die geval van hingste is dit nie altyd moontlik nie. Probeer om hom in 'n kamp te sit waar hy ander perde (nie merries nie) kan sien, maar nie by hulle kan uitkom nie. 'n Rustige reun kan selfs in 'n kamp direk langs die hings gesit word waar hulle wel kontak kan hê, maar hulle sal aanvanklik baie goed dopgehou moet word om seker te maak dat die hings homself nie beseer in sy pogings om by die reunperd uit te kom nie, of dat hy nie die reunperd beseer nie.

Ongelukkig, met hingste, mag die feit dat hy ander perde kan sien, maar nie by hulle kan uitkom nie, juis die probleem wees. Sommige mense glo dat dit beter is om so 'n hings heeltemal afgesonder van die ander perde te hou, waar hy hulle glad nie kan sien nie.

Om so 'n perd op stal toe te sluit, gaan nie die probleem oplos nie en kan eenvoudig net tot stalloop lei. Indien ander perde nie 'n opsie is nie, kan 'n kampmaat soos 'n bok of 'n skaap probeer word.

Wieg

Hierdie gedrag manifesteer gewoonlik op stal, maar kan ook in klein, kaal kampies voor die hek plaasvind. Die perd staan op een plek met sy voorbene effens uitmekaar en wieg sy gewig van een kant na die ander kant. Hierdie gedrag kan vir ure aanmekaar volgehou word en hoe meer opwinding of stres daar is, hoe vinniger en meer aktief wieg die perd. So 'n gewieg vererger rondom voertyd.

Die perd se gewig word van die een voorbeen na die ander verplaas en sit stremming op die gewrigte, tendons en ligamente van die voorbene wat oor die lang termyn tot beenprobleme kan lei. Sommige wiegers werk hulleself só op, dat hulle naderhand amper paniekerig begin raak en sweet. Soos kripbyt, kan dit "aansteeklik" wees, met ander perde in die omgewing wat die gedrag naboots en uiteindelik ook in hierdie gedragspatroon verval.

Hierdie gedrag is 'n direkte rebellie teen "toegesluit" wees. Dit kan die gevolg van klaustrofobia wees, of dat die perd wil uitkom, of te veel kos eet en te min werk. Wieggedrag kom ook by ander diere in aanhouding voor, soos kamele en olifante.

Sommige mense beveel aan dat die bodeur van so 'n perd se stal toegemaak word en die onderdeur oop, sodat die perd sy kop moet laat sak om uit te sien. Dit mag die perd keer om te wieg. Spesiale "wiegdeure" is beskikbaar, en kan ook self gemaak word. 'n "V" word uit die bodeur gesny, sodat die perd sy kop kan oorsteek, maar nie van kant tot kant kan wieg nie.

Nog 'n idee is om 'n plastiekbottel vol water in die middel van die deuropening te hang. Wanneer die perd probeer wieg, stamp hy aanhoudend teen die bottel. 'n Verdere idee is om 'n besemstok vertikaal in die middel van die onderdeur vas te heg, sodat dit die deuropening in twee deel.

Indien hierdie gedrag voor die kamphek plaasvind, probeer om die perd in 'n groter kamp met maats en weiding te laat loop.

Krap, kap en skop

Hierdie perde is gewoonlik lewendige, aktiewe, fynbesnaarde en sensitiewe perde, en is meermale totale aandagvrate. Hulle skop en kap die stal uit opgewondenheid, krap en kap aan die staldeur vir aandag en kos, en kan 'n vreeslike kabaal opskop. Die lawaai kan uiters irriterend wees en die aanhoudende gehamer aan die deur of muur, kan die perd se hakke, bene en knieë beseer. Hierdie gedrag vererger gewoonlik rondom voertyd. Die gekrap is perd vir "ek wil hê" – hetsy kos of aandag.

Hierdie gedrag kan ook voorkom as die perd sy kos of spasie beskerm. Wanneer die perd voer in sy bak het en hy kan sy buurman sien, sal hy sy ore plattrek en die vloer begin kap of die muur skop om dit aan die "indringer" duidelik te maak dat dit sy kos is, en dat hy nie van plan is om te deel nie. In hierdie geval is dit nie aandag-soek nie en kan dit heel stresvol vir die perd wees. In so 'n situasie is dit nodig dat die mure in die stalle so gebou word, dat perde mekaar nie kan sien wanneer hulle eet nie, nie bedreig voel nie en hulle kos in vrede kan eet.

Die eerste vorm van hierdie gedrag (die kos- en aandagsoekery) word gewoonlik deur mense gepresipiteer. Deur tussen die stalle rond te loop en lekkernye links en regs uit te deel, word perde aangemoedig om te bedel en aandag te vereis wanneer hulle mense sien kom. Hierdie onaanvaarbare gedrag word verder aangemoedig wanneer mense, in hulle poging om die lawaaierige perd stil te kry, vir hom iets gee om te eet, of aandag aan hom gee om hom stil te kry: Oorsaak en gevolg – kap, krap, skop, en siedaar, ek kry kos of aandag!

Hierdie is 'n baie moeilike gewoonte om vir 'n perd te probeer afleer en een wat moeilik is om te ignoreer. Nieteenstaande, moet nie met die perd raas of hom slaan as hy so optree nie, aangesien dit hom aggressief kan maak en verder kan frustreer – ons ken mos almal die gesegde: "Negatiewe aandag is beter as geen aandag!" Probeer so 'n perd so ver moontlik ignoreer.

Dit is 'n goeie idee om die stal met rubbermatte teen die mure en selfs aan die binnekant van die deur uit te voer, ten einde beenbe­serings te probeer verhoed en verminder. 'n Rubbermat kan ook op die vloer by die deur gesit word om te keer dat die perd sy hoewe / hoefysters afslyt met die aanhoudende gekrap.

Verder kan 'n ketting oor die deuropening gespan word en die deur oopgelos word, sodat daar een minder plek vir die perd is om homself aan te beseer. Indien hierdie gedrag slegs rondom voertyd voorkom, voer die perd eerste sodat hy tot ruste kan kom, of maak sy bodeur toe of maak hom vas gedurende die voerproses. So 'n perd sal ook daarby baat vind om so min as moontlik op stal te wees.

Ter afsluiting

Dit is weer eens duidelik dat die meeste afwykende en neurotiese gedrag, 'n direkte resultaat is van die manier waarop mense perde hanteer en aanhou. Ons ontneem hulle van hulle vryheid, reguleer hulle oefening, beperk die tipe en hoeveelheid kos waartoe hulle toegang het, kies hulle vriende en hou hulle in sommige gevalle selfs in eensame afsondering aan. Hulle het nie 'n ander keuse as om dit wat mense vir hulle uitdeel, stilswyend te aanvaar nie.

Dikwels moet hulle maar op hulle eie manier probeer om die lewe vir hulself draagliker en meer interessant te maak deur onnatuurlike dinge te begin doen – somtyds tot hulle eie nadeel – en dan blameer die mense hulle daarvoor. Dit is egter interessant dat daar in die wildernis nie iets soos windslukkers of kripbyters is nie en perde weet nie van wieg, stalloop of mure skop as hulle vry is nie.

Miskien, as meer mense perde met respek begin behandel en op 'n meer perd-vriendelike en natuurlike manier in hulle behoeftes probeer voorsien, sal hierdie neurotiese en probleemgedrag al minder voorkom. Hopelik sal mense eendag kan vra: "Probleemgedrag, neurotiese gedrag, wat is dit?"

Copyright © 1998 - 2007, Horse Junction. All rights reserved.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.