Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?


Hensop in die bergpas
deur Hennie Basson

In tye soos hierdie waarin grypdiewe, rooftogte en voertuigkapings hoogty vier, gaan die gedagtes onwillekeurig terug na die passasier- en poskoetsera uit 'n vorige eeu. Die ontberinge wat mense destyds op pad na hul bestemmings beleef het, was werklik skrikwekkend.

Getrek deur perde of muile, moes die rytuie dit soms waag oor feitlik onbegaanbare bergpasse en deur driwwe waaroor die vloedwaters in volle krag gestroom het. Soms moes hulle deur troppe leeus en olifante reis, of is hulle deur vyandige inheemse stamme aangeval. Baie keer het die trekdiere in die tuig gevrek of is hulle deur vloedwaters meegesleur. In een geval het muile selfs in 'n mynskag beland!

Wanneer toeriste deesdae die bergpas tussen Lydenburg en Pelgrimsrus verken – die idilliese dorpie waar die land se eerste groot goud-stormloop in 1873 die wêreld en sy fortuinsoekers in beroering gehad het – is dit dalk met 'n mate van versigtigheid dat hulle Robber's Pass nader.

Die steilte op die bergpas met hierdie onheilspellende naam, is slegs enkele kilometers buite hierdie dorpie in die skilderagtige berge van Mpumalanga geleë.

Struikrowers uit die verlede

Dit het egter niks met die huidige vlaag van misdade op ons paaie te make nie. Hierdie naam dateer uit die jare toe poskoetse deur sluwe struikrowers langs die byna onherbergsame roetes op pad na hul bestemmings ingewag en van geld, besittings en selfs goudstawe gestroop is.

Teen die einde van die 1800's was hierdie pas nog as Pelgrimhoogte bekend. Dekades later het dit egter – en met goeie rede – as Robber's Pass in die volksmond bekend geword. Dit word lankal reeds só op padroetekaarte aangedui. Twee rooftogte op koetse teen hierdie feitlik blinde bultjie, was vir hierdie naam verantwoordelik.

Hoewel die talle vervoerondernemings wat in daardie jare deur die land diensbaar was, in 1892 feitlik oorlog verklaar het teen die misdadigers langs hierdie belangrike toegangsweë, het hierdie bedrywigheid net des te meer floreer. Die eerste aanslag op 'n koets langs die huidige Robber's Pass was juis sewe jaar later, om en by met die aanbreek van die Anglo Boere-oorlog.

Soos gewoonlik in daardie jare, was koetse van die beroemde Zeederberg Coaching Company uiters gesog om pos en passasiers na alle uithoeke van Suider-Afrika te vervoer. Hulle het ook geld en goudstawe, soos destyds tussen Pelgrimsrus en Lydenburg, vervoer.

Toe die koetsier op daardie spesifieke rit, Piet du Plessis, reeds vroegoggend met die koets uit die Zeederberg-stalle op Pelgrimsrus vertrek en by die naasliggende Transvaal Gold Mining-perseel moes optel, was die dorpie reeds in rep en roer.

Die storie dat Du Plessis op daardie dag die grootste besending goud ooit wat deur die Zeederbergs hanteer is, na Lydenburg moes vervoer, moes iewers uitgelek het. Dit het immers oor 'n enorme waarde vir daardie tyd (R20 130!) beskik.

Met 'n span van agt muile vooraan, het die noodlot dan ook nie ver buite die gehuggie, op 'n hoogte, toegeslaan. Twee gemaskerde persone het uit die bosse te voorskyn gekom en gewere op die koetsier, sy mede-koetsier en vier passasiers in die koets gerig. Hulle is met doodskote gedreig indien hulle nie aan die bevele gehoor gee nie.

Al die verskriktes aan boord is aan een van die koetswiele vasgebind, twee van die muile is gekonfiskeer en die res is vallei-af verjaag. Die sakke met die kosbare buit is uit die wakis verwyder en in saalsakke gepak, wat oor die twee muile se rûe gegooi is. Twee perde is uit die bosse gebring en so het beide ruiters, elk met 'n muil as pakdier aan 'n lang leisel, die bosse in verdwyn.

Ofskoon die geregsdienaars op die dorpie oortuig daarvan was dat die skuldiges binne ure opgespoor sou word weens die byna onmoontlikheid om die Andersonberge oornag oor te steek, was die skelms net te goed georganiseerd vir hulle.

Die geheim ontvou

Vir baie lank was dit 'n onopgeloste raaisel hoe hulle met die skatte in hul midde, so skielik en spoorloos verdwyn het. Soekgeselskappe het maande daarná nog gaan kyk of hulle dalk die goudstawe in een van die talle ravyne in die omgewing kon opspoor waar die rowers, volgens hulle, verseker na benede na hul dood moes gestort het.

Eers drie jaar later is die misterie rondom die gebeurtenis gedeeltelik ontknoop, toe Doel Zeederberg, een van die broers in beheer van die vervoeronderneming, 'n brief uit Mosambiek ontvang het waarin die skrywer daarvan die Zeederbergs in werklikheid bedank vir die feit dat hulle instrumenteel was in die verskaffing van genoeg kapitaal, sodat hy met 'n eie besigheid oorkant die grens kon begin!

Die tweede bekende rooftog, nie ver van die eerste nie, het egter op die gierige struikrower geboemerang. Dit was in Junie 1912, toe die bewoners van die myndorpie al byna van die bestaan van rowers vergeet het.

Dit was weer 'n Du Plessis wat die slagoffer geword het. Hierdie keer Andries Johannes, wat vanuit die teenoorgestelde rigting (vanaf Lydenburg) die onderkant van die steil helling na Pelgrimshoogte op 'n slakkepas met sy koets en agt muile betree het.

In die aandskemering het 'n man met swart klere en rewolwer in die hand, hom en die muile tot stilstand laat bring met 'n bevel van "hande in die lug!" Du Plessis het onmiddellik besef dat die houtkis onder sy sitplek met inhoud wat by die Nasionale Bank op Lydenburg verseël was en by die bank op Pelgrimsrus afgelewer moes word, geteiken is.

Nadat hy beveel is om met sy rytuig, drie passasiers en die muile op 'n stadige pas na die dorp te vertrek, het die rower die buit in 'n saalsak gelaai waarna hy te perd verdwyn het.

Die misdadiger was inderdaad die plaaslike haarkapper en 'n veelbesproke karakter op die dorp, Tommy Dennison, wat net omtrent 'n paar voetbalvelde ver vanaf die mynkamp gewoon het. Dis in hierdie woning, teen die rante van die berg, dat hy skokkend sou ontdek dat hy slegs 'n hoop koper en silwer muntstukke ter waarde van net R358 gebuit het!

Uiteindelik het dit ook tot sy inhegtenisneming en skuldigbevinding aanleiding gegee. Eerstens het hy gefouteer deur sy diensmeisie met 'n kussingsloop vol silwer muntstukke na 'n ander sake-onderneming te stuur, waarmee sy skuld dáár afgelos moes word.

Die polisie is hiervan in kennis gestel en toe hy die aand ná sy rooftog sy skuld in die kroeg van die Royal Hotel met halfkrone betaal het, is hy summier gearresteer.

Later het dit aan die lig gekom dat Tommy se so-te-sê mislukte rooftog te wyte was aan die feit dat die trein waarop die goue artikels was en wat hy op die bergpas wou inpalm, inderwaarheid laat op Lydenburg aangekom het en nooit die bestemde poskoets gehaal het nie ...

Copyright © 1998 - 2007, Horse Junction. All rights reserved.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.