En so vlieg die jaar verby. Hierdie is die laaste uitgawe vir 2007 en ons het nog nie eens 'n duik gemaak in al die sake wat vra om aangespreek te word in die perdewêreld nie.
'n Uiters belangrike verwikkeling wat volgende jaar vir ons wag, is die oorgang van 'n gratis na ‘n betaalde subskripsie. In hierdie uitgawe is daar weer 'n subskripsievorm ingevoeg wat u asseblief moet invul en aan ons terugstuur as u volgende jaar nog die SA Horseman wil ontvang.
Die sake wat ons in hierdie uitgawe dek, sluit weer 'n wye verskeidenheid in. Ons fokus in hierdie uitgawe op 'n paar sogenaamde “alternatiewe” praktyke. Dit is vir u as lesers om te besluit watter van hierdie praktyke u as waardevol beskou en wat nie. Die Avis SA Derby is een van die groot perdesportbyeenkomste in die land, daarom dat ons 'n spesiale verslag oor dié gebeurtenis in hierdie uitgawe dra.
Ander artikels sluit in 'n besoek aan die internasionale dressuurruiter, Isabell Werth, die storie van 'n driejarige seuntjie se eerste uithourit, hoe om jou perd se kleur te laat uitkom deur die gebruik van kruie, uitritte op die berge van Kaapsche Hoop, die mening van 'n Amerikaanse veearts oor hoefbeslag teenoor kaalpoot loop, en die opwindende sport van Ride and Tie.
Dan rapporteer ons oor die opsie om deur middel van afstandsonderrig jou vermoë om jou perd af te rig, op te knap en ons bring vir oulaas 'n besoek aan Meksiko, waar ons kyk na die tradisionele drag van die Meksikaanse cowboy, of “charro”. Ons ondersoek 'n skrikwekkende siektetoestand wat perde kan oorkom as hulle ver reis en kyk ook na sekere skolingsbeginsels in die afrigtingsarena.
Dit en nog baie meer wag vir u in hierdie uitgawe van SA Horseman. Lekker lees!