Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Oor berge en dale
deur Hennie Basson

Die perd was oorspronlik ‘n vrylopende dier wat moes oorleef in die ooptes en oor gebergtes en in die vryheid van die natuur. Om dié ­gevoel gedeeltelik saam met hierdie diere te beleef en boonop interessante uithoeke van ons land te verken, is in die moderne era slegs vir enkeles beskore.

Soos vir ‘n eksklusiewe groep perdeliefhebbers in die Wes-Kaap wat hierdie voorreg kan deel wanneer hulle oor naweke en in ­vakansies die uitsonderlike diverse natuurwonders van sekere dele van ons land saam met hulle perde en vriende kan meemaak.

Daarmee saam kan hulle ook die aard, eienskappe en selfs behoeftes van die perd beter leer ken in ‘n soms ongerepte, byna ­natuurlike staat.

Van die moelikste bereikbare dele van ons land word só op ordelike en georganiseerde wyse saam besoek – vanaf die perd se rug of in rytuie wat deur hierdie edel diere getrek word.

Hierdie meer as 100 bevoorregtes is almal lede van die Ruiterpadvereniging van SA, ‘n organisasie wat reeds in die jare sewentig in verskeie provinsies in die lewe geroep is, maar nou nog net in die Wes-Kaap aktief bedryf word.

“So sonder die angel van kompetisie en in ‘n gesindheid van absolute ­mededeelsaamheid en kameraadskap, kry ons die geleentheid om uithoeke van ons land te besoek en te bespied waarvan die meeste mense net kan droom,” sê Deon van Zyl, ‘n bestuurslid van die ­vereniging.

Van die plaas Vastrap, waar hy werksaam is, wys hy in ‘n sirkel na die kontoere van die hoogste berge in die Witzenberge wat dié ­vallei, ver bokant Ceres, omsirkel: “Met my perd as vriend is hier maar weinig van hierdie rotsgebiede wat ek nog nie besoek het nie. So ook baie dele van die Wes- en Suid-Kaap en die Karoo, maar dan in groepe saam met lede van ons vereniging.”

“Daar is seker nie ‘n bergreeks in die Wes-Kaap wat nog nie so saam besoek is nie”, ­vertel Deon. Nie net is die kuslyn vanaf Port Elizabeth tot aan die Weskus al deur hulle deurreis nie, maar gebiede sover as Pella by die Oranjerivier was al op die program.

Ritte langs geskiedkundige poskoetsroetes van weleer is ook hoog op die agenda en soms word met lede se deelname kleur aan ­feesvieringe tydens gedenkgeleenthede ­ver-leen – soos toe die sogenaamde Vergete Grootpad enkele jare gelede in herinnering geroep is. Lede van die Ruiterpadvereniging het die 70km vanaf Karoopoort met kapkarre afgelê.

Die vereniging se bedieningsgebied is in 34 streke verdeel, met ‘n verteenwoordiger in elk en daar word volgens ‘n jaarplan gewerk. Die ritte word gewoonlik oor naweke gehou en duur sowat drie dae, maar daar is ook langer toere wat oor sewe tot tien dae strek. ­Uitsonderlike ritte word soms onderneem, soos toe 600 km in 13 dae met molwaentjies in die Klein-Karoo afgelê is. Ook spesiale nagritte is uiters gewild.

Ofskoon tot 35 perde en ruiters al van ­hierdie ritte saam meegemaak het, verkies die lede groepe van tien tot 15 wat die logistieke vereistes vergemaklik, sê Deon. “Oral langs die roetes word die ruiters en koetsiers met ope arms ontvang. Soms is die oornaggeriewe ietwat luuks, maar in baie gevalle, wanneer ons dit verkies, oornag ons sommer in die ­ooptes van die natuur – met die sterrehemel bo jou. Skure en waenhuise is baie keer gewilde oornagplekke.

Van die lede is nie bietjie trots op hul knaphandigheid nie en op die ritte spog hulle gewoonlik met hul selfgemaakte tooms en eie verwante patente. Deon hou veral van die ­restourering van outydse perderytuie.

“Bowenal is die uitsonderlikheid van ­hierdie samesyn egter dat almal bereid is om ondervindinge en ervaringe met mekaar te deel. So leer die een van die ander.”

Deurgaans moet lede hulle by ‘n streng ry-etiket hou. Dit sluit onder meer in dat ‘n ruiter nooit ‘n ander mag verbysteek sonder om sy toestemming te vra nie. Dat ­ongelukke soms voorkom weens veral die moeilike ­terrein wat baie keer aangedurf word, is ­egter ‘n gegewe.

Die perde vervul uiteraard die ­oorwegende rol op hierdie ritte en hulle welstand is uit die aard van die saak die hoogste prioriteit. Perde wat ritte meemaak, moet geskik vir ruiterpaddoeleindes wees, nie senuweeagtig van geaardheid wees of geneig om ander te byt of te skop nie. Hingste word net by uitsondering toegelaat. Indien daar wel ‘n probleemdier is, moet dit heel vooraan die groep ry.

Volgens Deon moet die diere sag in die bek wees, vinnig en platvoet kan stap en nie geneig wees om te jog nie. En benewens die aanbieding van ritte, word lede se ­kennis oor perdeverwante aangeleenthede ook deur die aanbied van kort kursusse opgeskerp – soos in hoefbeslaan, die inspan van perde, mondhigiëne, en dies meer.

Die rol wat die vereniging se viermaandelikse nuusbrief vervul, is ook nie ­gering nie. “Naas ons grondwet kan dit as ons ruggraat beskou word. Hiermee word lede ­voortdurend op die hoogte van sake ­gehou en word hul deur leersame artikels ­geprikkel,” sê Deon wat nou lank reeds die samesteller daarvan is.

Hoewel lidmaatskap van die Uithouritvereniging slegs op uitnodiging geskied, is verdere inligting by Deon bekombaar. Sy telefoonnommers is 023 313 3400 of 084 758 9861.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.