|
“Nadat die Percheron byna sy swanesang in ons land beleef het, is daar in die jongste jare weer nuwe lewe in dié bedryf te bespeur. Daarom moet voorskrifte vir teling opnuut aandag kry en die foute van die verlede reggestel word.” So sê Gerrie van Zyl, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Percherontelersgenootskap, en ‘n handhawer van hierdie ras oor baie dekades.
Daar was ‘n stadium dat die bedryf deur groot negatiwiteit gekenmerk is en die meeste van die handjievol telers wat oorgebly het, blindelings diere geteel het sonder om hulle te steur aan raseienskappe en die grootte van die diere.
“Ván hulle het met teling voortgegaan sonder genoegsame kennis en sonder om te besef dat hierdie tradisioneel ‘n swaar trekperdras is en hulle grootte ononderhandelbaar moet wees. Daarom is begin om hierdie perde te klein te teel – ‘n saak wat dringend aandag verg en op die genootskap se prioriteitslys is.”
Van Zyl meen dat voeding ‘n uiters belangrike rol tot die uitgroei van ‘n perd vervul. Baie telers het toegelaat dat vullens in die veld grootword – dalk op suurveld – en dit het hulle groeiproses benadeel.
As vertrekpunt om die ras weer tot ‘n aanvaarbare standaard te verhef, het Van Zyl en die ondervoorsitter van die genootskap, Johan van der Merwe van Elsenburg, onlangs bekende en minder bekende Percheronstoeterye in die land besoek. Op hierdie toer het hulle die diere aan ‘n keuringsproses onderwerp.
Aangesien dit die eerste keer in jare was dat seleksie op hierdie wyse geskied het, was dié twee keurders tegemoetkomend tydens die keuringsproses. Seleksie sal egter tydens ‘n volgende besoek heelwat strenger toegepas word.
Die gehalte van die land se merriemateriaal is in die algemeen steeds baie goed. Hoewel die meeste merries as fondasiemerries aanvaar is, moet telers nou in hulle teelbeleid net van goeie hingste gebruik maak en selfs semen gebruik wat deur die staat by die Landboukollege Elsenburg verskaf word. ‘n Plaaslike veearts kan ingeroep word om inseminering te doen.
Ofskoon semen ongeveer drie jaar gelede deur die staat na Elsenburg ingevoer is, is daar drie aanvaarbare hingste beskikbaar waarvan semen getap en aan die bedryf beskikbaar gestel kan word. Soos wat hy reeds vir baie jare in sy eie Almaradastoet by Goudiniweg doen, raai Van Zyl telers aan om slegs die beste bekostigbare hingste in hulle stoeterye te gebruik.
Soos in ander lande, maak die genootskap se rasstandaarde voorsiening vir die teel van twee tipes Percherons, naamlik waar merries 15,2 tot 16 hand hoog is (in Frankryk as die postuurtipe bekend) en die groter merries wat hoër as 16,2 hand is.
In beide gevalle moet die hingste 16,2 tot 17 hand wees en hulle moet deurgaans vanaf 900 tot 1 000 kg weeg.
“Daar is plek en ‘n doel vir beide tipes in die bedryf, maar daar moet altyd binne hierdie kriteria gehou word en voortdurend toegesien word dat die diere nie te klein geteel word nie”, sê Van Zyl.
Volgens hierdie veteraan is die Percheron die mees gebalanseerde van alle swaar trekperdrasse, is sy stamina buitengewoon en is hy aanpasbaar in uiterste toestande. Hierdie diere beskik ook oor die mooiste geaardheid denkbaar.
Wat bouvorm betref, is daar ‘n verskeidenheid eienskappe waarop in die teelproses gelet moet word. So byvoorbeeld moet die perd oor ‘n mooi kop beskik (beslis nie met ‘n Roman nose nie), sy vel moet skoon onder die kaak wees en die oë moet lewendig wees.
Die skouers moet skuins wees (45 grade), die bors breed (maar nie uitermate nie), terwyl die kruis breed en plat moet wees, en nie hoër as die skof nie. ‘n Sterk, reguit rug word verlang en die boude moet mooi gerond wees en laag afloop. Boonop moet die ribbes gewelf wees.
Van Zyl sê dat aangesien hierdie ‘n swaar perd vir veeleisende werk is, die toestand van sy bene en hoewe van uiterste belang is. Wanneer geselekteer word, is sterk bene dus ‘n prioriteit.
Hoewel alle Percherons swart van kleur is ná geboorte, kan beide ‘n wit of skimmelkleurige of ‘n swart tipe geteel word. Merries vul maklik, sê Van Zyl.
Hy stem ook nie saam met bewerings dat merries of hingste wat vir teeldoeleindes gebruik word, nie swaar werk moet doen nie. “Hoewel perde nie ooreis moet word nie, kan werk hulle net goed doen. Merries moet egter twee maande vóór en ses weke ná vultyd, nie in die tuig werk nie.”
Oor die toekoms van hierdie “gewillige werkers” in die land was Van Zyl dekades laas só opgewonde. Tydens sy onlangse besoeke aan telers was die entoesiasme in die ras wat bespeur is, uiters opvallend. Die versorging van die diere word in die algemeen ook sorgsaam gedoen.
|