Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Die merkwaardige Mirarti
deur Izak Hofmeyr

Arkab Mirarti verdien sonder twyfel om as een van die ­legendes van die Suid-­Afrikaanse uithouritbaan ­ge-klassifiseer te word. ­Hierdie 16-jarige bruin Arabierreun het sy eerste rit tien jaar gelede voltooi – 80 ­kilometer op die destydse Premierbaan by Rayton met Gendane Mtimunye in die saal. Hulle het die rit in 4 uur 51 minute voltooi en ’n negende plek in die liggewig-afdeling ­behaal. Dit was ook Gendane se eerste rit.

Hoewel sy teling van bloubloed uithouritgene spreek (’n Quimran merrie ­Arkab ­Neeli by Vlinkfontein Rakale), sê sy ­spanmaat tydens die meeste van sy ritte, Janita Doyer, dat hy as jong perd nie ­besonders ­uitstaande was nie: "Ek het egter lankal reeds gesê hy gaan my 100-­myler perd word op grond van sy vry draf en sterk bouvorm."

In sy eerste jaar het hy vyf 80-kilometer ritte voltooi met tye wat wissel tussen 5 uur 30 minute en 6 uur 30 minute. Sy seisoen is afgesluit met Fauresmith wat hy in 10 ure 55 minute voltooi het, weer met Gendane in die saal.

Sy tweede jaar was op dieselfde trant, met drie 80’s tussen 4 uur 7 minute en 5 uur 2 minute met Gendane, en toe nog drie waarvan twee met Wilhelm en Tobias, en twee van Janita en Van Duyn se seuns, albei swaargewigte.

"Daardie jaar is ons nie Fauresmith toe nie as gevolg van die vergiftiging en dood van ons perde net voor Fauresmith. ­Mirarti het ook gif ingekry, maar gelukkig nie genoeg hom skade te doen nie. Toe gaan ons Hofmyer toe en kom 15de uit 57 in 11 ure 41 minute. Hier het ek begin besef dat hy dalk tog aan my verwagtinge gaan voldoen!" ’n Maand later is hulle Alma toe waar hy amptelik derde gekom het.

"Sy sterk punte is eerstens sy ­ongeloof-like kompeterende geaardheid en die ­vermoë om sy pas te reguleer. Sy geheue is fenominaal. Hy onthou elke baan wat hy gery het in detail! Nooit het ek ’n sterk toom nodig gehad vir ’n eerste been nie, maar wel vir die laaste been as hy dink daar is kompetisie."

Aan die negatiewe kant, sê Janita, is sy hoewe sy swak punt. Hy het ongelooflike harde hoewe wat sy soms eers moet week voordat sy hulle doeltreffend kan trim. ­"Ongelukkig groei hulle skeef en dit verg baie noukeurige beslaan om hom sound te hou. Sy vel is ook besonders gevoelig en die vasmaak van sy buikgord moet net reg wees, anders skaaf hy agter sy elmboog. Daarmee saam kry hy maklik greasy heel wat noukeurig bestuur moet word."

Mirarti het nie die ideale ­beweging ­volgens teksboeke nie, sê Janita. Hy swaai sy regterhoef na buite en plaas sy ­agtervoete voor mekaar in die draf – amper ’n vlegbeweging. Janita ry hom altyd met agterskutte om aankap te voorkom.

Mirarti het ook ’n rol gespeel in die ontwikkeling van die breëboomuithouritsaal in Leon Liversage se reeks, nadat Janita by Alma agtergekom dat sy tree korter was as tydens sy eerste Hofmeyr. Hy het ook twee keer gestruikel en eenkeer op sy knieë ­beland – baie vreemd vir hom.

"Op aanbeveling, en baie teensinnig, het ek Leon genader. Ons het verskeie modelle uitgetoets, sonder kussings vir ruiter of perd, en met ’n boom na vore gekom wat die perd pas. Leon het toe ’n afdruk van Mirarti se rug gemaak, want hy is heelwat breër as meeste perde, en vir hom sy eie saal gemaak – vandag nog die breëboomsaal in Leon se reeks."

Die soet en suur van die uithouritsport lê maar baie naby aan mekaar. Aan die een kant onthou Janita en Van Duyn die keer toe Mirarti met Van Duyn in die saal ­skitterend op Christiana gery het. Hulle het ’n ­gemiddelde spoed van meer as 17 kilometer per uur gehandhaaf en sou derde geëindig het, maar toe trap ­Mirarti sy yster af net nadat hulle oor die ­wenstreep is en skeur sy linker-voorste mediale ­hulpligament.

"Die twee wonderlike ervarings was sy twee derde plekke op Hofmeyr," vertel ­Janita. "Met die eerste was ek in ongelooflike pyn. Die laaste been kon ek nie meer draf nie, dit was fisies net te seer. Toe gallop hy die hele tyd op en af, net stadig waar ons normaalweg gedraf het. Die volgende keer toe ek daar ry, kon ek nie glo hoe hy dit reggekry het nie!

"Ons het net werklik twee keer wen in die oog gehad – met die besoek van die Nieu-Seelanders waar ek vir hulle gery het by Hofmyer, en in Otjiwarongo. Die ­Namibiërs het voortdurend vir ons gevra om ’n 100-myler by hulle te kom ry. Ons sê toe ja –­ ­sodra hulle ’n FEI-rit aanbied. Toe doen hulle dit en vra my om met Mirarti vir hulle ’n standaard te kom stel.

"Dan was daar natuurlik ook ­wonderlike 120- en 130-km ritte. Hier het hy twee gewen, een keer tweede en twee keer derde gekom, waarvan een met Van Duyn op sy rug teen standaard ruiters. Daarna het hy nog een op Walvisbaai voltooi met Van Duyn op sy rug, na sy tendonbesering en herstel van sy hoefprobleme."

Nadat hy sy 6 000 km-toekenning gekry het, sê Janita, is elke ekstra 1 000km ’n ­besonderse hoogtepunt. Deesdae is Van Duyn sy gereelde ruiter en hulle het die 9 000 km merk in hulle visier. Wie weet, miskien word 10 000 km nog ’n ­werklikheid.

’n Opsomming van sy prestasies

  • Vyf Fauresmith-ritte voltooi
  • Sewentien 100-mylers voltooi waarvan 13 wenplekke, drie derde plekke en ’n 15de plek
  • Hy het tot op hede 8 056 kompeterende kilometers voltooi – ’n nasionale rekord
  • Hy het in sy loopbaan ses bes-voorbe­reide-perd toekennings verwerf.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.