Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Klein maar getrein!
deur Niconette du Toit

Nog voor die hoenders kraai is die driejarige Hanco Benade uit die vere en staan slaggereed om saam met oupa te boer. Oupa ­Stoffel Moolman, ‘n beesboer op die plaas Waterval naby Vaalwater in ­Limpopo, het baie beeste wat gereeld versorg moet word. Dit is harde werk, maar wanneer Hanco en sy perd, Diamond, agter die stuur inval maak vele hande ligte werk.

Ja, al is hy net drie jaar oud is Hanco ‘n ­kranige ruiter en oupa Stoffel sy geduldige leermeester. Diamond is ‘n hardkoppige boerperd en baie ongewild tussen die groter kinders. Tot almal se verbasing, gehoorsaam hy Hanco se bevele tog te gewillig en daar bestaan ’n hegte band tussen dié twee.

Die uithouritsport is 'n groot liefde in dié familie en oupa Stoffel is ‘n ervare ­uithouritruiter met menige eerste plekke op sy kerfstok. Hanco se droom om eendag saam met sy oupa uithourit te ry, kon dan ook nie meer langer wag nie. So gedroom, so gedaan! Na getroue oefening en voorbereiding word die slapies afgetel vir Sondela se uithourit!

Op 27 Mei 2007, ‘n dag voor Hanco se ­vierde verjaarsdag, heers daar groot ­opgewondenheid in die Benade-kamp! As jy ‘n uithouritruiter is, sal jy dié gevoel verstaan. Sommer vroeg al is Diamond skoon geborsel, opgesaal en reg om te vertrek.

Oupa gee nog ‘n hand met die ­opklimslag, maar van daar af is Hanco in beheer en doen hy die nodige geselswerk met sy perd. Met oupa aan die voortou en ‘n glimlag wat van oor tot oor strek, vertrek Hanco dan op sy eerste uithourit.

Dertig kilometer is 'n stywe entjie en ­alhoewel die eerste klompie kilometers al geselsende verbyglip, moes vasberadenheid die laaste deurslag gee. Met elke “hoe ver is dit nog?“ moes oupa maar mooi verduidelik. Afstand is maar ‘n moeilike begrip vir ‘n driejarige en oupa moes die laaste tien kilometer met bekende plaasbakens vergelyk.

Uiteindelik, na drie ure en 17 minute in die saal, is die eindpunt in sig. ‘n Gesoute ­groom-span staan gereed om vier stofgesigte te verwelkom en spring dadelik aan die werk.

Die moegheid is gou iets van die verlede toe Hanco sy perd vir die veeartsondersoek laat draf. ‘n Kop-knik van die veearts sorg dan vir Hanco se eerste amptelike, welverdiende uithourit in sy ruiterboekie!

Die warmte in oupa Stoffel se hart en die vreugde op Hanco se gesig spreek boekdele. Na ‘n groot druk van sy kleinbaas en met ‘n volge-stopte teff-net, voel Diamond weer perdfris. ‘n Nasionale kampioen kan nie gelukkiger wees nie?

En later die aand, toe bedrywighede in die kamp bedaar, klink ‘n moeë dog trotse stemmetjie in die stilte op: “Oupa, wanneer is die volgende uithourit ...?”

(Hierdie klein knapie word dan ook ten volle geborg deur Epol vir sy volgende uithourit)

Hanco en Diamond draf vir die veearts

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.