|
Die Olimpiese Spele in Meksikostad in 1968, het die benadering van atlete tot aerobiese oefening vir altyd verander. Atlete wat voor die 1968 Spele oefening in die dun lug hoog bo seevlak in hul oefenprogramme ingesluit het, het ander atlete loshande uitgestof.
Verslae oor die voordele wat oefening hoog bo seevlak op perde het, is al in die 1960's gepubliseer sonder enige uitwerking op die renperdbedryf. In 1971 het ’n buiteperd, Canonera II, die Kentucky Derby gewen nadat hy in die voorafgaande tyd in Venezuela, hoog bo seevlak, voorberei is. Sedertdien is al hoe meer werk gedoen om die invloed van hoogte bo seevlak op perde se fiksheid te bepaal.
Beide perde en mense moet eers aanpas by die hoogte bo seevlak voor hul daar kan oefen. Navorsing het getoon dat die liggaam slegs hierdie aanpassings ondergaan as dit vir ’n minimum van agt tot tien uur per dag aaneenlopend vir minstens 25 dae aan hoogte blootgestel word.
Suurstofvlakke
Na hierdie aanpassing verbeter die liggaam se vermoë om suurstof aan die verskillende organe en stelsels te lewer. Dit is weens die feit dat die lug hoog bo seevlak minder suurstof bevat, wat die liggaam dwing om dit wat besikbaar is, meer doeltreffend te gebruik. Dit wil voorkom asof hierdie verbeterde vermoë nou gekoppel is aan ’n toename in totale bloedvolume, sowel as ’n hoër persentasie rooibloedselle.
Een van die nadele van oefening hoog bo seevlak, is ook gekoppel aan die laer beskikbare suurstofvlakke. Ten spyte daarvan dat die liggaam die suurstof meer doeltreffend gebruik, is daar steeds te min suurstof om werklik hard te kan oefen. Dit het tot gevolg dat, indien perde net hoog bo seevlak geoefen word, hul spiermassa, en daarmee saam hul prestasievermoë, uiteindelik verminder.
’n Ander negatiewe aspek is dat die druk binne in die longe hoog bo seevlak hoër is as op seevlak, wat die risiko van bloeding (weens klein bloedvaatjies wat bars) verhoog.
Natuurlike prosesse
In ’n poging om die negatiewe aspekte te voorkom, is gevind dat dit beter is om perde (net soos mense) hoog in die berge te laat bly, en om hulle dan af te bring na seevlak om te oefen. Dit bied die voordele van die aanpassing by die hoogte bo seevlak, en terselfdertyd kan die perd hard geoefen word in die suurstofryke lug by seevlak.
Die mikpunt van hierdie "bly hoog, oefen laag"-benadering, is om die perd se vermoë om fisiologies by ander omstandighede aan te pas, te gebruik om sy aerobiese vermoëns te verbeter. Dus maak mens gebruik van natuurlike prosesse om die perd se volle genetiese potensiaal te ontluik. Dit is veel beter en veel meer aanvaarbaar as die gebruik van verbode middels!
Maar wat behels hierdie fisiologiese aanpassing?
- Dit behels eerstens meer doeltreffende asemhaling, wat insluit dat meer lug op ’n slag ingeasem word, met verhoogde opname van suurstof uit die lug na die bloedstroom.
- Meer rooibloedselle ontwikkel, en meer suurstof kan sodoende deur die bloed gedra word. Daar vind ook ensiemveranderinge plaas, wat die vrystel van suurstof uit die rooibloedselle na die spiere en organe verbeter.
- Meer kapillêre bloedvate ontwikkel in die spiere. Kapillêre bloedvate is die kleinste vertakking van bloedvate in die liggaam. Slagare wat suurstofryke bloed na die spiere bring, eindig in kapillêre vaatjies wat dan verseker dat die bloed by alle selle uitkom. Aan die ander kant is die kapillêre vaatjies die oorsprong van die are wat suurstofarm bloed (wat hoog is in koolsuurgas en ander afvalstowwe) uit die liggaam moet uitgeskei. Wanneer daar meer kapillêre vaatjies is, verbeter dit die inbring van suurstof en die uitdra van koolsuurgas en afvalstowwe soos melksuur.
- ’n Verhoogde uithouvermoë ontwikkel weens die hoër aerobiese drempel. Dit beteken dat die perd vir langer tye aerobies kan werk, en dus meer gebruik maak van koolhidrate en vette vir energie, en minder van glikogeen. Dit beteken verder dat minder melksuur geproduseer word.
- Kardiovaskulêre fiksheid verbeter, met groter bloedvolume wat per hartslag uitgepomp word. Dit lei tot ’n laer polstempo by dieselfde hoë vlak van werk en verbeterde herstelvermoë, met die polstempo wat vinniger afkom na oefening. Omdat die hart minder straf werk, bly daar meer reserwes oor en kan die perd later bietjie harder gedruk word vir daardie laaste eindpoging.
- Spiere se metaboliese vermoë neem toe, sodat daar meer doeltreffend van energiebronne gebruik gemaak kan word.
Dit alles beteken dat ’n perd wat geaklimatiseer is om hoog bo seevlak te bly en dan by seevlak te oefen, die vermoë het om langer aaneen teen maksimum aerobiese uitset te werk, en dat hy vinniger van intensiewe oefening herstel.
Dit kom dus neer op meer doeltreffende oefening, met korter oefenprogramme om dieselfde vlak van fiksheid te bereik. Dit het weer die bykomende voordeel dat die risiko vir besering afneem.
Doeltreffende programme
Wat is die waarde van dit alles? Dit is tog nie vir almal moontlik om hulle perde hoog in die berge te laat slaap, en dan by seevlak te gaan oefen nie. Dis vir daardie rede dat daar wêreldwyd gekyk word na apparaat wat hierdie oefenprogramme kan naboots. Sou dit ekonomies haalbaar word, kan ons dalk ’n verbetering in wentye van uithouritperde sien.
Dis egter nie die voordeel waarvoor ons behoort te mik nie. Nee, die voordele van meer doeltreffende oefenprogramme met laer risiko vir besering, en die feit dat perde die harde werk wat gepaard gaan met deelname aan uithouritte beter sal kan verwerk, is veel belangriker as die vinnige tyd!
|