Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Voeding vir jou voorspeense vullens

deur dr Francois Van Niekerk (PhD)(Agric)(Pr Sci Nat)

Met die ontwikkeling van die spysverteringstelsel van die vul ná geboorte, is dit belangrik dat ons deurgaans voedingstowwe voorsien sodat die vul die beste moontlike voeromsetting in daardie stadium behaal. By geboorte is die spysverteringskanaal van die vul vir alle praktiese doeleindes 'n enkelmaagstelsel met geen mikrobiese vertering in die grootderm nie.

Tydens maand vier begin melkproduksie afneem en word die vul gedwing om meer aan voer te peusel

Sogende vullens

Tydens die eerste twee tot drie maande van die vul se lewe, sal die melk van die merrie in al sy voedingsbehoeftes voorsien. In hierdie tydperk begin die vul aan gras, hooi en konsentrate waarop die merrie voed, te peusel. Vullens vreet ook soms van die vars mis van die merrie. Daardeur, kry die vul van die mikrobes van die grootderm van die merrie in.

Die mikrobes begin in getalle toeneem in die grootderm en stimuleer die vul om hooi en konsentraatvoere in 'n beperkte mate in te neem. Tydens maand vier begin melkproduksie afneem en word die vul gedwing om meer aan voer te peusel. Die vul begin dan in kompetisie met die merrie vreet en kan later tot 40% van haar voer opvreet. Dit maak dat die merrie se kondisie afneem, wat kan maak dat sy haar volgende fetus kan verloor.

Melk en spening

Met die melkdieet was die proses van vertering heel eenvoudig. Melkproteïen is in die maag en dunderm verteer en die aminosure in die dunderm geabsorbeer. Melkvet en ander suiker is in die dunderm verteer en die afbreekprodukte geabsorbeer. Die grootste beperking in dié stadium is die beperkte volume van die maag van die vul. Dit is ongeveer 500 ml in volume en noodsaak die vul om gereeld klein hoeveelhede melk te drink. Die merrie kan soveel as 15 tot 20 liter melk per dag produseer, hoewel die uier redelik klein voorkom.

In hierdie stadium begin mikrobes in die grootderm van die vul in getalle toeneem. Die beperkte ruvoer en grane wat gevreet word, kan dan aan mikrobiese vertering blootgestel word. Die vul word nou blootgestel aan die produksie van die vlugtige vetsure (propionsuur, asynsuur en bottersuur) in die grootderm. Die vlugtige vetsure word nou geabsorbeer en gemetaboliseer in die wand van die sekum. Die metabolisme van die vul verander dan, aangesien die melkdieet nou deur 'n graan-en-veseldieet vervang word. Op die ouderdom van vier maande is die vulletjie se vertering reeds so gevorder, dat hy van melk gespeen kan word.

Tydens die eerste twee tot drie maande van die vul se lewe,
sal die melk van die merrie in al sy voedingsbehoeftes voorsien

Merries en vullens op weidings

Op baie teelplase word merries en vullens op weidings aangehou. Goeie weidingsbestuur is van uiterste belang. Bemesting van weidings met stikstofbevattende kunsmis het groot voeropbrengste tot gevolg. Die proteïeninhoud van hierdie weidings soos bepaal deur die stikstofinhoud, is gewoonlik hoog. Onder toestande van 90% lugdroogheid, kan die proteïeninhoud so hoog as 25% wees.

Baie van die stikstof is in die vorm van nitrate wat uiters nadelig vir perde is. Nitraatvergiftiging onder merries veroorsaak aborsies weens die suurstofbinding met hemoglobien in bloed. In die geval van jong vullens veroorsaak hierdie toestand kontraksie van tendons, veral in die voorbene. Dit maak dat die vul later op sy kootgewrig moet loop. Die toestand is omkeerbaar indien dit betyds behandel word. Neem diere van hierdie weidings af en voer hulle net hooi tot hulle toestand verbeter.

Voedingsgedrag

Sogende vullens beweeg saam met die merries in kampe en op weidings. Kruipvoeding is die ideale manier om die vul te leer om op sy eie te vreet. Die voordeel daarvan is dat die vul nie in kompetisie met die merrie vreet nie en dat voer met 'n meer toepaslike voedingstof-inhoud aan die vul voorsien kan word. Begin met kruipvoeding wanneer die eerste vullens agt tot twaalf weke oud is.

Kruipvoeding kan op verskeie maniere toegepas word. Die vul moet net apart van die merrie gevoer word. As kruipvoeding in groepe plaasvind, moet seker gemaak word dat dominante vreters nie oorvreet en swakker vullens honger ly nie. In gevalle waar merries individueel in stalle gevoer word, kan die vul apart van die merrie gevoer word. In gevalle waar vullens gretig vreet en tekens van been abnormaliteite toon, kan die merrie se voerbak gelig word sodat die vul dit nie kan bereik nie.

Kruipvoerders moet so ontwerp wees dat die merrie nie die voer kan bereik nie en ook nie die vul kan beseer nie. Plaas die kruipvoerder op 'n plek waar merries gereeld bymekaar kom.

Voedingsbehoetes

Dit word algemeen aanvaar dat vullens kruipvoer teen 500 g per maand-ouderdom gevoer kan word. Dit beteken dat die vul 2,5 tot 3 kg kragvoer sal vreet wanneer hy op vyf tot ses maande gespeen word. Goeie gehalte hooi moet ook voorsien word.

Proteïen

Aanbevole proteïenbronne sluit in hittegeprosesseerde sojaoliekoekmeel, volvet-sojameel asook vismeel. Sonneblom-oliekoekmeel kan ook gebruik word, maar katoenoliekoek sal nie sommer aanbeveel word nie, weens die gossipol-inhoud wat nie vir perde voordelig is nie.

Daar moet nooit onverwerkte of rou sojaboontjies in perdevoere gebruik word nie, aangesien dit 'n tripsieninhibeerder bevat. Dit sal proteïenvertering in die dermkanaal ernstig inhibeer.

Energie

  • Stysel: Verwerking van stysel in grane deur die prosesse van mikronisering en ekstrusie, maak die stysel baie meer verteerbaar. Dit bring mee dat die grootste hoeveelheid in die dunderm verteer en afgebreekte produkte geabsorbeer word.
  • Vette: Vette word in die dunderm verteer en die vetsure geabsorbeer. Moenie meer as 5% vet in die rantsoene insluit nie.
  • Vesel: Gebruik hooi van goeie gehalte wat maklik verteerbaar is in die grootderm.

Minerale en vitamiene

Om moontlike tekorte of wanbalanse uit te skakel, voeg 'n kommersieel vervaardigde voormengsel vir hierdie klas perde in. Dit sal alle nodige vitamiene en spoorelemente insluit.

Speenvullens

Die speenproses kan dramaties verloop en 'n negatiewe effek op die groei van vullens hê. Daar word voorgestel dat daar daagliks 'n paar merries uit 'n kamp verwyder word, terwyl vullens agterbly by ander vullens en merries. Sodoende word speenstres tot 'n minimum beperk.

Voorsien genoeg goeie gehalte hooi en, indien beskikbaar, plaas hulle op weidings. Begin met die voer van kragvoer op die massa soos waarop die vul gespeen is. Dit is baie belangrik om die groei van die vul nou te kontroleer en oormatige massatoename te beperk, aangesien dit aanleiding kan gee tot beenabnormaliteite en blywende skeletabnormaliteite. Oefening is uiters belangrik in hierdie stadium, aangesien dit beensterkte bevorder.

Massatoename en groei

Renperdvullens weeg tussen 45 tot 65 kg by geboorte, afhangende van die grootte van die merrie en haar voeding tydens dragtigheid. Ons moet deurgaans probeer om vullens wat tussen 180 en 250 kg weeg op ses maande te speen. Indien hierdie groeitoename gehandhaaf kan word, sal die perd 'n massa van 380 tot 450 kg bereik op 18 tot 24 maande ouderdom.

Om 'n konstante groei met goeie beenvorming te verseker, moet die vul se dieet nooit drasties aangepas word nie. Vir groeiende vullens en jaaroudperde behoort die kragvoergedeelte met 250 g na elke twee weke vermeerder kan word. Dit sal kompensatoriese groeifases uitskakel en sodoende beenprobleme beperk.

Die skrywer, dr Francois van Niekerk, kan by e-pos francois@nubalance.co.za gekontak word.
Besoek ook www.nubalance.co.za vir meer inligting.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.