Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Vind vrede op Welgelegen

deur Izak Hofmeyr

Goed geleë. Dit is wat die naam beteken. En hoe gepas. As jy rus en vrede soek en jou batterye wil herlaai, dan is 'n wegbreek na dié plaas in die Amersfoort-omgewing dalk net wat jy nodig het.

Gaan slaap met die geluid van jakkalse wat sommer hier langs jou roep, en uile en ander nagvoëls wat jou daaraan herinner dat jy maar net deel van die groter prentjie is. En word wakker van perde wat runnikend speel, beeste wat bulk en hoenders wat kekkelend die nuwe dag verwelkom.

Asem die soet lug in wat in die Drakensberge filtreer word en drink lemonade-soet fonteinwater wat onder 'n klipplaat uitborrel, so suiwer soos die dag ná die skepping. Staan dan op en ervaar
tipiese boeregasvryheid op hierdie ongerepte, asemrowende stukkie Afrika.

 

Rus vir 'n stadskind

Frans en Mariëtte van Niekerk en hulle gesin het in die middel 1990's van Pretoria hierheen getrek en deel hulle stukkie paradys graag met stedelinge. Hulle was immers self daar en weet van daardie versugting na ruimte en stilte.
Welgelegen bied egter baie meer as 'n perdry-ervaring. Daar word ook voorsiening gemaak vir stappers en bergfietsryers. Die Klein Vaalrivier, wat deur die mooiste deel van die plaas vloei, vorm diep, koel poele en seekoeigate waar 'n mens kan swem, roei en visvang.

Die voetslaanpaaie is 'n lushof vir die natuurliefhebber en hou jou vir dae besig sonder om dieselfde plekke te sien. Hierdie is die inheemse tuiste van verskillende voëls, soos die mahem, flamink, ooievaar, sekretarisvoël, verskillende uilspesies, wildekalkoen, ibis, piet-my-vrou, hoep-hoep, houtkapper, kormorant, visvanger, renostervoël, wildemakou, wildegans, wilde-eend en die duikertjie.

Die perde

Dis egter vir die perdry dat die meeste gaste hierheen kom. Volgens die 22-jarige Francois, wat vir die gaste verantwoordelik is, is die sleutel tot 'n goeie perdry-ervaring op twee elemente geskoei – goeie, sterk en betroubare perde en 'n toerleier wat sy omgewing soos die palm van sy hand ken en elke rit 'n ondervinding maak wat nie ligtelik vergeet sal word nie.

" 'n Mens moet verstaan dat vir gaste wat nie hul eie perde het nie, die ervaring om met hierdie ongelooflike diere in aanraking te kom, baie intimiderend kan wees. Aan die ander kant is daar ruiters wat wel hul eie perde het. Vir hulle moet ons iets bied wat opmaak vir die feit dat hulle op vreemde perde ry wat nie noodwendig geleer is soos wat hulle gewoond is nie."

Francois behandel sy perde met meer as die nodige liefde, respek en dissipline en so behandel hy die ruiters wat saam met hom ry ook.

Omdat die ritte op 'n aktiewe veeplaas aangebied word, het gaste die keuse om by die daaglikse plaasaktiwiteite in te skakel. Die beeste word soggens uitgeneem veld toe, en kom saans weer in om naby die huis te slaap. Verder word die skape daagliks getel. Al hierdie werk word van die perd se rug af gedoen en gaste kan hieraan deelneem.
Daarbenewens word ritte op die plaas volgens die spesifieke behoeftes van die gaste beplan – langer, meer avontuurlustige roetes vir die ervare ruiters en korter, makliker roetes vir die groentjies.

"Vir my gaan dit oor die gaste – die plesier wat die perde verskaf, die ontspanning en ervaring wat die omgewing bied, sonder gedwonge deelname vir iemand wat net wil rus," sê Francois.

Skakel Mariëtte vir enige navrae by 079 538 8455.


Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.