Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Só werk parasietweerstand

deur Izak Hofmeyr

Parasietweerstand word deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) omskryf as "die ontwikkeling van die vermoë van 'n stam organismes om dosisse gifstowwe te weerstaan, wat gewoonlik dodelik vir die meerderheid individue in 'n normale bevolking van dieselfde spesie is".

Kortom beteken dit dat, in enige parasietbevolking, daar individue is wat geneties weerstandig is teen 'n spesifieke middel of aktiewe bestanddeel wat dodelik is vir die meerderheid van individue, nog voordat die middel die eerste keer vir die beheer van die spesifieke parasiete gebruik word.

Helminte

Interne parasiete, verduidelik Pierre van Niekerk, 'n kenner op die gebied van bosluisbestryding, word as helminte beskou. Hieronder tel nematodes of rondewurms, trematodes of platwurms (lewerslak, hart- en longwurm) en sestodes of lintwurms, wat mense ook besmet as hul ongaar vark- en beesvleis eet.

Baie van hierdie parasiete kan die belangrike immuunselle van die gasheer se liggaam deaktiveer. Dit veroorsaak dat die dier dan 'n verswakte immuunrespons teenoor bosluis- en insekoordraagbare siektes het.

Daar is by die beheer van interne parasiete net drie chemiese groepe: bensimidasool, Iimidasotiasool en makrosikliese laktone. Helminte het baie vinnige metabolismes en moet aktief voed om te oorleef en voort te plant. Die farmakologiese werking van helmintiese middels fokus daarop om belangrike lewensfunksies (homeostase) by velstrukture, senuweepunte en spierfunksies te ontwrig. So word die belangrike senuwees by suiermonddele van rondewurms verlam, wat die wurm dan verhoed om 'n bloedmaal te neem. Dit veroorsaak dat die wurm verswak en verhonger, vrek en natuurlik in die mis uitskei.

'n Volgesuigde wyfie-bloubosluis

 

Eksterne parasiete

Hardedopbosluise is die oorsaak van siektes soos rooiwater, galsiekte en hartwater en word ook verantwoordelik gehou vir gewigsverlies, speenskade, velskade en verlammings. By eksterne parasiete is daar sowat 96 samestellings of handelsname vir bosluisbeheer wat kombinasiesamestellings insluit. Hierdie samestellings word geformuleer in agtien aktiewe bestanddele, wat vyf chemiese groepe (maniere van werking) verteenwoordig: organofosfate, sintetiese piretroïede, formamidien, makrosikliese laktone en chitiensintese-inhibeerder of groeireguleerders.

Weerstandigheid van bosluise teen chemiese middels word oorgeërf en kom hoofsaaklik voor deur die selektiewe uitwerking van chemiese middels op weerstandige mutasies wat vooraf in lae frekwensies in veldbevolkings voorkom (Brown, 1976).

Die genetiese faktor

Hoewel chemie 'n belangrike rol speel in die beheer van parasiete, verduidelik Pierre, is kennis van chemiese produkte en die kennis waarmee toedienings plaasvind, die enigste redes waarom weerstandigheid by interne en eksterne parasiete ontwikkel.

In genetiese navorsingsondersoeke het bioloë bevind dat daar weerstandige gene in van die belangrikste parasiete gevind word voordat hulle aan enige chemiese middel blootgestel is. Die wetenskap bewys dat parasiete genetiese vermoëns het om vinnig vir weerstandigheid te selekteer. Dit bewys egter ook dat hoe minder parasiete aan chemiese beheermiddels blootgestel word, hoe minder kan weerstandigheid daarteen geselekteer word.

In Suid-Afrika, vertel dr. Tom Strydom van die Malalane Navorsingstasie, is dit hoofsaaklik bloubosluisweerstand wat die afgelope dekade of wat, dramaties in Suid-Afrika toegeneem het. Twee bloubosluisspesies word in Suid-Afrika aangetref, naamlik die Afrika-bloubosluis (Rhipicephalus boophilus decoloratus), wat die vektor van Afrika-rooiwater is, en die Asiatiese bloubosluis (Rhipicephalus boophilus microplus), wat die vektor van Asiatiese rooiwater is.

Die bloubosluis is 'n eengasheerbosluis en kom hoofsaaklik by beeste voor. Dit dra rooiwater en galsiekte, wat jaarliks groot verliese veroorsaak. Die dier word met larfies van bosluise, wat op die weiding voorkom, besmet. Die larfies voed deur bloed te suig vir ongeveer sewe dae, waarna hulle vervel, verhard en ontwikkel tot nimfies. Die nimfies voed weer vir ongeveer sewe dae, waarna hulle ook vervel, verhard en ontwikkel tot volwassenes.

Die volwasse wyfiebosluise begin voed en wanneer hulle volgesuig is (na ongeveer sewe dae), val hulle spontaan van die dier af en begin binne 'n week op die grond eiers lê. Die mannetjie bly op die dier en wag vir die volgende volwasse wyfie om te paar. Die eiers neem so drie weke om uit te broei, waarna die larfies weer wag om teen die volgende gasheer op te klim.

Die tydperk vandat die larfies op die dier geklim het totdat volgesuigde wyfies waargeneem word, is ongeveer 21 dae. Slegs die volgesuigde wyfiebosluise is gewoonlik sigbaar op perde.

Bosluise en perde

Ongelukkig is dit so dat waar perde-eienaars gewoonlik met bloubosluisbeheer sukkel, dit op plase is waar daar vir jare met beeste geboer is of waar daar met beeste en perde op dieselfde plaas geboer word.

Die volgende faktore, sê dr Strydom, dra by tot die ontwikkeling van bloubosluisweerstand:

  • Die herhaaldelike gebruik van dieselfde aktiewe bestanddeel, jaar na jaar, om die bosluise te beheer.
  • Kort dipintervalle.
  • Die relatiewe kort lewensiklus van die bloubosluis wat meebring dat meer as een generasie deur die jaar voorkom.
  • Ideale omgewingstoestande.
  • Die wangebruik van dipmiddels.

Soos vroeër genoem, word die weerstand van parasiete deur hulle nageslag oorgedra. Hoe korter die lewensiklus van die parasiet, hoe meer generasies sal daar deur die jaar voorkom en hoe vinniger sal die weerstandige individue in 'n bevolking relatief tot die vatbare individue toeneem.

Die ideale omgewingstoestande vir bosluise om te oorleef en te vermeerder, is ongeveer 27°C en 80% relatiewe humiditeit. By hierdie vogtige en warm toestande teel bosluise optimaal aan en vermeerder vinnig. Indien gunstige toestande deur die jaar gehandhaaf word, sal daar meer generasies van die bosluise voorkom. Dit verduidelik hoekom bosluisweerstand 'n groter probleem in die warmer en meer gematigde dele as in die droër, kouer dele van ons land is.

Wangebruik van dipmiddels

Indien bosluise aan laer konsentrasies dipmiddels oor 'n tydperk blootgestel word, hetsy in 'n dompeldip, spuitdip, of wanneer 'n opgietmiddel nie teen die regte dosis toegedien word nie, sal bosluise weerstand teen die middel/aktiewe bestanddeel ontwikkel.

Die wangebruik van dipmiddels, veral opgietmiddels, dra by tot die ontwikkeling van bosluisweerstand. Ons Suid-Afrikaanse boere is lief daarvoor om tuisgemaakte opgietmiddels te 'formuleer' om bosluise te bestry, vertel dr Strydom. Behalwe dat die praktyk onwettig is, word bosluise aan lae konsentrasies van die aktiewe bestanddeel wat in die formule gebruik word, blootgestel en ontwikkel weerstand teen die groep aktiewe bestanddele.

Dieselfde bosluise veroorsaak dan probleme in perde waar daar voorheen met beeste op die plaas geboer is of waar daar met beeste en perde op dieselfde plaas geboer word. Bees- en perde-eienaars spandeer jaarliks groot bedrae geld om die bosluise te probeer beheer. Vir die perde-eienaar is die probleem nog groter, aangesien daar 'n beperkte aantal middels vir perde geregistreer is om bosluisbeheer toe te pas.

Hoe gemaak?

Wanneer die perde-eienaar weerstand met bosluise op sy plaas ondervind, is daar ongelukkig nie 'n kitsoplossing vir die probleem nie. Die algemeenste metode van bosluisbeheer in Suid-Afrika, is steeds chemiese beheer – met ander woorde, deur jou perde te dip.

Daar is slegs twee groepe aktiewe bestanddele geregistreer vir bosluisbeheer in perde, naamlik organofosfate en piretroïede. Die formamidien- (of amidien-) groep met Amitraz as aktiewe bestanddeel, mag nie in perde gebruik word nie! Die middels kan koliek en gevolglike vrektes van perde veroorsaak.

Die middels word in formulasies gebruik vir handbespuiting van perde teen bosluise. Indien die perde-eienaar nie die gewenste uitwerking op bosluise met een van die twee groepe ondervind nie, moet hy na die ander groep verander. Dit maak geen sin om van een middel wat 'n piretroïed as aktiewe bestanddeel bevat, na 'n ander middel ook met 'n piretroïed te verander nie.

Indien veelvoudige bosluisweerstand ondervind word (teen beide groepe aktiewe bestanddele), raak die situasie meer ingewikkeld en lei dit gewoonlik tot hoë kostes. In so 'n geval kan die perde-eienaar poog om beeste en perde op dieselfde plaas te laat wei, sodat die beeste as 'stofsuiers' vir die bosluise optree en daardeur moontlik die bosluisbevolking verminder. Die beeste word dan met 'n doeltreffende middel behandel.

Die makrosikliese laktoongroep van middels wat ivermektien, doramektien of moksidektien bevat, is geregistreer vir die behandeling van bloubosluise in beeste en is nog doeltreffend.

Voorkom so 'n situasie

  • Gebruik 'n middel so lank as wat dit doeltreffend is teen die bosluise. Wanneer daar dan weerstand met een groep (soos piretroiëde) ondervind word, moet daar na die ander groep (soos organofosfate) verander word. Indien die prosedure gevolg is, kan die boer/eienaar weer terugkeer na die eerste groep, aangesien die bosluise dan weerstand teen daardie groep 'verloor' het. Afwisseling met groepe aktiewe bestanddele word nie aanbeveel nie. Navorsing het bewys dat wanneer daar met groepe afgewissel word, bosluise 'n weerstand teen meer as een aktiewe bestanddeel ontwikkel, wat oor die lang termyn katastrofiese gevolge kan hê.
  • Dip minder gereeld wanneer bosluise onaktief is, soos in die winter. Soos reeds genoem, dra kort dip-intervalle tot die ontwikkeling van bosluisweerstand by.
  • Gebruik geregistreerde dipmiddels streng volgens voorskrif. Maak seker dat die korrekte dosis van die middel toegedien word en dat die dipkonsentrasie korrek is.
  • Voorkom die aankoop van 'stoetbosluise'. Bloubosluisweerstand kom algemeen in Suid-Afrika voor en menige diere- eienaars het al in die slag getrap deur diere te koop wat afkomstig is van plase waar die bosluise weerstandig teen een of meer aktiewe bestanddele is. Die diere word dan op die koper se plaas summier veld toe gejaag, waar hierdie weerstandige bosluise dan op die boer se veld afgegooi word.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.