Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Somer is inentingstyd

deur Paul van Dam

Die somer het aangebreek en dis dalk nou die regte tyd om jou inentingsprogram onder die vergrootglas te plaas. Daar is verskeie entstowwe vir perde op die mark beskikbaar en 'n mens moet 'n oordeelkundige program volg om aan jou perd die maksimum beskerming te gee. Volgens my is die belangrikstes:

Perdesiekte

Dit is en bly die aakligste van alle siektes wat perde aantas. Daar is nege verskillende stamme van die perdesiektevirus, waarvan sewe in die entstof ingesluit is. Die entstof bestaan uit twee fraksies, omdat die immuunstelsel nie voldoende weerstand sal opbou as 'n mens al die stamme in een inspuiting sou insluit nie. Die twee fraksies word drie weke uitmekaar toegedien.

Ent alle nuwe vullens in sodra hulle ses maande oud is en weer ses maande later. Alle ander perde word jaarliks ingeënt. Vind uit wanneer perdesiekte in jou omgewing gedurende vorige jare op sy slegste was. Beplan dan jou inentings so, dat jy die tweede fraksie toedien ongeveer ses tot agt weke voor die hoë-risiko periode.

Perdegriep

Daar is altyd maar heelwat debat hieroor en baie glo dat dit nie nodig in om teen perdegriep in te ent nie. Onthou egter dat, as jy nie inent nie, jou perd geen weerstand sal hê nie. Sou perdegriep dan uitbreek, is die kans goed dat jou perd dit gaan opdoen.

Daar is verskeie perdegriepentstowwe beskikbaar. Nie almal gee beskerming vir dieselfde tydperk ná toediening nie en sommige beskerm vir ses en ander vir twaalf maande. As jou perd nie gereeld aan sport deelneem nie, kan jy maar net die aanbeveling van die vervaardiger volg. As perdesport egter jou passie is, is dit beter om elke ses maande in te ent.

Tetanus

Perde kan maklik tetanus opdoen en die gevolge is dikwels fataal. Verskeie entstowwe is beskikbaar, waarvan sommige 'n kombinasie met perdegriep is. Jaarlikse inenting is voldoende.

Herpes

Perdeherpesvirus veroorsaak aborsies, toestande van die asemhalingstelsel en senuweesimptome. Dis meer van 'n probleem op stoetplase; daarom behoort alle stoeterye hul perde teen herpes in te ent.

Onthou

Dis beter om nie te veel entings op een slag te doen nie. 'n Mens wil nie die immuunstelsel oorlaai en veroorsaak dat opgeboude immuniteit nie voldoende beskerming verleen nie. Moenie teen meer as twee siektes op een slag inent nie.


Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.