Die jong perdemeester (Deel 9) - Jou perd se gedrag
deur Elna Wahl
Perde se oë sit weerskante van hul koppe. Anders as 'n mens, sien 'n perd nie gelyktydig wat aan sy linkerkant en regterkant gebeur nie. Wanneer daar aan sy linkerkant iets gebeur, sal hy sy aandag daarop vestig. Sy aandag mag gerig wees op sy ruiter wat aan sy linkerkant staan en besig is om op te klim. Gebeur daar egter iets aan sy regterkant, skrik hy, want hy was nie bewus van die ruiter langs hom nie.
Dit is baie belangrik dat jy jou perd aan sy linkerkant en regterkant skool en hom gewoond maak daaraan dat beweging van beide kante kan kom. 'n Goeie oefening is om met 'n lang leiriem aan die perd se regterkant te staan en dit oor sy rug te wip na die ander kant. Hy kan moontlik skrikkerig wees, maar sal later aanvaar dat dit geen bedreiging inhou nie.
Die blinde kol
Wanneer jy jou perd reg van voor nader, kan hy jou baie goed sien. Daar is egter 'n blinde kol waar hy nie kan sien nie. As jy jou hand uitsteek om hom op sy voorkom te vryf, kom jou hand in die blinde kol tussen sy oë en sien hy nie meer jou hand raak nie. Die eerste wat hy dan voel is die aanraking teen sy voorkop. Geskoolde perde weet al wat gebeur en skrik nie.
Lang teuels
Dit is 'n goeie reël om jou perd langteuels te gee wanneer jy oor 'n stroompie of 'n klipperige koppie ry. Dan kan die perd goed sien waar hy moet trap. Wanneer die perd naby wil kyk, laat hy sy kop sak en wanneer hy ver wil kyk tel hy sy kop op. Wanneer hy iets onbekends sien, sal hy op en af met sy kop speel om te verstaan wat hy sien.
Kop omhoog
'n Perd wat se kop hoog opgetel word, sal sy pote hoog optel om seker te maak dat hy nie oor iets struikel nie. Vir sommige mense is dit mooi as die perd sy kop so hoog optel en hoog trap met sy pote. Daarom sit hulle stange in hul perde se bekke en ry met die teuels sodat die perd sy kop moet optel.
Dit is in die perd se aard om sy kop hoog op te tel wanneer hy skrik of iets verdags gewaar. As sy kop hoog opgetel is, word oordragstowwe in die brein afgeskei wat veroorsaak dat baie adrenalien in die bloed vloei. Dit is vir die perd, wat op sy vlugreaksie staatmaak, tot voordeel. Nou kan hy vinniger van die gevaar vlug. Dieselfde gebeur wanneer die ruiter die perd dwing om met sy kop hoog in die lug te loop. Adrenalien vloei ook in oormaat en dikwels kan so 'n ruiter nie meer sy perd beheer nie.
Jou perd se aandag
Wanneer jou perd se aandag aan sy linkerkant is, sal sy linkeroor gewoonlik na die linkerkant gedraai wees, en andersom. Hou dus sy ore goed dop. Wanneer sy ore na agter gerig is, is die perd gerig op sy ruiter. 'n Goeie, deeglik geskoolde perd se een oor is dikwels na voor gerig omdat sy aandag daar is en die ander oor is gerig op sy ruiter. Wanneer sy ore egter teen sy kop platgetrek word na agter, is hy ontevrede.
As die wind waai
Op winderige dae is die perde dikwels onrustig in die veld. Hulle ore draai rond en is nie op hulle gemak nie. Die wind dra geluide van ver af en dit is vir die perd moeilik om die oorsprong van die geluid te skat. Op Mooikrans ry ons dikwels uit in groepe van tot twintig perde. Op so 'n winderige dag sorg die ruiters dat hulle met goeie spasie tussen die perde uitry. Die perde hoor soveel geluide in die wind, dat hulle hul sommer vererg vir die perd wat langs hulle stap.
Vreemde geluide
Perde kan vreeslik skrik vir vreemde geluide. Een wintersdag ry ek saam met 'n klompie ruiters deur 'n nou klofie. Ek is lekker verkoue en toe ek my neus blaas, skrik my perd en vlieg vorentoe. Met die wegspring en geweldige spoed ry ons in die ruiter voor ons vas.
Oefening vir die maand
'n Perd leer gou sy ruiter se stem en fluit ken. Die perd kan nie woorde verstaan nie, maar hy hoor aan die klank van die stem wat die woord beteken. Oefen jou perd om te stop op slegs 'n teken. Op Mooikrans stop al 42 perde van ons op 'whoa' wat laag en diep gesê word, omdat ons hulle so geleer het. Begin deur die woord te gebruik saam met die lyftaal wat gebruik word om die perd te stop. Lê effens agteroor en trek aan die leisels. Later sal jou perd stop sodra jy die stop woord gebruik.
|