Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Uit die perd se bek / From the horse's mouth
deur Izak Hofmeyr

Die soeke na 'n ware vennootskap

Ek lees die ander dag die inleiding tot die Amerikaanse webwerf vir 'Western Dressage' www.westerndressageassociation.org, en hulle misiestelling val my op.

Hulle missie, sê hulle, is om 'n perdegemeenskap te bou wat die ou 'Western' tradisies kombineer met klassieke dressuur. Hulle eer die perd en waardeer die vennootskap tussen perd en ruiter. Baie mooi, dink ek, maar wat ek volgende lees, laat my regop sit. Dit weerspieël presies my eie uitgangspunt ten opsigte van die gebruik van perde.

'n Missiestelling wat die perd eer en die vennootskap tussen perd en ruiter waardeer, word daar verduidelik, vereis 'n intense ondersoek na die manier waarop perde afgerig word om deel van hierdie vennootskap te word. Dit moet:

  • Die psige van die perd in ag neem, en die manier waarop perde teenoor afrigtingsmetodes reageer.
  • Die perd se gesondheid en toekomstige gebruik in ag neem, sodat hy sterk en vry van beserings kan bly.
  • Die perd se beperkinge sowel as sy sterk punte in ag neem, beide fisies en psigies, sodat elke perd as individu sy eie potensiaal kan verwesenlik en altyd gretig bly om nuwe dinge te leer.

Verskillende ambisies

Daarmee saam, verduidelik hulle verder, moet so 'n missiestelling in dieselfde mate ook die eienaar/ruiter van daardie perd in ag neem, tesame met sy of haar verwagtinge en beplande aanwending van daardie perd. Vir sommige mag die hoogtepunt 'n veilige en genotvolle uitrit wees, terwyl ander weer ambisie het om die hoogste sport in 'n gegewe dissipline te bereik.

Die hele gees waarbinne die stuk geskryf is, vind aanklank by my: die uitbou van hierdie vennootskap tussen ruiter en perd waarbinne die perd bereid is om sy eie instinkte op te skort ter wille daarvan om homself só aan die wil van sy ruiter oor te gee, dat dit sy eie wil ook word.

Hierdie bereidwilligheid van perde om volledig die wense van sy ruiter uit te voer, plaas natuurlik 'n geweldige verantwoordelikheid op die ruiter, want dit is so maklik om die vertroue wat in jou gestel word, te misbruik. Dis vir ons mense oor die algemeen baie moeilik om 'n doeltreffende leier te wees sonder om jou perd te boelie.

Moenie ophou leer nie

Vir my is dit krities dat 'n mens voortdurend moet bly soek na beter maniere. Net soos die missiestelling van die 'Western Dressage'-beweging onder andere insluit dat die perd gretig sal bly om nuwe dinge te leer, geld presies dieselfde vir die ruiter – die gretigheid om te bly leer. Die effek hiervan behoort na my mening te wees dat die kommunikasie tussen ruiter en perd al fyner sal word, dat die perd homself al ligter sal dra en dat die tekens van die ruiter toenemend onsigbaar sal word. Dis wanneer ruiter en perd waarlik een word.

 

Izak Hofmeyr Izak Hofmeyr

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.