Die regte perd vir
tent pegging
deur Izak Hofmeyr
Suksesvolle organisasies het een eienskap gemeen − daar is altyd 'n klein groepie geesdriftiges in die agterkamer wat die dinge laat gebeur. Dit is mense wat dikwels ten koste van ander aspekte in hulle lewens, tyd en energie insit om die 'saak' te dien, omdat hulle daarin glo.
Dit is beslis die geval by die Dordrecht Tent Pegging-klub. Die bestuur, onder leiding van Brendon Muir, het hierdie plattelandse en relatiewe klein tent pegging-klub in 'n aktiewe en dinamiese sportliggaam ontwikkel, wat selfs 'n teelprogram insluit om die ideale tent pegging-ponie te teel.
 |
Hierdie ruiters ry nou al vir vyf jaar saam. Dis baie belangrik dat die vier ruiters in 'n seksie goed met mekaar oor die weg kom. Van links is Brendon Muir op PSH Latino (geteelde Pegger-perd), Desmond Venter op die teelhings, PSH Danie, Leon Venter op Oscar en Willem Stapelberg op Jackaroo |
Militêre wortels
Die sport was vir baie jare in Suid-Afrika as gimkana bekend, maar die naam het 'n paar jaar gelede na tent pegging verander, omdat dit die naam is waaronder dit in die res van die wêreld bekend staan.
"Die naam, tent pegging, is baie beskrywend vir waar die sport vandaan kom, naamlik uit die Brits-Indiese oorloë. Britse berede soldate het die tentpenne van die Indiese soldate met hulle swaarde of lanse uitgesteek, wat natuurlik die tente op die Indiërs laat inval het. Dit het die Indiërs weerloos gelaat, terwyl hulle gesukkel het om onder die tentseil uit te kom," verduidelik Brendon.
Seksies
Die klub kan tans twee seniorseksies (bestaande uit vier lede elk) en een juniorseksie in die veld stoot. Wat die klub so besonders maak, is hoeveel provinsiale of nasionale kleure oor die jare reeds aan lede toegeken is.
"Ons het nog altyd, hoewel ons eintlik 'n klein klub is, baie goeie ruiters gehad. Dordrecht het al 'n naam opgebou as een van die voorste tent pegging-klubs in die land, en vir die een of ander rede kom daar gereeld uitstekende kinderruiters by ons deur," vertel Brendon.
Kultuur en omgewing
Die Dordrecht-gebied in die Noordoos-Kaap is 'n uitgebreide veegebied waar perde nog baie aktief op die plase gebruik word. Kinders word nog met perde groot en baie ry reeds lank voor hulle skool toe gaan. Dit, glo Brendon, speel 'n belangrike rol.
 |
Die jong reun, PSH Samurai, is 'n goeie voorbeeld van die soort perd wat uit die teelprogram kom |
"Ons is maar baie geïsoleer hier en die enigste georganiseerde perdesporte hier is uithouritte en tent pegging. Kinders word dus in die tradisie van tent pegging groot. Die klub is al langer as 50 jaar aan die gang. Van ons ouers het as jongmense in die klub gery. In sommige gevalle is ons kinders dus al die derde geslag ruiters wat deurkom. Die tent pegging-kultuur lê dus redelik diep hier by ons gevestig."
Die samestelling van 'n seksie, bestaande uit vier ruiters, is 'n baie belangrike oorweging in 'n kompetisie, vertel hy.
"Ons een senior seksie kom seker nou al vyf jaar saam. Dit is baie belangrik dat die vier ruiters in 'n span goed met mekaar oor die weg kom. Om die waarheid te sê, dit is selfs belangriker as om die vier beste ruiters saam in 'n span te plaas," verduidelik hy.
Sowat 'n jaar gelede is die Suid-Afrikaanse Tent Pegging-vereniging deur sy eweknie in Oman genader om afrigting aan sy ruiters te gee. Suid-Afrika is bekend vir sy goeie tegniek en die Omaanse ruiters het uitstekende vordering getoon. In die proses het hulle ook baie goeie bande met die Omaniete opgebou en sedertdien het verskeie groepe hierheen gekom vir afrigtingsklinieke. Van die Dordrechtse ruiters het Oman intussen ook besoek. Hierdie blootstelling het vir die klub baie beteken.
Teelprogram
Oor die jare het die lede van die klub oor en weer hingste op 'n informele manier uitgeruil. Daaruit het die idee gevloei dat hulle 'n georganiseerde teelprogram vir tent pegging-ponies op die been moet bring. Die uiteinde is 'n formele, geregistreerde tent pegging sportperdteelprogram.
'n Goeie tent pegging-perd is gewoonlik tussen 14,1 en 15 hande hoog, het skoon bene, is gebalanseerd gebou en het die vermoë om vinnig van die merk te kom en volspoed te bereik. Hy moet atleties wees en in staat wees om die hele dag te kan deelneem. Verder moet sy temperament baie gematig wees.
Spoed is 'n baie belangrike faktor in tent pegging. 'n Tent pegging-perd moet 50 meter in 4,3 sekondes aflê. Die ideale kombinasie om hierdie eienskappe in een perd saam te bring, het hulle gevind, is 'n kruising tussen die Arabier, SA Boerperd en Amerikaanse Quarter Horse.
Foutlose vertoning
Een van die kenmerkende eise wat die sport aan die perde stel, is dat hulle elke keer 100% moet gee, en dat daar geen ruimte vir foute is nie.
"Dis algemeen bekend dat pensteek 80% oor die ruiter gaan en 20% oor die perd. Maar daardie 20% van die perd moet met elke rondte 100% gegee word. Dit is baie veeleisend vir die perd. 'n Perd wat hiertoe in staat is, is baie gesog, en ook baie skaars. Dit is die tipe perd wat ons teel."
Die regte hingste
Die eerste stap was om hingste te identifiseer wat hulle as die ideale pensteek-teelhingste beskou het en wat ook in die topdivisie meegeding het. Twee van die eerste hingste wat gebruik is, was King (6/7 Arabier, 1/7 Volbloed) en Danie (suiwer Arabier). Twee Boerperde, Regtrap en Geluk, van die TJ Boerperdstoet is later ingebring. Onlangs is 'n Amerikaanse Quarter Horse van Docperd Quarter Horse-stoet ook ingebring.
Die volgende stap was om by die Suid-Afrikaanse Sportperdfederasie te affilieer as telers van die tent pegging-sportponie. In die proses het hulle ook 'n handelsmerk geregistreer, die Pegger Sports Horse (PSH). Daarna is al die perde wat in die teelprogram opgeneem sou word, gekeur en gepunt.
Die regte merries
Die merries is meestal ook Arabier-Boerperdkruisings en die algemene benadering is om die individue wat meer na die Arabier-tipe neig, met hingste te dek wat meer Boerperd-eienskappe vertoon, en andersom.
Aanvanklik het die merriegroep uit tien merries bestaan, deurdat elke deelnemer minstens een van sy beste merries per jaar gee, wat by die Sportperdfederasie geregistreer word. Die doel hiermee is om 'n kernkudde van uitnemende merries te behou, maar elke deelnemer het dan nog 'n groep merries waaruit vullens geteel word, wat ook aan die program deelneem, maar nie by die Sportperdfederasie geregistreer is nie.
Die regte eienskappe
Een van die belangrikste eienskappe waarvoor hulle selekteer, is temperament, beklemtoon Brendon. Jong perde wat uit die teelprogram kom, moet vinnig aanpas en snap waaroor die sport gaan. Dit is baie bevredigend om te sien hoeveel van die perde wat uit hulle teelprogram kom, elke jaar op die Nasionale Kampioenskappe verskyn. Verlede jaar was daar ongeveer twintig.
Daar is 'n groot tekort aan goeie tent pegging-perde in die land, het hulle gevind, en daarom is daar 'n baie groter mark vir hulle perde as waarin hulle kan voorsien.
"Aanvanklik het ons die teelprogram aangepak omdat ons daarin belang gestel het. Mettertyd het ons egter besef dat die mark baie groter is as wat ons aanvanklik vermoed het. Verder het ons gevind dat ons perde baie gewild onder uithouritruiters ook is. Die perde word deur 'n kundige onder die saal gesit en basies geskool. Die koper kan die perd dan verder na sy eie hand afrig."
Aanvanklik het hulle beplan om 'n jaarlikse veiling te hou waarop hulle jongperde verkoop sou word. Hulle het egter gevind die vraag is so groot, dat hulle al die perde uit die hand verkoop sodra hulle gereed is – sekerlik die beste getuigskrif vir hierdie unieke sportperde!
|