Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Voeding vir jou vul se ma
by Izak Hofmeyr

Wat optimale voeding betref, kan die dragtigheidstydperk van 'n merrie basies in vier fases opgedeel word. Beide die gesondheid van die merrie en vul word grootliks deur doeltreffende voeding gedurende hierdie fases bepaal.

Die fases is vroeë dragtigheid (die eerste agt maande van dragtigheid); laat dragtigheid (die laaste drie maande van dragtigheid); vroeë laktasie (die eerste drie maande na die vul se geboorte); en laat laktasie (van vier maande tot speen).

Vroeë dragtigheid
Uit die aard van die saak is dit belangrik dat die merrie deurgaans 'n goeie, gebalanseerde rantsoen kry, maar gedurende die eerste agt maande van dragtigheid, verskil die merrie se voedingsbehoeftes nie baie van dié van 'n reunperd nie. As die merrie nog gewerk word, neem dít eerder in ag, as die feit dat sy dragtig is. Soos sy egter in liggaamsmassa toeneem met die vul wat in haar baarmoeder groei, moet die rantsoen daarby aangepas word.

Voer dus volgens die merrie se kondisie, sodat sy nie te maer of te vet is nie. Gewone onderhoudsrantsoen (10-12% proteïen) kan gedurende hierdie fase gevoer word.

Laat dragtigheid
Gedurende hierdie fase ontwikkel die vul baie vinnig in die baarmoeder, wat beteken dat die merrie se voedingsbehoeftes drasties toeneem. Dit is hierdie feit, sê Derek Cuddeford in sy boek Equine Nutrition (The Crowood Press, 1996), wat nou 'n uitdaging aan die teler stel, want soos die vul groter word, neem dit al meer ruimte in die merrie se pens op, wat haar vermoë om groot hoeveelhede ruvoer in te neem, beperk.

Nou word dit nodig om eerder op gehalte as hoeveelheid te konsentreer. Meer gereelde, kleiner porsies word nou baie belangrik. Gedurende hierdie fase moet 'n rantsoen wat meer proteïen bevat, gevoer word. Gewoonlik word 'n rantsoen met 15-16% proteïen gebruik, maar mens kan ook die proteïeninhoud aanvul deur 'n spesiale konsentraat wat 25% proteïen bevat, saam met die gewone rantsoen te voer.

So sal 4 kg van 'n rantsoen met 12% proteïen plus 2 kg van die aanvuller met 25% proteïen, dieselfde hoeveelheid proteïen verskaf as 6kg van 'n rantsoen met 16% proteïen. Cuddeford wys egter daarop dat dit ook belangrik is dat die merrie in hierdie fase nie oorvoer moet word nie. Vitamien- en mineraalaanvullings kan met vrug gebruik word om seker te maak dat daar aan haar behoeftes voldoen word.

'n Aspek wat gedurende hierdie tyd ook baie aandag moet kry, is die beskikbaarheid van water. 'n Laat-dragtige merrie behoort daagliks ongeveer 2-5 liter water te drink vir elke kilogram droë voer wat sy eet.

Vroeë laktasie
Na die vul se geboorte kan die merrie soveel as 5% van haar liggaamsmassa in melk produseer, wat beteken dat haar energiebehoefte drasties toeneem – baie meer as die laat dragtigheidsfase.

Vir merries op goeie weidings, sê Cuddeford, behoort die groen gras in die lente en somer genoeg voedingstowwe te voorsien om in haar energie-, proteïen-, kalsium- en fosfaatbehoeftes te voldoen. As die weiding egter onvoldoende is, is dit noodsaaklik om die rantsoen aan te pas om te verseker dat die merrie nie kondisie verloor en melkproduksie negatief beïnvloed word nie. Hou steeds by die rantsoen met hoë proteïeninhoud.

Maak ook seker dat die merrie deurgaans toegang tot skoon water het, want haar waterbehoefte sal in hierdie tyd maklik verdubbel.

Laat laktasie
Gedurende die vierde, vyfde en sesde maand van laktasie, maak die vul al minder op die merrie se melk staat vir sy voedingsbehoeftes en begin die daaglikse voedingsbehoefte van die merrie dus ook af te neem. Hoewel haar melkvolume nie noodwendig drasties afneem nie, is daar 'n besliste vermindering in die woema van die melk, deurdat die energie-inhoud afneem.

Hou steeds by die rantsoen met die hoë proteïeninhoud. Alles gaan dalk nie nou meer na die melk toe nie, maar die merrie het nou self ook die hoër proteïene nodig om weer haar liggaam op te bou. Nadat die vul gespeen is, kan mens geleidelik teruggaan na die onderhoudsrantsoen. Die merrie se kondisie is hier die riglyn.

Teen die vierde maand van laktasie voorsien die merrie slegs ongeveer 30% van haar vul se totale energiebehoefte. Soos wat die vul meer en meer van sy voedingsbehoeftes deur middel van ander voedingsbronne as melk verkry, moet die merrie se rantsoen op grond van haar kondisie bestuur word. Nadat die vul gespeen is, kan die merrie weer op 'n onderhoudsrantsoen geplaas word, soos tydens die vroeë dragtigheidsfase.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.