Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Die perfekte perd

Ek het my eerste perd vir Kersfees persent gekry. Dit was die jaar voor ek met standerd een (graad drie) sou begin. Hy was 'n geel Basoetopoon-tipe met swart maanhaar en stert, en sy naam was -Vrystaat. Ai, hoe het hy nie my lewe verander nie. My broer het 'n bruin merrie genaamd -Ounooi gekry, en die twee van ons het die wêreld platgery en cowboys en crooks gespeel in die berge agter ons huis op die sendingstasie by Witsieshoek.

Maar eintlik was die eerste perde in my lewe die drie wat ek vir 20c per dag by ou Ntate Mafanjole kon huur, voor ek my eie perd gehad het. Sent was 'n skimmelreun, en die "dooierigste" van die drie – die ideale beginnerperd. Daarna het ek opgegradeer na Hoss, 'n swart reun, en toe ek myself as 'n goeie ruiter begin beskou het, het ek vir Rich kans gesien, 'n bruin poon wat nie met hom laat speel het nie.

Maar Vrystaat het my lewe volmaak gemaak. Hy was al ouerig – so in die omgewing van 12 of 13 – en lui, met indraai voorpote en geen beweging om van te praat nie. Maar hy was myne en in my agtjarige oë, volmaak. Op sy rug was ek die cowboy wat ek gedroom het om te wees, ek was generaal De Wet, ek was die Rooi Ridder, en, op 'n Donderdagmiddag ná skool, was ek ook net 'n gewone skoolseuntjie wat met musiektassie in die een hand die twee myl na oom Reinhardt Bunck gery het vir musiekles.

Deesdae spandeer ek baie tyd met telers in gesprek oor die teel van die perfekte perd. Dis een van daardie nimmereindigende gesprekke, want elke ou het sy eie mening en sy eie doelwitte in sy teelprogram. In hierdie geselskap word enige perd wat nie aan die standaarde voldoen nie, oor die hoof gesien en half met minagting bejeën.

Maar ek het ook die voorreg gehad om onlangs weer 'n klein seuntjie te sien wat pas sy eie perd persent gekry het. Hy is maar 'n nederige ou perd wat duidelik al harde bene in sy lewe gekou het. Maar in die oë van sy nuwe basie bestaan daar niks beter nie. Hy is onmiddellik Ros gedoop, en die tyd wat met ou Ros spandeer word, tel baie duidelik as absolute hoogtepunte.

Wat my by die punt bring: Dit is die soeke na die perfekte perd wat veroorsaak dat beter en beter perde geteel word. Kyk maar na die vordering die afgelope paar dekades in die teling van Europese sportperde. Maar moenie die Vrystaats en die Rosse van die wereld vergeet nie. In terme van die rol wat hulle in die lewe van hul eienaars speel, staan hulle geen duit terug vir enige Olimpiese kampioen nie.

Ek is oortuig daarvan dat daar op die ou end net een definisie vir die perfekte perd is: Dit is 'n perd wat sy baas gelukkig maak.

Izak Hofmeyr

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.