Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Steeds op ’n galop
deur Paul van Dam

Een van die bekendste gesigte en seker die bekendste stem in die uithouritsport, behoort aan een van die vriendelikste mense wat by die sport betrokke is. Altyd ’n glimlag, altyd ’n lag as hy oor die luidsprekers praat en altyd bereid om te help waar hy kan.

Sarel Steyn, wat verlede jaar sy sewentigste verjaardag gevier het, staan vanjaar steeds reg om te help by uithouritte. Hy is doenig saam met die tydhouers, doen steeds aankondigings, en maak seker dat dinge rondom die wegspring van perde glad verloop.

Die begin van groot dinge
Sarel het tot die sport toegetree op uitnodiging, nadat hy saam met die Weermag die rit tussen Potchefstroom en Heidelberg ter herdenking van die Vryheidsmanifes, voltooi het. In 1981 het hy sy eerste rit aangepak, en in 1983 sy eerste Fauresmith (ongelukkig nie suksesvol nie).

In 1984, met Sudarik Saltor, was hy terug, en voltooi hy sy eerste Fauresmith 200. In 1985, steeds met Saltor, doen hy weer so. Die keer was hy ook deel van die Transvaalspan wat die spankompetisie gewen het, en verwerf hy sy Transvaalkleure. ’n Staatmaker, wat die unie verskeie kere as lid van die span verteenwoordig het, tot ’n laaste keer in 1998, op die perd Amrha Albarak.

Oor die jare het Sarel 7 500 km in kompetisie voltooi, en sewe keer sukses gesmaak by Fauresmith. Amrha Albarak het 5 000 km voltooi (een van min perde wat dit nog reggekry het), en het ’n spesiale toekenning, ’n skildery, ontvang omdat ook hy Fauresmith sewe keer voltooi het.

Maar dis nie net as ruiter wat Sarel ’n impak op die sport gemaak het nie. Nadat hy in 1981 as lid aangesluit het, is hy in 1983 verkies tot voorsitter van sy klub. Hierdie posisie het hy vir 23 jaar lank beklee, tot Februarie 2006! Hy is steeds ere-president van die klub. Hy het ook verskeie jare as president van die Transvaal Unie gedien, en is vandag steeds dagbestuurslid van die Mpumalanga/Gauteng Unie.

Vele deugde
Maar dit het nie daar opgehou nie. In 1985 is hy verkies tot die raad van die Uithouritvereniging van Suid-Afrika, waarna die raad hom as sekretaris aangewys het. Hierdie pos het hy beklee tot in 1994. Tydens sy termyn as sekretaris is verskeie hoogtepunte bereik.

So was hy saam met die destydse president van die Uithouritvereniging, dr Loukie Viljoen, betrokke by onderhandelinge met die departement van sport om te beding vir die toeken van nasionale kleure (toe Springbokkleure) aan uithouritruiters – iets wat tot ’n groot omwenteling in die sport gelei het.

Hy het ook saam met Loukie en Graham Pickett daarvoor gesorg dat die eerste reëlboek vir uithouritte in Suid-Afrika uitgegee is, en het hy saam met Loukie die formules vir die bepaling van die “beste voorbereide perd” en die voorgee van bane ontwikkel.

Deel van sy pligte as sekretaris was ook om die jaarlikse nasionale kampioenskappe (“Fauresmith”) te reël. Hier was hy verskeie kere beide as ruiter en in die kantoor betrokke. Hy het ’n medalje verwerf vir 15 jaar diens as beampte by Fauresmith, en het nou reeds 18 jaar diens as beampte by die rit op sy kerfstok.

Sarel se bydrae tot die sport kan nie gemeet word nie. Op formele vlak het hy, soos duidelik uit bostaande blyk, meer as sy deel bygedra. Na hy as sekretaris uitgetree het in 1994, is die pos in drie aparte poste opgedeel, en het die Uithouritvereniging ’n sekretaris, tesourier en koördineerder vir die nasionale kampioenskappe aangestel. Sarel het al hierdie aspekte alleen hanteer, alles in sy vrye tyd – voorwaar ’n prestasie.

Sy ander helfte
Maar geen artikel oor Sarel sal volledig wees sonder om ook sy vrou, Sarie, te noem nie. Sarie was, en is, altyd aan Sarel se sy en is saam met hom oral waar hy as ruiter of beampte aan die sport deelneem. Wie sal kan vergeet van die kere wat sy die aankondigings gedoen het by Fauresmith, en die emosie wat sy met almal gedeel het as haar man oor die eindstreep ry?

Dankie, Sarel en Sarie – vir julle werk, julle diens, julle voorbeeld. Wat ’n voorreg is dit om sulke mense as deel van ons sport te kan hê!

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.