|
Daar is 'n toenemende -ne-i-ging onder veeboere om opnuut na die gebruik van perde te kyk om hulle boerderye meer koste-doeltreffend te bedryf. Die rede hiervoor, volgens die KwaZulu-Natalse saalmaker, Ben Liebenberg, is dat brandstofpryse dood-gewoon so hoog geraak het dat die gebruik van bakkies en trekkers te duur geraak het om daagliks mee veld toe te ry.
"Die Suid-Afrikaanse perdebedryf is sonder twyfel 'n speelmark en nie 'n werksmark nie, maar ons vind met die verkope van ons saals, dat meer en meer boere na ons toe kom op soek na saals vir perde wat hulle opnuut op hulle plase wil gebruik vir veehantering.
"Dit het veroorsaak dat ons 'n nuwe model saal tot ons reeks moes toevoeg, wat vir -hierdie mark voorsiening maak. Wat hulle wil hê, is 'n bekostigbare saal wat teen robuuste gebruik bestand is, maar só gebou is dat dit nie die perd sal seermaak nie," sê Ben.
Goeie waarde
Boere het beslis twee tipe saals in gedagte, verduidelik hy. Aan die een kant soek hy 'n goedkoper, sterk saal vir sy veewagters, omdat hy 'n hele paar van hulle moet aankoop. Aan die ander kant soek hy 'n goeie, spesiale saal vir homself, en dis waar die duurder modelle na vore kom.
"Ons het byvoorbeeld 'n kliënt in die Warden-omgewing wat my die ander dag vertel het dat hulle 'n stuk of 200 kalwers in twee dae in die veld cowboy-styl gevang het en die nodige kastrasie en onthoorningswerk met hulle gedoen het."
Die Franco C saalmakery is deur Franco Cloete in die Mooirivier-kontrei van KwaZulu-Natal begin. Die saals is almal geskoei op die beginsel van wat die Amerikaners skirted saddles noem. Wat dit beteken is dat die saalboom eintlik die saal is, in teenstelling met gestopte saals wat hoofsaaklik in Engeland en Europa gebruik word.
In gestopte saals is die saalboom binne-in die saal. Die saalboom alleen pas nie op die perd nie – dit moet deur kussings wat opgestop word, só gevorm word dat dit nie die perd seermaak nie. In teenstelling hiermee kan die saalboom van 'n skirted saddle direk op die perd gesit word, en behoort dit die perd te pas.
'n Algemene voorbeeld sou die welbekende McClellan wees, wat niks meer as 'n saalboom met buikgord en stiebeuels is nie. Die Amerikaanse cowboy-saal is nog 'n voorbeeld. Die saalboom ís die saal.
Ben ('n opgeleide landbou-kundige) het drie jaar gelede by sy vriend, Franco, as vennoot aangesluit. Toe Franco so twee jaar gelede Kanada toe is, het hy sy aandele aan Helga Liebenberg verkoop en die egpaar bestuur die besigheid as ‘n span.
Die Franco C-saals is sterk deur die Amerikaanse cowboy-saals en ook Australiese veeboersaals beïnvloed. Een model, die Ultimate X Roper, is juis 'n kombinasie van die sterk punte van beide invloede.
Saals vir sport
Met die sterk groei in die uithouritsport die afgelope dekade of wat, is 'n spesifieke Franco C-uithouritsaal ook ontwerp wat toenemend aanhang geniet. Rofweg kan die Franco C-saalreeks in drie groepe ingedeel word, naamlik werksaals, wat hoofsaaklik cowboy-saals is, aksiesportsaals en uithouritsaals.
Die aksiesportsaals is in samewerking met polocrosse-ruiters ontwikkel. Die saals is ontwerp vir baie noue kontak met die perd en gee ondersteuning vir 'n stewige ruiterposisie, al moet die ruiter sy lyf in allerhande rigtings skuif.
Franco C-saalbome word almal van poliuretaan gegiet. Die voordeel van hierdie materiaal, verduidelik Ben, is dat dit uiters sterk is, maar dat mens tog met 'n rasper die boom kan vorm om presies op die perd se rug te pas.
"Ons maak hoofsaaklik gebruik van bome wat ons van elders kry en dan aanpas om aan ons spesifikasies te voldoen. So sal ons byvoorbeeld 'n saalboommaker in Amerika vra om 'n spesifieke boom vir ons te -ontwikkel, en dit dan hier aanpas. 'n Vorm van die boom word dan van glasvesel gemaak en die poliuretaan word in die vorm gegiet en op strategiese plekke, soos die saalvurk en die panele, met staal versterk. In terme van sterkte hou ons roping-saals maklik kers vas met die beste van Amerika."
'n Kern-element van die saals is dat die gewig van die ruiter oor 'n groot area op die perd se rug versprei word. Dit beteken dat die perd met gemak vir ure op 'n slag gery kan word, sonder die gevaar dat drukpunte op die rug ontwikkel en saalsere veroorsaak.
Saals en nog meer!
Behalwe vir die saals, maak Ben ook verskeie ander bybehore vir die ruiter. Daar is 'n reeks tooms, weer eens geskoei op die Amerikaanse en Australiese veeboertradisie, asook geweefde saalkleedjies, tou- en leerhalters en ook saalsakke. 'n Baie gewilde produk is 'n stanglose toom, wat veral in die uithouritwêreld gewild is, maar toenemend in die algemene rymark gebruik word. Verder voer hulle ook 'n klere-reeks in.
Een van die gegewe werklikhede in enige leerbesigheid, is dat daar baie afvalstukkies leer is. Vandaar 'n afsonderlike lyn van produkte soos beursies, sleutelhouers en messakkies. Een so 'n innoverende idee is om 'n saalsakstel te maak wat op 'n spesifieke toepassing gemik is. Vir uithourit-ruiters is daar byvoorbeeld 'n kombinasie van 'n sakkie vir 'n selfoon, waterbottel en eet-dingetjie.
Die saalkleedjies, op die patroon van die bekende Amerikaanse Navajo-kombers, bestaan uit geweefde wol, 'n middelste laag van hoë gehalte geslotesel-skuimrubber, en 'n laag (in kontak met die perd se rug) wat soos 'n skaapvel lyk, maar bestaan uit wol wat in 'n sintetiese basis ingeweef is, sodat die kleedjie wasbaar is.
'n Interessante storie is hoe hulle begin het om hulle eie saalkleedjies en sekere buikgorde te begin weef. Aanvanklik het hulle die saalkleedjies van 'n wewery ingekoop, maar die wagtydperk was só lank, dat hulle kliënte begin verloor het.
"Toe ons eendag 'n weefraam wat te koop was aangebied is, het ons besluit om te kyk of ons self die wewery kan oorneem. Op daardie stadium het ons gehoor van 'n wewery wat 200 werkers afgelê het en het een van die vrouens die werk aangebied. Die uiteinde van die verhaal is dat ons intussen nog 'n wewer moes aanstel om voor te bly met die bestellings."
Vir beide Ben en Helga was die besluit om by die saalmakery betrokke te raak, nie net op finansiële oorwegings geskoei nie.
"Hoewel hierdie 'n besigheid is, maak ek in die eerste plek nie saals om geld te maak nie, maar omdat ek daarvan hou. Daarom is dit vir my baie lekker om saam met 'n kliënt te beplan wat presies aan sy saal anders en uniek sal wees vir die spesifieke doel wat hy in gedagte het.
"Vir my gaan dit oor lewensgehalte. Ek wil iets doen waarop ek trots kan wees, en wat ek weet 'n direkte invloed op my kliënte se plesier en lewensgehalte het."
|