|
Dekades voordat miniatuur-perde die harte van mense oral in die wêreld verower het, was die klein Shetlandponie aanvanklik 'n uiters gewilde werks- en troetel-perdjie. Nou is dit 'n bedreigde diertjie in ons land, maar vir 'n Swartlandse liefhebber bly dit 'n kosbare kleinood.
Dit is uit hierdie poniesoort met sy oorsprong in die Shetland-eilande langs die Skotse kus, dat die eerste miniatuurperde hulle ontstaan te danke het. Rondom die middel-1900’s het Wynand de Wet van Lindley vir byna 40 jaar lank klein perdjies uit Shetlands geteel en groot sukses daarmee behaal.
Hierdie is in der waarheid een van die oudste Britse rasse wat waarskynlik in die tye van die Vikings ontstaan het of dalk van Skandinawië gekom het, voordat die eilande van die Europese kontinent geskei is. Wat dit meer merkwaardig maak, is dat die Shetlands oor die eeue weinig in voorkoms verander het. Met 'n hoogte van tot 102 cm, is hulle sterk vir hul grootte en kan selfs 'n volgroeide, volwasse persoon dra.
Met miniatuurperde en Walliese Ponies wat die plaaslike mark in die jongste dekades verower het, wonder 'n ouer geslag mense
egter wat van al die "Skotse ponies" geword het. Die jonger generasie is selfs feitlik onbewus van die ras se bestaan.
Waar Shetlands teen die middel van die vorige eeu en selfs daarná 'n groot lokmiddel in sirkusse en op skoue in die Suid-Kaap en die destydse Kaapse Skou was (met spesiale klasse vir hulle op sommige skoue), is weinig van hulle nog in die land oor.
Klipfontein se Shetlands
Oubaas Lesch van die plaas Klipfontein, oos van Malmesbury, is die afgelope drie dekades of meer waarskynlik die indiwidu met die grootste hoeveelheid Shetlands in sy midde.
In 'n stadium het hy oor meer as 100 ponies beskik. Nou is daar ongeveer 60 op die plaas. Ofskoon Shetlands nog net sporadies in die land voorkom, is hulle volgens hom 'n uitstekende beginnerperdjie vir kleuters en kinders. Oubaas waarsku egter dat kinders geneig is om sommige ponies te bederf en dan kan hulle erg geniepsig raak.
Ook moet hulle kwaliteite in die tuig nie vergeet word nie. Hulle is hard in die bek en indien hulle gereeld ingespan en in die tuig geoefen word, is hulle in der waarheid
ideale trekdiertjies voor 'n karretjie of waentjie. 'n Groot deel van Oubaas se mark is op die Kaapse Vlakte waar baie Shetland-eienaars hulle inspan en in die enkel- en dubbeltuig op die Maleierskou met hulle spog.
Hyself het deurentyd 'n groep van agt hingsies wat jaarliks voor 'n waentjie in--gespan word en van die grootste aan-trekkingskragte op Malmesbury se skou is. Oubaas glo dit is die enigste Shetlands in die land wat op hierdie wyse vertoon word. Hy probeer om hulle so eenvormig in kleur as moontlik te hou – swart.
'n Trekgeskiedenis
Shetlands het 'n lang geskiedenis as trekdier. Sedert die Industriële Rewolusie, toe kinders nie meer toegelaat is om in die steenkoolmyne van Brittanje te werk nie, is hulle deur Shetlands vervang.
Aangesien hulle voorouers die onherbergsame gebiede van die Shetland-eilande -bewoon het, is eienskappe soos gehardheid en langslewendheid ingeteel. Op Klip-fontein is hulle dus goed aangepas vir 'n lewe in die veld. In die somer gedy hulle op die stoppellande en gedurende winters op aangeplante weidings. Hingste moet ook die skaap- of bossieveld op die plaas benut.
Sowat 'n maand nadat die merries op die veld gevul het, word hulle met die vullens vir ongeveer drie weke op stal gehou, sodat die nuwe aankomelinge in 'n mate mak gemaak kan word. Daar ontvang hulle hawerhooi en -pitte, gemeng met melasse. Ook ponies wat skougereed gemaak word, kry dié voorreg.
Ofskoon Shetlands in Suid-Afrika nie by die SA Stamboek aangeteken word nie en daar nie 'n rasgenootskap is wat rasstandaarde kan vasstel nie, volg Oubaas 'n doelgerigte teelprogram.
“Waar met miniatuurperdteling gestreef word om die allerkleinste perdjies te teel wat 'n ewebeeld van spesifieke perderasse is, is die Shetland 'n egte ponie in die ware sin van die woord. Hierdie ponies het gewoonlik 'n sterk bouvorm, klein koppie, kort nek, stewige bors, welige haarbedekking (veral in die winter), 'n prominente dik stert en bowenal kort op die been,” verduidelik Oubaas.
Wat kleurvorm betref, streef hy na beide swart en bont ponies – eersgenoemde vir eenvormigheid wanneer hy die skouring met hulle betree, terwyl sy kopersmark hoofsaaklik bontkleurige ponies verkies wat 'n groter aantrekkingskrag vir kinders is.
'n Ryk geskiedenis
Klipfontein beskik oor 'n besondere perdegeskiedenis met 'n unieke aanloop tot by Shetlandteling, vertel Oubaas. Sy pa, wyle Bennie Lesch, het sy ploeg- en trekwerk eers met muile verrig en in die vyftiger- en sestigerjare van die vorige eeu was hy van die voorste Percherontelers in die land. Hierdie stoet het verskeie nasionale kampioene opgelewer.
Wyle Samuel Walters van Riebeek-Wes, wat van die voorste Shetlandtelers in die land was, was die eerste persoon in die land wat 'n span van agt Shetlands voor 'n wa vertoon het. Mettertyd het Oubaas al sy ponies begin oorneem – later ook die wa en tuie – en nou sit hy hierdie pionier se tradisie met waardigheid voort.
Aangesien Shetlandgetalle in die land vinnig aan die afneem was, was dit juis weens 'n behoefte aan skoukompetisie dat hierdie boer ook Walliese Bergponies aangeskaf het. In 'n stadium het hy meer as 30 van hulle besit. Weens uitgebreide boerderybelange moes hy egter van die Bergponies ontslae raak, maar daar is nog kruisings tussen beide ponietipes op die plaas.
|