|
Soos perde ouer word, verander hulle voedingsbehoeftes, net soos by mense. Daar word algemeen aanvaar dat as perde die ouderdom van 16 of 17 bereik, hulle as "oud" gereken moet word. Tog is daar heelwat voorbeelde van perde wat op daardie ouderdom nog aktief op die hoogste vlak meeding.
Daarom is die goue riglyn volgens Ruth Bishop in haar boek The Horse Nutrition Bible (David & Charles 2003), dat as die perd nie tekens van ouderdom toon nie, hy nie soos 'n ou perd gevoer hoef te word nie.
Bishop verskaf riglyne van hoe om jou ouer perd doeltreffend te bestuur, sodat hy so lank as moontlik 'n aktiewe, gesonde lewe kan lei. Hierdie riglyne sluit onder meer in:
• Monitor sy algemene kondisie.
• Monitor sy vermoë om te bly werk.
• Monitor sy tande en vermoë om te kou.
Monitor die toestand van sy tande gereeld en kyk hoe hy sy voer kou. 'n Perd met tandprobleme laat val dikwels groot hoeveelhede voer uit sy bek.
Swak voeromset sal in die kondisie van die perd wys. Kyk na die mis. As daar heel graan-korrels en lang grashalms in die mis is, is dit 'n teken dat die perd sy kos nie meer behoorlik kan kou nie, wat lei tot swak voeromset.
Perde met swak tande moet 'n hoë-veseldieet volg, maar wat in water geweek is tot 'n pappery, sodat die kos basies ingeslurp kan word sonder dat dit te veel gekou hoef te word. Vermy ook stokkerige voer, en voer blaarryke, sagte hooi.
Die veterane-rantsoen
As jou perd nie meer in staat is om sy normale kondisie te hou op die dieet waarop hy tot nou toe was nie, is dit tyd om oor te skakel na 'n veterane-rantsoen. Daar is heelwat voervervaardigers wat sulke rantsoene maak.
Volgens Bishop neem die proteïenbehoefte van 'n veteraan toe. Waar 'n gemiddelde werkende perd ongeveer 10% proteïen in sy dieet nodig het, verhoog hierdie behoefte in 'n veteraan na ongeveer 12-14% om goeie bespiering en kondisie te behou.
Dit is krities dat die proteïenbron van uitstekende gehalte is, ten einde stres op die lewer te vermy. Maak ook seker dat die niere nog goed funksioneer, want die hoër proteïen plaas 'n ekstra las op die niere. Wanneer daar tekens van nierprobleme is, vermy 'n dieet met hoë proteïeninhoud.
Verder verlaag die vermoë om fosfaat te behou in die veteraan, hoofsaaklik omdat vesel swakker verteer word. Veselbronne moet dus hoog in verteerbare vesel soos sellulose en hemisellulose wees, en laag in onverteerbare vesel soos lignien. Dit geld veral vir perde met swak of min tande. Harde hooi en strooi moet matig gevoer word om die gevaar van impaksiekoliek te verlaag. Perdepille moet eers geweek word.
Dis krities dat al die bestanddele van 'n veteraan se rantsoen hoogs verteerbaar moet wees. Verteerbare energie en olie is goeie energiebronne en grane moet gerol, gemikroniseer of gekook word, om beter absorpsie te bewerkstellig.
Bymiddels
Volgens dr Sarah Ralston van die Rutgers Universiteit in New Jersey, is dit onnodig om 'n veteraan wat 'n goeie, gebalanseerde rantsoen kry, ekstra minerale of vitamiene te voer, tensy daar spesifieke abnormaliteite of voedingstekorte ter sprake is. Die uitsondering, sê sy, is miskien ekstra vitamiene A en E as die gehalte van die weiding of hooi nie goed genoeg is nie.
Een van die redes waarom ouer perde sukkel om kos behoorlik te verteer, is die vermindering van mikroflora (bakterieë wat help met die afbreek van ruvoer om dit meer verteerbaar te maak). Daarom is dit 'n goeie idee om op daaglikse basis vir ouer perde 'n dosis probiotika in te gee.
In 'n artikel op die webwerf www.-thehorse.com, gee dr Ralston 'n paar riglyne by die gebruik van sekere bymiddels:
• Plantolies – Plantaardige olies is uitste-kend vir die behoud van kondisie. Voeg een koppie plantolie per dag by die perd se rantsoen. Vet is 'n goeie bron van -energie, as dit teen minder as 10% van die daaglikse rantsoen gegee word. As die lewerfunksie nie meer optimaal is nie, moet olies -liewer vermy word.
• Krakerige skarniere – Vir gewrigte wat nie meer so lekker skarnier nie, sê sy, is daar 'n aantal middels, onder meer glukosamien, chondroitiensulfaat, metiel-sulfoniel-metaan (MSM) en hialuroonsuur (HA) wat kan help.
Om aan die voedingsbehoeftes van 'n veteraan te voldoen, hoef nie ingewikkeld of moeilik te wees nie. Moenie krap waar dit nie jeuk nie. Slaan slegs oor na 'n veterane-dieet as dit duidelik word dat die huidige dieet nie meer voldoende is nie. Doen dit dan ook net aan die hand van 'n volledige veearts-ondersoek.
|