Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Is daar 'n probleem? (Deel 5)
deur Theresa Odendaal

In die vorige paar uitgawes van SA Horseman, het ons allerlei tipes probleemgedrag wat perde openbaar, beide in die stal en onder saal, bespreek. In die Maart-uitgawe het ons gekyk na steier en bokspring. Hierdie keer kyk ons verder na gedragsafwykings onder saal en tydens werk.

Hek-toe-sleep ("napping")
Dit is dié perd wat wanneer hy in 'n arena werk, net nie verby die hek kan ry sonder om in daardie rigting te dryf, te sleep, of selfs reguit soontoe te probeer hardloop nie. Indien dit nie 'n hek is wat kan toemaak nie, sal hy selfs sy kans probeer vat en probeer uitduik terug stal toe. Hierdie is ook die perd wat nie by die arena wil ingaan nie en viervoetig voor die hek vasskop.

Hierdie tipes gedrag stam af van "tropgedrag". Wanneer 'n perd onseker is, soek hy die trop of sy veilige hawe – die stal – om gebonde te voel. Nietemin, perde is ook nie dom nie en kom gou agter dat hy hierdie gedrag kan gebruik om werk te ontduik en die oorhand bo sy ruiter te kry.

Maak die hek toe! Indien daar nie 'n hek is nie, laat iemand daar staan om die perd se roete af te blok. Plaas die lat in jou buite hand (naaste aan die hek) en neem 'n stewige kontak op daardie buiteteuel om te verhoed dat die perd onder die teuel kan uitkom.

Wees die perd een stappie vooruit. Antisipeer wanneer hy gaan begin dryf en begin hom sterk vorentoe ry nog, vóórdat hy dit kan doen. Indien nodig, herinner hom dat jy -gewapen is met 'n ligte raps op die buite-skouer. Moet hom egter nooit slaan nie, aangesien hy dit meestal reeds uit onsekerheid doen. Wanneer hy verby is sonder om te probeer nap, prys hom vir sy dapperheid, sodat hy gou agterkom wat reg is en wat nie. Dit help soms om die perd agter 'n ander perd te werk.

Wanneer 'n perd nie by die hek wil ingaan nie, mag dit nodig wees dat iemand anders (of 'n ander perd) hom lei. Wanneer hy by die hek ingaan, prys hom. Moet hom nie slaan nie – dit sal sy vrese oor die arena versterk en netnou het jy nog boonop 'n perd wat steier. Doen dit oor en oor tot hy dit heeltemal op sy eie doen.

Perde wat trek
Daar is gewoonlik net een rede waarom 'n perd trek: 'n Hardhandige ruiter. Graaf Pejachevich, 'n uitstekende ruiter met net een arm, is eenkeer gevra waarom sy perde nooit trek nie. "Omdat ek hulle nie kan hou nie," was sy antwoord. 'n Ruiter met harde hande, sal uiteindelik, vir sy moeite, die perd se hele nek, kop en voorkant in sy hande hê om op te hou!

Natuurlik is trek relatief. 'n Groot, sterk perd mag 'n heeltemal aanvaarbare kontak op die stang neem, maar vir 'n ligte, swak, ruiter (of kind) mag dit net te veel wees en is dit nie die regte perd-ruiter kombinasie nie. Nietemin dit kan 'n werklike probleem wees.

So 'n perd moet herskool word om op 'n ligter handkontak te reageer, van sy voorkant af te kom en homself te dra. Dit mag raadsaam wees om aanvanklik 'n sterker stang te gebruik en die perd dermate weer terug te "speen" op 'n sagter kontak en naderhand 'n sagter stang – onthou, 'n sterker stang is nie altyd die -antwoord of permanente oplossing nie.

Verder word perde wat leun dikwels as trekkers ervaar, maar dit is nie noodwendig die geval nie. Perde wat leun is gewoonlik ongebalanseerd en die probleem is nie soseer voor, as wat dit is dat die perd nie sy agterkwart onder hom wil inbring en homself dra nie. Dit is nodig om so 'n perd aktief vorentoe te ry, sy agterkwart aan die werk te kry en jou kontak voor ligter te maak.

Doen 'n eksperiment. Druk vir lank met jou een vinger op jou arm. Na 'n ruk is jy nie meer bewus van die drukking nie. As jy egter met die vinger druk en los, druk en los, bly jy bewus van die vinger. 'n Perd se bek werk net so. As jy 'n dooie trek op sy bek sit, of sy bek gebruik om jouself te balanseer, gaan sy bek naderhand dood raak en hy jou nie meer voel nie (dit is dan wat hy jou ewe gerieflik as 'n vyfde been gaan begin gebruik om op te leun).

Indien jy egter met jou vingers lig en beweeglik op die teuels is ('n elastiese en nie 'n pap kontak nie) en kort-kort 'n "half-halt" gee om sy aandag te behou, terwyl jy hom positief vorentoe ry, sal hy dit nie doen nie.

Perde wat trek omdat hulle vinniger wil gaan, is dikwels ook ongebalanseerd of probeer selfs van die stang wegkom. Hulle wil spoed vermeerder om hulleself te dra of om van die ongemak van 'n te sterk stang weg te kom. 'n Ruiter wat gevolglik sy bene afhaal en net op sy hande ry, gaan die probleem net vererger. Indien dit 'n energieprobleem is, kan die perd eers gelonseer word om van die oortollige energie ontslae te raak (alhoewel dit nie is waarvoor lonsering gebruik behoort te word nie), maar begin om so 'n perd vorentoe te ry.

Gebruik "half-halte" om die perd terug te bring en sy bek weer te begin sensitiseer. Die perd moet homself leer balanseer, en namate hy agter sterker word, sal hy homself beter kan dra en minder op spoed of sy "vyfde been" staatmaak.

Onthou: "Half-halt" is nie 'n pluk op die teuels nie. Dit is "terugbring" op (meestal) die buiteteuel, gepaardgaande met aktiewe vorentoe dryf van been en sitvlak, sodat die perd vir 'n split-sekonde heeltemal "bymekaarkom" en dien om 'n perd te balanseer en sy aandag te hou.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.