Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Gee jou perd ’n blaaskans
deur Paul van Dam

Uithouritte was vroeër ’n seisoenale sport, met ritte van Januarie tot Mei en Fauresmith in Julie. Die prentjie het egter -verander, en daar is nou ritte reg deur die jaar. Perd en ruiter kan ook al met die eerste rit na afloop van vanjaar se Fauresmith 2009, begin kwalifiseer vir volgende jaar se Fauresmith 2010. En só word die druk op ons perde al groter.

Fauresmith 2009 lê voor die deur. Wat doen mens as dit agter die rug is? Hou jy aan oefen, of gee jy jou perd ’n blaaskans? Of moet die blaaskans maar wag tot die perd teen Afrika Perdesiekte ingeënt word?

Beplande rus
Daar is geen twyfel dat kompetisieperde wel ’n blaaskans nodig het om te herstel van die voortdurende druk van kompetisies en die stres wat met die kompetisie self én die vervoer na en van byeenkomste, gepaardgaan. Enige goed beplande oefenprogram moet voorsiening maak vir ’n blaaskans.

Dit beteken darem nie dat die perd nou absoluut tot stilstand moet kom, en iewers in ’n klein kampie aan sy lot oorgelaat moet word nie. ’n Beplande blaaskans is steeds ’n aktiewe tydperk, en die perd behoort twee of drie keer per week sommer vir die lekker ’n ent gery te word.

Die voordele daarvan is dat die perd ’n laer vlak van fiksheid en sy spiere hulle krag en soepelheid behou, wat dan weer beteken dat dit minder moeite gaan wees om die perd weer in top vorm te kry wanneer mens weer wil begin deelneem aan ritte. Dit geld vir alle perde, maar is veral belangrik vir die ouer garde by wie dit langer neem om fiksheid weer op te bou na ’n rusperiode.

Wat behoort ons dus te doen?
Baie ruiters bou hulle perde op met die doel om aan die Fauresmith 200 deel te neem. Dit beteken dat, wanneer perd en ruiter oor Fauresmith se eindstreep ry met “Chariots of Fire” wat oor die luidsprekers blêr, die perd ’n harde seisoen agter die rug het. Groot is die versoeking dan om dadelik maar weer aan te gaan en aan ’n volgende rit te gaan deelneem, binne ’n week of drie na Fauresmith. Maar dis beslis nie in belang van jou perd se langtermyn loopbaan nie.

Na ’n hoogtepunt soos Fauresmith (en soortgelyke hoogtepunte soos ’n Drie-Nasies of Walvisbaai), behoort daar ’n blaaskans in die perd se oefenprogram te wees. ’n Blaaskans van ’n maand, met ’n lekker uitrit twee keer ’n week (teen laer spoed en intensiteit as wanneer die oefenprogram op sy piek is) gee alle strukture in die liggaam kans om te herstel van die mikroskade waarvan ons nie bewus is nie, omdat die perd niks wys nie. Terselfdertyd behou die perd ’n groot mate van fiksheid en spierkrag, wat dit ’n wen-wen situasie maak.

Natuurlik bestaan ’n voorbereidings-program nie uit oefening alleen nie. Voe-ding en hoefbeslag is ook faktore wat in aan-merking geneem moet word. Sny die voer na ’n onderhoudsvlak. Dis altyd ’n goeie idee om vir die eerste drie dae na ’n groot rit, minimum kragvoer en maksimum hooi te gee. Na hierdie paar dae kan die kragvoer weer vermeerder word tot ’n onderhouds-vlak, wat tussen helfte en twee-derdes van jou kompetisievlak sal wees. Vrye toegang tot grashooi is belangrik en moet deurlopend volgehou word.

Indien die terrein waar jy lig gaan ry dit toelaat, sou dit goed wees om skoene ook af te trek. Dis egter nie altyd moontlik nie, en mens moet dit maar met die hoefsmid bespreek voor jy ’n besluit neem.

Ten slotte
Gee jou perd ’n maand af, en geniet dit weer om net lekker saam met hom te ry. Dit lei tot minimale verlies aan kardiovaskulêre fiksheid.

Maar onthou, wanneer jy weer begin regmaak vir deelname, moet die werksintensiteit geleidelik verhoog word. Moenie een dag lekker uitry teen 14 km per uur, en die volgende dag al die perd vir ’n uur lank op ’n vol gallop teen 40 km per uur ry nie! Sou die tydperk langer as ’n maand wees, is die goue reël: Vir elke ekstra maand se rus, sal jy ’n maand nodig hê om jou perd weer fiks te kry.

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.