Login / Register You are not logged in.

Featured ads

How can I feature my ad?

Vry om te beweeg
deur Paul van Dam

Spierpese (of "tendons", soos almal dit ken) bly maar een van die grootste oorsake van hartseer onder ruiters. Baie moes uitstekende perde laat aftree weens beserings aan spierpese. Dis hoofsaaklik die gevolg daarvan dat die inherente vermoë van spierpese om te herstel, laag is.
Dit is omdat spierpese 'n hoë persentasie ekstrasellulêre matriks, lae aantal selle en relatiewe swak bloedvoorsiening het. Die vermoë om te herstel is só swak, dat dit algemeen aanvaar word dat die spierpese van perde ouer as twee, geleidelik agteruit gaan totdat hulle uiteindelik nie meer die eise van prestasiesport kan hanteer nie, en ingee.

Hoe kan ons verseker dat die spierpese van die perd waarmee ons aan sport wil deelneem, so sterk as moontlik is aan die begin van sy mededingende loopbaan?

Uitwerking van oefening

Al hoe meer proefnemings word gedoen om te bepaal wat die uitwerking van oefening op die ontwikkeling van spierpese is. In die natuur, waar vullens saam met hulle moers op weiding loop, beweeg hulle heelwat rond – hoofsaaklik op 'n stap, bietjie op 'n draf en nie meer as 'n totaal van ongeveer 3-3½ minute per dag op 'n gallop (gewoonlik oor kort afstande van nie meer as 40 meter nie).

In een proefneming is 43 vullens, een week na geboorte, in drie groepe verdeel. Een groep is saam met hulle moers op stal gehou, sonder enige oefening. Die tweede groep is op stal gehou en daagliks vir 3-4 minute aan geforseerde oefening blootgestel. Die derde groep is saam met hulle moers op weiding aangehou, waar hulle vrylik kon beweeg. Na vyf maande is die struktuur van die oppervlakkige buigpees bekyk.

Daar is gevind dat die groep wat op weiding aangehou was, se buigpese dikker en sterker was as dié van beide die ander groepe, maar dat dit nie meer elasties was nie (dit kon nie verder uitgerek word voordat dit geskeur het nie). Dit kon wel die stremming wat met die uitrek gepaard gaan, beter hanteer, en was meer buigsaam. Die spierpese van die groep wat op stal gehou was, was die styfste van die drie groepe.

Die buigsaamheid of styfheid van spierpees, word bepaal deur die verhouding tussen dun (klein deursnit) teenoor dik (groter deursnit) kollageenfibrille. Hoe meer dun fibrille daar is, hoe meer buigsaam is die pees.

By geboorte is daar hoofsaaklik dik fibrille in alle spierpese; sodra die vul begin beweeg en aan oefening blootgestel word, verander hierdie situasie. By volwasse perde is daar baie meer dun as dik fibrille in die oppervlakkige buigspierpees; vandaar dat dit meer buigsaam (elasties) is.

Die eksperiment met die pasgebore vullens, wat vanaf week een aan oefening blootgestel was, het bewys dat oefening beslis 'n invloed het op die uiteindelike samestelling van die buigspierpese.

Op ouderdom vyf maande, was daar baie meer dun as dik fibrille in die spierpese van die groep vullens wat op weiding gehou was (dus meer 'n volwasse tipe samestelling), terwyl die vullens wat op stal gehou was se buigspierpese weer meer dik as dun fibrille bevat het (dus meer ‘n "baba"-samestelling).

Al drie groepe is vanaf ouderdom 5-11 maande in 'n groot stal aangehou, en is vir net twee ure per dag in 'n groterige kamp uitgelaat. Op elf maande het die groep wat aanvanklik op weiding aangehou was, steeds 'n groter persentasie dun fibrille as die ander twee groepe gehad.

Dis nie duidelik presies tot op watter ouderdom die spierpese kan ontwikkel om so beter voorbereid te wees op 'n sportloopbaan nie. In ander proefnemings wat gedoen is om die uitwerking van oefening op spierpese te bepaal, is begin met perde wat reeds 18 maande oud was.

Daar is gevind dat die oefening geen uitwerking op die spierpese gehad nie. Dit lyk dus asof mens die vul vroeg in sy lewe al genoeg ruimte gegee moet word om te kan rondbeweeg soos hy lus het.

Weiding het voordele

In nog 'n proefneming is vullens wat buite op weiding aangehou is, in twee groepe verdeel. Een groep is net op die weiding gelos, en die tweede groep is elke dag ook op 'n trapmeul geoefen. Hoewel dit aanvanklik daartoe gelei het dat die spierpese dikker geword het, het die ontwikkeling van die eerste groep later opgevang, en was daar op ouderdom 15 maande geen verskil tussen die twee groepe nie.

Dit wil dus lyk of vullens wat op weiding aangehou word, genoegsame oefening kry vir die spierpese om ten volle te ontwikkel.

Wat mens natuurlik ook in gedagte moet hou, is dat die herstelvermoë van alle weefsels in jong perde veel beter is as in ouer perde. So, hoewel dit lyk asof dit nie vir die spierpese voordelig is om op 'n jong ouderdom aan oefening blootgestel te word nie, is dit waarskynlik ook nie nadelig nie, omdat hulle op daardie stadium nog die vermoë het om te herstel.

Baie navorsing moet nog gedoen word, maar dit lyk al hoe meer dat dit voordelig is om perde op jong ouderdom reeds te oefen. Hierdie oefening kan help om ander strukture, soos been (lees artikel elders in die uitgawe) te versterk, sonder dat dit nadelig is vir spierpese.

Dis natuurlik lynreg in teenstelling met dit wat ons almal altyd geglo het!

Top of page

Copyright © 1998 - 2012, Horse Junction. All rights reserved.