Die kwessie van wreedheid teenoor diere lê maar altyd op die horison vir ons perdeliefhebbers. Waar ons intense plesier uit ons kontak met ons perde put, en ons daarvan oortuig is dat ons perde nêrens anders so 'n goeie lewe sal kan hê as by ons nie, is ons maar al te bewus van hoeveel perde bewustelik en onbewustelik onder ander mense se hand aan die kortste ent trek.
Twee insidente die afgelope paar maande het my laat besef tot watter mate ek eintlik, as dit oor wreedheid gaan, myself in 'n veilige omgewing verskans het. Die mense met wie ek op 'n daaglikse basis handel, voel almal basies dieselfde as dit kom by die hantering en bestuur van hulle perde.
Die gevolg is dat ek eintlik min met blatante wreedheid teenoor perde in aanraking kom. As daar dan wel 'n voorval onder my aandag kom, is dit soveel te meer 'n skok. Die werklikheid is egter dat wreedheid daagliks plaasvind.
Die insidente waarna ek verwys word elders in hierdie uitgawe van SA Horseman hanteer. Die eerste is die artikel deur Em Bonsma oor perdediefstal op die Lesotho-grens, en die tweede gaan oor die onlangse hofsaak waarin 'n persoon 'n swaar straf opgelê is op grond van die wrede manier waarop sy 'n perd sogenaamd “geleer” het.
Die presedent wat hierdie hofuitspraak nou skep, sal hopelik veroorsaak dat wreedheid voortaan wetlik in 'n baie ernstiger lig gesien sal word as voorheen.
In beide gevalle het die werk van mense en instansies na vore gekom wat hulle onverpoos daarmee besig hou om die lot van daardie ongelukkige perde wat wel in die hande van wreedaards val, te verbeter. SA Horseman bring hulde aan hierdie mense.
Maar ek wil ook ons eie verantwoordelikheid om wreedheid te beveg, beklemtoon. Niks gebeur vanself nie. Dit begin by die aksie van een indiwidu. Een persoon neem die stap om 'n voorval aan te meld en dan sneeubal dinge soos meer mense daarby betrek word. Of, soos in die geval van die Swartberg Veediefstalvoorkomingsvereniging, was dit 'n klein groepie mense wat probeer het om anders na 'n probleem te kyk om oplossings te vind.
Dit is ons verantwoordelikheid om hierdie mense en instansies op alle moontlike maniere te ondersteun. Ons kan dit finansieel doen, maar ook deur persoonlike betrokkenheid. Elkeen van ons kan 'n "agent" teen wreedheid word deur gevalle aan te meld as ons daarvan bewus raak.